Julie 2017 Read this article in English
Bestuur jou beleggingsrisiko’s vir langtermynsukses
 
Deel hierdie artikel:

Wat die belê van jou geld betref, is daar niks skrikwekkender as die gedagte dat jy jou swaarverdiende neseier kan verloor nie. Vimal Chagan, Afdelingsdirekteur van Batebestuur by Liberty, verduidelik hoe wanbegrip oor jou ware risiko kan lei tot swak beleggingsbesluite.

Dit is belangrik om te verstaan dat beleggingsrisiko in verskeie gedaantes na vore kom. Wanneer ons na beleggingsrisiko verwys, dink ons gewoonlik aan ʼn verlies aan geld op die aandelemark of beleggingswendelary. In die geval van swendelary, is dit moontlik dat jy al jou geld oornag kan verloor. Maar, met betrekking tot beleggings in die aandelemark, is ʼn korttermyndaling in die waarde van jou belegging waarskynlik. Nogtans maak jy net ʼn verlies wanneer jy verkoop.

Ongelukkig maak talle beleggers die fout om paniekerig te raak en hul aandele te verkoop wanneer pryse daal. Hulle verkoop in der waarheid hierdie aandele teen ʼn korting aan ʼn verstandige belegger. Die belegger wat in die mark bly – of op ʼn laagtepunt koop – is die een wat uit die herstel voordeel trek. Dus is die ware beleggingsrisiko in hierdie geval om nie jou oorspronklike beleggingsplan te volg nie.

Pluk die vrugte van ʼn soliede beleggingsplan

Daar is twee tipes kapitaal wat oorweeg moet word wanneer beleggings en risiko bekyk word. Die eerste is finansiële kapitaal, wat jou balansstaat insluit en jou huidige bates en laste beslaan. Die tweede is menskapitaal, wat jou verdienstepotensiaal oor jou oorblywende leeftyd insluit. Jou beleggingsdoelwit is dat die somtotaal hiervan jou verwagte toekomstige uitgawes oorskry.

Dit is waarom jy ʼn finansiële beplanner nodig het om jou met jou plan te help. ʼn Goeie beleggingsplan oorweeg die doel van jou belegging en neem die impak van onbestendigheid in die mark in ag. Wanneer ʼn toepaslike beleggingsplan gekies word, sal ʼn finansiële adviseur die volgende in ag neem:

  • Hoeveel het jy om te belê?
  • Hoeveel groei het jy nodig om jou doelwit te bereik?
  • Hoeveel sekerheid het jy nodig om jou doelwit te bereik?
  • Wat is die tydsduur van jou belegging?
  • Watter bateklasse sal die beste resultaat lewer, gebaseer op jou doelwit?

Drie beleggingsrisiko’s wat jy in jou beleggingsplan in ag moet neem

1. Die risiko van inflasie
Indien jy vir langer as drie jaar belê, raak die risiko van inflasie betekenisvol. Trouens, hoe langer jy belê, hoe groter word die risiko van inflasie. Teen ʼn inflasiekoers van 6% per jaar, halveer die koopkrag van jou geld binne 12 jaar en dit is gelykstaande aan ʼn permanente verlies van jou kapitaal.

Elke persoon ervaar inflasie op ʼn verskillende vlak. Dit moet in ag geneem word wanneer besluit word op die regte bateklasse om in te belê. Die soort bateklasse wat nodig is om inflasie te klop, sal deur jou eie inflasievlak bepaal word. Om nie in groeibates te belê nie, of om jou geld onder die matras te hou, sal ʼn ander vorm van beleggingsrisiko wees.

2. Finansiële risiko
Terwyl ons geneig is om op ons beleggings te fokus wanneer die vermeerdering van welvaart ter sprake is, moet ons onthou dat ons grootste risiko ten opsigte van welvaartvermeerdering die onvermoë is om ʼn inkomste te verdien, of die ervaring van ʼn gebeurtenis wat ons finansieel ruïneer, soos ʼn ernstige siekte of uitgebreide mediese versorging.

Terwyl die waarskynlikheid van hierdie gebeurtenisse skraal is, is die finansiële impak so groot dat ʼn mens nie self daarvoor voorsiening kan maak nie. Dit is die hoofdoel van versekering – om die risiko van baie mense saam te bondel om versekering teen ʼn katastrofe bekostigbaar te maak. Daar is baie min huishoudings wat oor genoeg opgegaarde bates beskik om ʼn groot gebeurtenis, soos ʼn onverwagte verlies aan inkomste, te weerstaan. Enige langtermyn finansiële plan moet risikoversekering as bousteen hê. Dit is soos die fondament van ʼn gebou – indien dit verkrummel, tuimel die hele gebou terselfdertyd ineen. Jy laat jouself weerloos teen finansiële risiko indien jy nie die regte versekeringsdekking het nie.

3. Dag-tot-dag-risiko’s
Terwyl groot gebeurtenisse verseker kan word en verseker behoort te word, is daar ʼn vlak van selfversekering wat ook deel van jou risiko-analise moet wees. Noodspaargeld behoort te voorsien in kleiner dag-tot-dag-noodgevalle soos ʼn yskas wat breek of ʼn noodrit om ʼn siek ouer te besoek. Groter risiko’s soos aflegging kan gedeeltelik verseker word, maar benodig ook noodfondse.

Deur nie ʼn noodfonds te hê wat voorsiening maak vir die dag-tot-dag-gebeurtenisse in die lewe nie, word ʼn mens dikwels gedwing om langtermynspaargeld te gebruik of om op kort termyn op noodlenings staat te maak. Dit verhoog jou finansiële kwesbaarheid en daarom ook jou finansiële risiko.

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Beleggingswenke
 
Bestuur jou beleggingsrisiko’s vir langtermynsukses
 
Wat die belê van jou geld betref, is daar niks skrikwekkender as die gedagte dat jy jou swaarverdiende neseier kan verloor nie. Nogtans is dit belangrik om te verstaan dat beleggingsrisiko in verskeie gedaantes na vore kom.
 
Lees meer...
Gesondheid
 
Welstand in die werkplek
 
Niemand geniet ʼn doktersafspraak nie, maar navorsing dui daarop dat mans minder geneig is as vroue om tyd te maak om hul algemene praktisyn te besoek en dat dit hulle kan ontneem van die hulp wat hulle nodig het.
 
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.