Desember 2017 Read this article in English
Terug na die Liberty Nuusbrief
Hoe die mediumtermynbegroting jou beleggings beïnvloed
 
Deel hierdie artikel:

Die mediumtermyn-begrotingsraamwerk (MTBR) wat die minister van finansies, Malusi Gigaba, op 25 Oktober aangebied het, het ʼn uiters droewige prentjie van die staat se finansies geskets.

Die bestedingsplafon is met bykans R4 miljard oorskry as gevolg van die reddingsboei aan die SAL. Daar is ʼn tekort van meer as R50 miljard op belastinginvordering en ons skuldvlakke is besig om te styg, met die verhouding van staatskuld tot die BBP wat na verwagting oor die volgende drie jaar tot bo 60% sal styg. Voeg dit by die baie lae groeivooruitsigte en ons het ʼn perfekte resep vir verdere afgraderings van Suid-Afrika se kredietstatus.
In Junie vanjaar het al drie die belangrikste graderingsagentskappe aangedui dat hulle bekommerd is oor, onder meer, swak ekonomiese groeivooruitsigte, ʼn oorskryding van die bestedingsplafon, voorwaardelike aanspreeklikheid vir ondernemings in staatsbesit (soos die SAL en Eskom) en fiskale skuld. Hierdie bekommernisse is vererger, eerder as hanteer, deur die jongste begrotingsraamwerk. ʼn Verdere afgradering sal die verdere verlangsaming van ekonomiese groei veroorsaak, namate beide sake- en verbruikersvertroue daal.

Buitelandse beleggersvertroue in Suid-Afrika as ʼn beleggingsbestemming sal daal, wat sal lei tot die verswakking van die rand. Hoër inflasie sal ʼn werklikheid wees. Namate ons inflasie in Suid-Afrika teiken kan dit tot hoër rentekoerse aanleiding gee, wat beide verbruikersbesteding en sakebeleggingsuitgawes sal knou. Alles in ag genome, beteken dit dat toekomstige ekonomiese toestande in Suid-Afrika binne die afsienbare tyd onder besonder hoë druk sal wees. Boonop is daar onsekerheid oor die uitkoms van die komende ANC-leiersverkiesings tydens hul Desember-konferensie.

Wat behoort jy te doen?
Die belangrikste aspek is om nie paniekerig te raak en halsoorkop te reageer nie. Jy moet verstaan hoe hierdie faktore die onderskeie beleggings beïnvloed. Navorsing het getoon dat beleggers wat hul beleggings oor die lang termyn behou, beter vaar as diegene wat gereeld probeer om markbewegings te antisipeer in die hoop op die beste opbrengs. Dit is bykans onmoontlik om die mark aanhoudend suksesvol te antisipeer (timing the market) en die meeste professionele beleggers vermy dit.
Ten opsigte van ons geldeenheid word die meeste van die slegte nuus reeds in die waarde van die rand, wat direk ná die aankondiging van die MTBR gedaal het, weerspieël. Enige buitelandse belegging behoort gedoen te word as deel van ʼn holistiese finansiële plan wat diversifikasie insluit, eerder as gevolg van bespiegelinge oor wat die volgende beweging van die rand sal wees.
Om jou aandele op die aandelemark te verkoop sou ʼn ondeurdagte besluit gewees het, aangesien die indeks van alle aandele op die JSE ná die begrotingstoespraak gestyg het, hoofsaaklik as gevolg van die swakker rand. Die meerderheid van die grootste maatskappye in Suid-Afrika verdien buitelandse inkomste en baat by ʼn swakker geldeenheid.
Terwyl staatseffekte gedaal het aangesien hulle kapitaalwaarde verloor het, het die opbrengste verhoog. Dit beteken dat Suid-Afrikaanse effekte, of spesifiek korporatiewe bankeffekte, baie aantreklik kan wees vir iemand wat afhanklik is van ʼn inkomste.
Praat eerder met jou finansiële adviseur oor jou spesifieke behoeftes en die oplossings wat by Liberty beskikbaar is, as om halsoorkop besluite te neem. Die moontlikhede sluit in:

  • Die buitelandse uitkeerpolis-plan
  • Risiko-geprofileerde portefeuljes, met ʼn passiewe komponent, wat onlangs deur Liberty bekendgestel is
  • ʼn Hoogwatermerkwaarborg-eienskap wat op ons Agile- en Bold-produkte aangebied word, stel beleggers in staat om in riskanter portefeuljes te belê, sonder beduidende afwaartse risiko.

Ons standpunt is dat die beste manier om hierdie onbestendigheid en onsekerheid te hanteer, is om aan te hou om te belê. Ons bied ʼn wye keuse portefeuljes wat aan kliënte die beste geleentheid gee om hul langtermyndoelwitte te bereik.

Kernfeite uit die begroting

  • ʼn Verwagte tekort in belastinginkomste van R50,8 miljard in 2017-’18, R69,3 miljard in 2018-’19 en R89,4 miljard in 2019-’20
  • Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsig vir 2017 is afwaarts aangepas van 1,3% tot 0,7%

Uitgawes:

  • ʼn Gebrek aan uitgawebesnoeiing oor die periode (stygende salaris- en lonerekening in die openbare sektor)
  • Daar word voorspel dat die grootste deel van uitgawes (die dienskoste van skuld) 15% van die ingesamelde belastinginkomste sal beloop
  • Die bestedingsplafon:
    • Vorige begrotingsberamings was ʼn vermindering van ongeveer R10 miljard in 2017-’18 en R16 miljard in 2018-‘19
    • Dié plafon is nou met R3,9 miljard verhoog. Minister Gigaba het aangedui dat ʼn gedeelte van Telkom-aandele verkoop sou word om ‘n skending te voorkom.

ʼn Gebrek aan stabilisering van die staatskuld-tot-BBP-verhouding:

  • Die vorige begrotingsberaming vroeër vanjaar was 48%
  • Tans is die voorspelling 60% oor die volgende drie jaar

Stygende fiskale tekort:

  • Dit het van ʼn vorige begrotingsberaming van 3,1% gestyg tot 4,3% van BBP

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Jou Boedel
Moenie uit die graf regeer nie
Regsbemarkingspesialis, Geraldine Macpherson, deel lesse geleer oor wat om in te sluit en te vermy wanneer jy jou testament opstel.
Lees meer...
Jou 2017
Dit is tyd om agteroor te sit en die jaar in oënskou te neem
Namate die jaar ten einde snel, is dit die ideale tyd om die afgelope jaar in oënskou te neem sodat jy die nuwe jaar met selfvertoue en entoesiasme kan begin.
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.