April 2017 Read this article in English
www.Liberty.co.za
Hoe om jouself te betaal en nie die belastinggaarder nie
 
Deel

Indien jy ongelukkig is omdat jy belasting moet betaal, begin om belastingvry te belê

Die werklikheid is dat jy, selfs indien jy nie ʼn hoëinkomste-verdiener is nie, meer belasting sal betaal as gevolg van beide “drempel-kruiping” (wanneer belastingtabelle nie aangepas word by inflasie nie) en as gevolg van hoër dividendbelasting.

Gelukkig is daar metodes om jou belastingaanspreeklikheid te verminder en welvaart vir jou toekoms te skep. Ons fokus op die beste belastingbesparingsopsies, gebaseer op vier inkomste-scenario’s.

Eerste werk, verdien R8 000 of minder:
Indien jy oor die volgende 20 jaar gaan spaar, sal daar beduidende inkomste- en dividendbelasting ter sprake wees, dus moet jy verseker dat jy in ʼn belastingvrye spaarrekening (Tax-Free Savings Account [TFSA]) belê. Om deur middel van so ʼn rekening te belê, kan jy jou finale opbrengs met 36% verhoog. Die goeie nuus is dat die toegelate bedrag wat jy in ʼn belastingvrye spaarrekening kan belê tot R33 000 per jaar verhoog is.

Begin ook om tot ʼn aftree-annuïteit by te dra sodra jou inkomste R10 000 oorskry, aangesien jy dan voordeel kan trek uit inkomstebelastingkorting.

Korporatiewe bevorderings en beweging na hoër belastingkerwe:
Benewens ʼn belastingvrye spaarrekening, kan jy ook jou portefeulje diversifiseer met ʼn belegging in effektetrusts. Hoewel dividende teen 20% belas sal word, is slegs kapitaalwins bo R40 000 en rente bo R23 800 belasbaar. Ten einde jou belasbare inkomste te verminder, behoort jy soveel moontlik tot jou aftreefonds by te dra. ʼn Individu wat in die vorige belastingjaar R410 000 verdien het en ʼn inflasieverwante salarisverhoging van 7% ontvang, sal vanjaar bykans R8 000 meer belasting betaal. Jy kan egter die bedrag wat jy aan belasting betaal verminder deur die bedrag wat jy tot jou aftreefonds bydra, te verhoog. Jou bydraes tot op 27,5% van jou inkomste sal belastingaftrekbaar wees – onderhewig aan ʼn jaarlikse limiet van R350 000.

Op die hoogste belastingkerf:
Individue wat R1,5 miljoen of meer verdien, het min buigsaamheid om die hoër inkomstebelastingkoers te neutraliseer deur hul aftreefondsbydraes te verhoog indien hulle reeds die perk van R350 000 bereik het. Indien jy reeds die toegelate bedrag bydra, kan jy oorweeg om bykomende bydraes (nie-aftrekbare bedrae) tot die aftreefonds te maak, aangesien jy steeds bevoordeel sal word uit die belastingvrye groei in die fonds. Jou nie-aftrekbare bydraes sal by aftrede belastingvry wees, ongeag of jy ʼn enkelbedrag of ʼn annuïteit uit die fonds onttrek. Nietemin, indien jy voortydig te sterwe kom, is die nie-aftrekbare bydraes wat ná 1 Maart 2015 gemaak is tans in jou boedel as eiendom belasbaar in terme van boedelbelasting.

ʼn Ander opsie wat al hoe aantrekliker raak vir hoëinkomste-verdieners is uitkeerpolisse. Uitkeerpolisse wat deur natuurlike persone besit word, is onderhewig aan inkomstebelasting van 30% en ʼn effektiewe KWB-koers van 12%. Dit is beduidend laer as die hoogste marginale belastingkoers van 45% en die effektiewe kapitaalwinsbelastingkoers van 18%.

Jy kan ook geld skenk aan ʼn goeie saak deur middel van bydraes tot ʼn geregistreerde openbare weldaadorganisasie, waarvoor jy ʼn aftrekking van tot 10% op jou belasbare inkomste kan terugeis. Midde oproepe vir meer beleggings in opvoeding, is daar talle geleenthede vir individue met ʼn hoë netto waarde en maatskappye (regspersone) om by te dra tot beurse en opvoedingskemas.

Om op ʼn pensioen te leef:
Indien jy beleggings buite ʼn aftreefondsstruktuur het, sal die verhoging van 15% tot 20% in die terughoudingsbelasting op dividende jou dividendinkomste verminder. Dit beklemtoon die voordele van ʼn aftreefondsstruktuur waarbinne geen belasting op groei of dividende binne die fonds gehef word nie, hoewel inkomstebelasting betaalbaar is by onttrekking.

Afgetredenes tussen 60 en 74 betaal geen belasting op enige inkomste tot op R117 300 per jaar nie, terwyl afgetredenes 75 jaar en ouer geen belasting betaal op inkomste tot op R131 150 per jaar nie. Verder sal rente wat verdien word tot op R34 500 vrygestel wees. Indien jou belastingkoers bo 20% is, kan dividendinkomste uit aandele meer voordelig wees as ander beleggings. Nogtans, indien jou gemiddelde belastingkoers minder as 20% is, is dit dalk raadsaam om die aard van jou beleggings te hersien ten einde die grootste belastingvoordeel te kry.

ʼn Uitkeerpolisstruktuur sal slegs sinvol wees vir ʼn afgetredene met ʼn belastingkoers bo 30% en ʼn uitkeerpolis sal steeds dividendbelasting binne die fonds betaal. Jy kan dalk in die versoeking wees om jou diskresionêre fondse na ʼn aftreestruktuur te verskuif, maar dit kan as ʼn besteding beskou word en KWB-implikasies hê. Jy sal beperk word tot ʼn onttrekking van 17,5%.

Dit is belangrik om jou finansiële adviseur te raadpleeg om te verseker dat jy oor die beste bate-toewysing tussen jou aftreefondsstruktuur en diskresionêre fondse beskik om die grootste belastingvoordeel te kry.

Aftrede
 
Bestuur jou inkomste tydens aftrede
 
Hoe vroeër jy jou afreebeplanning begin, hoe beter. Indien jy nie daarin slaag om effektief te beplan nie, kan jy vind dat jy jou leefstyl sal moet afskaal.
 
Lees meer...
Leefstyl
 
Vertraag te veel doelwitte jou pas?
 
Ongeag of jou doelwitte om gesondheid, werk, finansiële of persoonlike groei sentreer, dit is belangrik om te verseker dat hulle beide haalbaar en realisties is.
 
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.