Desember 2017 Read this article in English
Terug na die Liberty Nuusbrief
Die moets en moenies van ʼn omvattende testament
 
Deel hierdie artikel:

Liberty Regsbemarkingspesialis, Geraldine Macpherson, deel lesse geleer oor wat om in te sluit en wat om te vermy wanneer jy jou testament opstel

Moenie uit die graf regeer nie
Wees versigtig om nie te voorskriftelik te wees in jou testament en so te poog om beheer uit te oefen ná jou dood nie. Dit gee gewoonlik aanleiding tot hofsake, wat die afhandeling van jou boedel vertraag en prokureurs ryk maak.
Daar was onlangs ʼn hofsaak in Pretoria waar ʼn pa in terme van ʼn handgeskrewe testament sy hele boedel aan sy twee dogters nagelaat het, en niks aan sy seuns nie, aangesien hulle gerook het en hy gedreig het om hulle te onterf tensy hulle ophou. Een van sy seuns het die testament betwis op grond daarvan dat dit handgeskrewe was, geteken deur die oorlede vader en sy sekretaresse as getuie. Die hof het die geldigheid van die testament gehandhaaf, maar dit het vertragings veroorsaak. Dus moet jy baie mooi dink voordat jy jou kind of gade onterf.
Vermy ook om jou testament te gebruik as ʼn meganisme om jou nasate te beheer terwyl jy nog lewe. Daar was ʼn baie suksesvolle, ryk sakevrou wat voortdurend haar testament hersien het telkens wanneer ʼn familielid in onguns beland het. Hoewel sy ʼn “gunstelingnefie” gehad het aan wie sy in ʼn vorige testament die grootste deel van haar boedel nagelaat het, het sy net voor haar dood van plan verander en haar boedel gelykwaardig aan haar nasate bemaak. Die nefie het die testament betwis en die saak verloor. Dit het slegs tot vertragings en onnodige kostes gelei en vyandskap tussen familielede veroorsaak.

Jou testament verpersoonlik jou nalatenskap – hou dit dus eenvoudig en prakties
Laat toe dat dit diegene wat jy verkies bevoordeel, maar soos húlle verkies. Indien daar wesenlike bekommernisse is oor hul vermoë om die erfenis verstandig te gebruik, byvoorbeeld sou ʼn kind moontlik ʼn dwelmverslaafde wees, oorweeg dan om die bates aan ʼn testamentêre trust waarvan die persoon ʼn begunstigde is, te bemaak. Só kan die persoon die inkomste geniet en miskien toegang tot kapitaal hê waar toepaslik, maar nie in staat wees om die rykdom te verkwis nie.

Maak seker jy beskerm jou kinders se erfenis
Maak altyd voorsiening vir ʼn testamentêre trust indien jy minderjarige kinders het. Dit is ʼn trust wat in die testament vasgelê word. Sluit ook altyd die kwessie van voogdyskap vir minderjarige kinders in.
Indien jy volwasse erfgename het, kan jy hul erfenis teen ʼn egskeidingsooreenkoms of insolvensie beskerm. Jy kan byvoorbeeld aandui dat die erfporsie nie deel van jou kind se boedel uitmaak nie, sou hulle trou. Jy kan ook hul erfenis beskerm sou hul boedel bankrot raak deur ʼn klousule in te sluit wat bepaal dat sou ʼn begunstigde insolvent wees, hul voordeel nie aan hul uitbetaal sal word nie, maar aan hul nasate of hul broers en susters.

Moenie klousules wat onwettig is insluit nie
ʼn Uiters basiese beginsel is dat slegs jy jou bates kan nalaat. Jy kan dit nie uitkontrakteer aan iemand anders nie, byvoorbeeld, om jou hele boedel aan een kind na te laat wat moet besluit wie erf wat, of om dit aan die eksekuteur se diskresie oor te laat nie. Jy kan ook nie die handves van menseregte in jou testament oortree nie. Jy kan byvoorbeeld nie bepaal dat jy jou boedel aan jou kind nalaat, op voorwaarde dat sy van haar man skei nie, of jou boedel aan jou kleinseun nalaat op voorwaarde dat hy nooit met iemand van ʼn ander ras of geslag mag trou nie. Jy kan ook nie ʼn nalatenskap direk aan jou troeteldiere maak nie, hoewel jy ʼn bemaking aan ʼn instansie kan maak en bepaal dat dié instansie na jou troeteldiere moet omsien.

Moenie toelaat dat begunstigdes die testament as getuies onderteken nie
Niemand wat finansieel uit die boedel bevoordeel word, behoort die testament as getuie te onderteken nie. Dit sluit in die begunstigdes, die eksekuteur, die trustee (wat ʼn fooi kan hef), of die gade van enige van hierdie individue. Indien hulle wel as getuies teken, sal daar ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien moet word (met die uitgawe teen die boedel gehef) om die testament, en in werklikheid die nalatenskap, geldig te verklaar. Dit sal lei tot onnodige kostes en ʼn vertraging in die afhandeling van die boedel.

Herroep vorige testamente
Wanneer jy jou testament opstel moet jy ʼn bepaling dat jy alle vorige testamente herroep insluit. Verwarring ten opsigte van die finale testament kan wetlike implikasies hê. Sou die testamente min of meer dieselfde lui en nie teenstrydig of dubbelsinnig wees nie, sal aan almal uitvoering gegee word. Maar, indien daar enige teenstrydighede voorkom, kan nie een daarvan met betrekking tot daardie spesifieke bate(s) uitgevoer word nie en sal sodanige bate(s) ingevolge erfopvolging by versterf (testamentloosheid) aan iemand toeval. Dit beteken dié bates sal verdeel word asof jy dit nie in enige testament ingesluit het nie. Hou ook in gedagte dat, indien jy ʼn buitelandse testament het, jy dit ook herroep indien alle vorige testamente herroep word, wat heel moontlik nie jou bedoeling is nie. Jy behoort versigtig voort te gaan en advies te kry oor die korrekte bewoording om te verseker dat jou buitelandse testament geldig bly.

Hersien jou testament so dikwels moontlik
Jy moet jou testament gereeld hersien. Indien jy sou trou maar nie jou testament aanpas om byvoorbeeld jou ouers as begunstigdes te verwyder nie, sal jou ouers jou erfgename wees, en nie jou gade nie. Jou gade sal slegs daarop geregtig wees om onderhoud te eis in terme van die Maintenance of Surviving Spouses Act. En, indien julle slegs saam woon (selfs vir talle jare) sal jou lewensmaat, indien daar nie ʼn testament is nie, in werklikheid geen regte hê nie, aangesien hy of sy nie as gade erken sal word nie. Indien jy skei, het jy drie maande om jou testament te hersien, en indien jy dit nie doen nie en ná die drie maande te sterwe kom, sal die testament waarin jy alles aan jou (nou) vorige gade nalaat, geldig wees. Indien jy binne die tydperk van drie maande sterf, sal jou vorige gade nie erf nie, tensy jy ná die egskeiding ʼn nuwe testament opgestel het. Onder hierdie omstandighede sal jou vorige gade hanteer word asof hy of sy voor jou te sterwe gekom het, dus sal enige klousule in jou testament oor gesamentlike sterfte van toepassing wees, of indien geen alternatiewe begunstigdes in jou testament benoem word nie, sal jou boedel by wyse van erfopvolging by versterf afgehandel word.

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Jou Boedel
Moenie uit die graf regeer nie
Regsbemarkingspesialis, Geraldine Macpherson, deel lesse geleer oor wat om in te sluit en te vermy wanneer jy jou testament opstel.
Lees meer...
Jou 2017
Dit is tyd om agteroor te sit en die jaar in oënskou te neem
Namate die jaar ten einde snel, is dit die ideale tyd om die afgelope jaar in oënskou te neem sodat jy die nuwe jaar met selfvertoue en entoesiasme kan begin.
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.