Julie 2017 Read this article in English
Hoe die versekeringsgaping jou raak
 
Deel hierdie artikel:

Die 2016 Life and Disability Insurance Gap study, wat namens die Vereniging vir Spaar en Belegging in Suid-Afrika (Asisa) deur True South Actuaries and Consultants gedoen is, vestig die aandag op kommerwekkende statistieke.

Suid-Afrikaners staar ʼn gesamentlike versekeringstekort van R28,8 miljard in die gesig. Dit is die versekeringsbedrag wat benodig word om die gaping te vul tussen die totale bestaande lewens- en ongeskiktheidsversekering, en dit wat benodig word om te verseker dat alle werkende Suid-Afrikaners genoeg dekking het om te voorsien in die behoeftes van hul gesinne, sou hulle sterf of nie meer kan werk nie.

Dit is kommerwekkend dat dié versekeringsgaping sedert 2012 vergroot het. Dit het oor die afgelope vyf jaar met R4,8 miljard toegeneem. Die bekommernis is dat ʼn onvoorsiene gebeurtenis, soos die dood van ʼn broodwinner, die gesin se totale beskikbare bates kan vernietig.

Wanneer lewensversekering ter sprake is, betaal iemand uiteindelik. Óf jy betaal die premies om dekking te hê, óf jou gesin dra die finansiële gevolge indien jy nie lewensversekering het nie.

Inkomsteverdieners met jaarlikse salarisse van tussen R100 000 en R215 000 is R1,2 miljoen onderverseker. Dit beteken dat, sou die broodwinner sterf, die gesin óf ʼn addisionele R6 349 per maand sal moet vind óf dat hulle hul maandelikse huishoudelike uitgawes met 38% moet verminder.

Individue wat jaarliks meer as R215 000 verdien, is gemiddeld met R2,4 miljoen onderverseker. Dit beteken dat, indien hulle sterf, die gesin ʼn addisionele nabelaste R12 874 per maand sal benodig óf hul uitgawes met 36% sal moet verminder.

Die gaping is aansienlik hoër vir ongeskiktheid, aangesien die lewensuitgawes van die inkomsteverdiener in ag geneem moet word. Die studie het bevind dat indien ʼn individu, wat jaarliks R215 000 of meer verdien, as gevolg van ongeskiktheid nie meer ʼn inkomste kan genereer nie, die gemiddelde vlak van onderversekering beteken dat die gesin ʼn bykomende R17 000 per maand sal moet vind.

Jou langtermynversekering is noodsaaklik tydens ʼn resessie

Namate die land gekonfronteer word met die feit dat dit ʼn tegniese resessie binnegegaan het, is dit tans belangriker as ooit tevore om jou versekeringsdekking ernstig na waarde te skat. Te veel Suid-Afrikaners beskou versekering as ʼn teensinnige betaling, terwyl dit eintlik ʼn belegging is wat uitbetaal wanneer onsekerhede opduik en risiko’s realiteite raak. Die laaste ding wat jy behoort te doen, is om minder versekeringsdekking te hê terwyl jy wag vir die krisis om verby te gaan.

Finansiële raadgewers het ʼn belangrike rol te speel om voorrang te gee aan uitgawes, en in die skep van gemoedsrus, vertroue, en ʼn gevoel van sekuriteit by hul kliënte, deur voorsiening te maak vir die vier noodsaaklike pilare van risiko: lewensversekering, inkomsteversekering, leefstylversekering en polisbeskerming.

Indien jy bekommerd is dat jy moontlik onderverseker mag wees, maak vandag ʼn afspraak met jou finansiële adviseur.

Hier volg drie belangrike stappe om vir jou vergadering voor te berei:

1. Maak ʼn lys van jou finansiële doelwitte.
Elke kliënt se finansiële doelwitte is uniek. Wanneer finansiële doelwitte gestel word, moet kliënte hul ouderdom, aftreebehoeftes, leefstylvereistes, skuldvlakke en persoonlike risiko’s in ag neem. Dit is belangrik om realisties te wees wanneer finansiële doelwitte gestel word, sodat die finansiële adviseur die korrekte advies kan gee om die doelwitte bereikbaar te maak.

2. Formuleer vrae vir jou finansiële adviseur.
Om die meeste waarde uit die advies van die finansiële adviseur te kry, behoort kliënte ʼn lys van die toepaslike vrae wat betrekking het op hul huidige finansiële situasie, asook toekomstige beplanningsbehoeftes, voor te berei. Hierdie vrae behoort skuldvermindering, aftreebeplanning, tydskale vir beleggings en die vermindering van risiko in te sluit.

3. Berei alle belangrike dokumentasie voor vir die vergadering.
Om die finansiële adviseur in staat te stel om die beste advies te verskaf, behoort kliënte bankstate, versekeringspolisdokumente, belastingsertifikate, boedelbeplanningsinligting en enige ander belangrike finansiële dokumente wat betrekking het op die beplanningsproses saam te bring.

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Beleggingswenke
 
Bestuur jou beleggingsrisiko’s vir langtermynsukses
 
Wat die belê van jou geld betref, is daar niks skrikwekkender as die gedagte dat jy jou swaarverdiende neseier kan verloor nie. Nogtans is dit belangrik om te verstaan dat beleggingsrisiko in verskeie gedaantes na vore kom.
 
Lees meer...
Gesondheid
 
Welstand in die werkplek
 
Niemand geniet ʼn doktersafspraak nie, maar navorsing dui daarop dat mans minder geneig is as vroue om tyd te maak om hul algemene praktisyn te besoek en dat dit hulle kan ontneem van die hulp wat hulle nodig het.
 
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.