Augustus 2017 Read this article in English
Pasop vir skelmstreke (scams): Identifiseer die bedrieërs
 
Deel hierdie artikel:

Namate tye moeiliker raak en die markte nie beduidende opbrengste lewer nie, was daar ʼn skerp toename in beleggingsbedrog. Ongelukkig is dit gewoonlik diegene wat dit die minste kan bekostig om geld te verloor wat die prooi van gewetenlose bedrieërs word.

Die soorte bedrog strek van passiewe inkomste-sakegeleenthede en geoutomatiseerde buitelandse valuta-handelsportefeuljes tot Bitcoin-verwante geleenthede. Terwyl die “besigheidsbeginsels” wat agter die swendelarye skuil mag verskil, toon hulle almal sekere kenmerke.

Vier kenmerke van twyfelagtige beleggingsgeleenthede

1. Net genoeg waarheid om geloofbaar te wees
Bedrieërs is geneig om konsepte te gebruik wat vaagweg aan mense bekend is en waaroor daar publisiteit van groot winste was – soos buitelandse valuta-verhandeling, finansiëletegnologie (fintech) of Bitcoin. Nietemin, aangesien die meeste mense nie ten volle bewus is hoe dié dinge eintlik werk nie, is dit maklik vir bedrieërs om tegniese jargon te gebruik om geloofwaardig te klink, terwyl die beleggers te min kennis het om tersaaklike vrae te vra.

WENK: Indien jy wil belê in iets wat vir jou onbekend is, doen eers jou navorsing; word ʼn kenner.

2. Hoë opbrengs en geen risiko
Swendelarye maak almal daarop aanspraak dat dit laerisiko-geleenthede is, nogtans waarborg feitlik almal bogemiddelde opbrengste. Dit is belangrik om te verstaan dat opbrengs uit risiko voortspruit.

ʼn Goeie voorbeeld is VSA-staatseffekte teenoor Suid-Afrikaanse staatseffekte. Die 10-jaar US Treasury bond lewer aan beleggers ʼn opbrengs van net meer as 2%, terwyl Suid-Afrikaanse staatseffekte teen hoër as 8% verhandel. Dit is aangesien beleggers glo die risiko dat die Amerikaanse regering nie hul betalingsverpligtinge op skuld kan nakom nie veel laer is as dié van die Suid-Afrikaanse regering. Die moontlikheid dat die rand in verhouding tot die dollar kan devalueer, is ook groter. Beleggers kan daarom in die lig van die waargenome risiko slegs met ʼn hoër rentekoers gelok word om in Suid-Afrikaanse staatseffekte te belê.

In Suid-Afrika word die risikovrye koers gebaseer op die rente wat op ʼn bankdeposito betaal word. Enige hoër koers veronderstel dat daar ʼn mate van risiko is. Dus, indien iemand jou ʼn 20%-laerisiko-opbrengs aanbied, is daar beslis ʼn gevaar dat jy ʼn risiko loop, ongelukkig is die risiko in die meeste van hierdie gevalle dat jy al jou geld gaan verloor.

WENK: Onthou dat die woord “waarborg” ʼn leë belofte is, tensy dit ʼn bankwaarborg is.

3. Eksklusiwiteit – jy is ʼn elite-lid
Hierdie swendelarye versprei dikwels mondelings en deur middel van die getuienisse van individue wat daarop aanspraak maak dat hulle baie geld gemaak het. In sommige gevalle maak hulle aanspraak daarop dat jy een van ʼn klein groepie mense is wat toegang tot hierdie ongelooflike aanbod het, of dit is deel van ʼn netwerk waar jy aangemoedig word om, dikwels met aansporings, meer mense te werf.

In hierdie skemas kom die opbrengs dalk nie uit die belegging self nie, maar eerder uit die geld wat van nuwe beleggers ontvang word, in ʼn klassieke piramidestruktuur.

WENK: In bykans al die gevalle ontvang die aanvanklike beleggers opbrengste wat te goed is om waar te wees, en motiveer hul sukses hulle om ander te oorreed om by “die klub” aan te sluit.

4. Die skemas is ongereguleerd
Jy sal vind dat die bevorderaars of makelaars nie by die Raad op Finansiële Dienste (RFD) of die Suid-Afrikaanse Reserwebank geregistreer is nie en nie gemagtigde finansiële dienste-verskaffers is nie. Ongelukkig toon onlangse swendelarye dat die skelms meer geslepe word namate beleggers meer ingelig raak. Hulle gebruik moontlik vervalste RFD-registrasienommers, of ʼn lisensie om ʼn ongelisensieerde afdeling van die besigheid te bevorder. Indien jy die geldigheid van ʼn lisensienommer wil bevestig, kontak die RFD direk om te bevestig of die lisensie gekoppel is aan die spesifieke belegging.

WENK: Die inisieerders is nie aanspreeklik aan enigiemand nie en kan enige tyd verdwyn. Indien jy ʼn belegging maak, neem in ag wie jou kontakpersoon sal wees, sou jy jou geld wou terugkry.

Dus, indien jy die “geleentheid van ʼn leeftyd” aangebied word, bestudeer dit deeglik.

Drie dinge om te oorweeg voordat jy jou geld oorhandig:

  1. Mense lieg om voordeel te kry
    Moenie alles wat jy hoor of lees glo nie, veral nie in die sosiale media nie. Getuigskrifte kan vervals of gekoop word. Indien iets te goed klink om waar te wees, is dit heel waarskynlik so.
  2. Indien jy iets nie verstaan nie, is dit nie omdat jy dom is nie
    Warren Buffet het eenmaal gesê dat hy nie in enigiets belê wat hy nie verstaan nie. Indien jy nie verstaan hoe die skema geld maak nie, is dit heel waarskynlik omdat daar niks is om te verstaan nie. Hou aan vrae vra en indien die antwoorde vaag klink, of daar word druk op jou geplaas om te belê, stap weg.
  3. Moenie in kitsrykword-wonderwerke glo nie
    Hoewel wonderwerke kan bestaan, bestaan hulle nie in kitsrykwordkemas nie. Die enigste mense wat sal ryk word, is die mense wat die skema verkoop. Ongelukkig gebruik bedrieërs dikwels godsdiens en gebed om mense van hul eerlikheid te oortuig. Net omdat iemand uit die Bybel kan aanhaal, beteken nie dat hy of sy die waardes daarvan uitleef nie.

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Welvaartbeskerming
 
Pasop vir skelmstreke (scams): Identifiseer die bedrieërs
 
Daar is ʼn skerp toename in die aantal vaardige bedrieërs wat hul bedryf beoefen. Liberty gee kernriglyne oor hoe jy jou welvaart teen gewetenlose bedrieërs kan beskerm.
 
Lees meer...
Leefstyl
 
Balans is belangrik!
 
Met al meer vroue wat tot die arbeidsmark toetree, word huishoudelike verantwoordelikhede tussen mans en vroue verdeel. Mans en pa’s neem verantwoordelikheid vir al meer huishoudelike take en opvoedings-verantwoordelikhede as ooit tevore. Dit kan tot konflik lei.
 
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.