Julie 2017 Read this article in English
Het jy die regte versekering op die regte tyd?
 
Deel hierdie artikel:

Namate tyd verbygaan, verander jou lewe en is dit noodsaaklik dat jou versekeringsdekking die nuwe ontwikkelings in jou lewe weerspieël. Henk Meintjes, Hoof van Risikoprodukte by Liberty, bespreek die agt mylpale in jou lewe wanneer jy jou risikodekking moet hersien.

Die meeste mense se eerste ervaring van risikoversekering is wanneer hulle begin werk. Die maatskappy maak moontlik voorsiening vir een of ander vorm van lewens- of ongeskiktheidsversekering. Later kry jy dalk bykomende lewensversekering om jou verband te dek wanneer jy ʼn huis koop. Wat baie mense egter selde doen, is ʼn omvattende hersiening van hul versekeringsbehoeftes, veral wanneer hulle sekere belangrike veranderinge in hul lewens ervaar of sekere mylpale bereik.

Jy was moontlik gelukkig genoeg om ʼn finansiële adviseur te besoek en basiese versekering uit te neem. Maar, is jy bewus daarvan dat jy jou finansiële adviseur jaarliks behoort te raadpleeg om jou finansiële aangeleenthede – ingesluit jou risikodekking – te hersien?

Agt moontlike versekeringsrisiko’s vir elke lewensfase

1. Jy begin werk
Maak seker jy het die regte risikodekking om jou toekomstige inkomste te beskerm. In hierdie stadium is dit jou grootste bate. Dit sluit versekering in wat ʼn enkelbedrag uitbetaal, sou jy ongeskik of gestrem raak, of herhalende bedrae uitbetaal om jou salaris te vervang. Indien jy nie afhanklikes het nie, benodig jy moontlik nie beduidende lewensdekking nie, maar oorweeg om ʼn opsie te kies wat jou toelaat om jou lewensdekking in ʼn latere stadium sonder onderskrywing te verhoog.

Indien jou maatskappy nie voorsiening maak vir ʼn pensioen- of voorsieningsfonds nie, verseker dat jy begin belê in ʼn aftree-annuïteit. Selfs al dra jy by tot ʼn maatskappyfonds, onthou dat jy tot 27,5% van jou inkomste belastingvry vir jou aftrede kan belê.

2. Jy verander van werk of word bevorder
Verhoog jou maandelikse spaargeld met dieselfde persentasie wat jou salaris verhoog, eerder as om al jou ekstra kontant te spandeer. Dit sal verseker dat jy op koers is vir aftrede. Indien jy by ʼn nuwe maatskappy begin werk, bestudeer hul personeelvoordele om vas te stel of jy in ʼn beter of swakker posisie is.

Dit is belangrik om enige ongeskiktheids- en inkomstebeskermingsversekering te hersien om te verseker dat dit op die vlak van jou nuwe inkomste is. Indien jy nie reeds gevreesde siekte-dekking het nie, oorweeg die feit dat gevreesde siekte-eise toeneem vir mense bo ouderdom 30.

3. Jy verloor jou werk (swakste scenario)
Verstaan jou opsies. Jy moet dalk van jou pensioengeld onttrek, wat jou aftrede sal beïnvloed. Vind uit of enige van jou polisse dekking teen aflegging insluit – óf as ʼn afsonderlike voordeel, wat ʼn maandelikse bedrag aan jou sal uitbetaal, óf om jou versekerings- of beleggingspremies kwyt te skeld.

Vermy om in reaksie op die skok, jou risikodekking te kanselleer. Dit sal jou finansieel uiters kwesbaar laat, sou iets met jou gebeur. Verder sal jy moontlik nie, nadat jy jou versekering gekanselleer het, weer dekking teen dieselfde premie kan kry nie, veral nie indien jou gesondheidstatus verander het nie.

4. Jy trou
Dit is nou ʼn belangrike tyd om jou lewens- en ongeskiktheidsdekking te hersien. Indien jy en jou gade beplan om saam ʼn eiendom te koop, moet jy verseker dat beide van julle risikodekking het, ingeval een van julle nie verder as gevolg van dood, ongeskiktheid of swak gesondheid tot die verband kan bydra nie.

Hierdie is ook ʼn goeie tydstip om jul finansiële prioriteite as egpaar te bespreek. Julle moet saamstem oor wat beide van julle hoop om oor die volgende vyf, 10 en 20 jaar te bereik. Onthou om jou testament te hersien, asook die begunstigdes op al jou polisse om jou gade in te sluit.

5. Jy kry kinders
Hersien jou dekking om voorsiening vir jou kinders in te sluit, in die besonder vir hul opvoeding. Dit mag ook raadsaam wees vir ʼn testamentêre trust voorsiening te maak. Sou jy te sterwe kom, kan die opbrengs van jou polisse of bates in die trust inbetaal word totdat jou kinders volwasse is. Jy moet jou polisse ook dienooreenkomstig opdateer, asook die nominasievorms met betrekking tot jou pensioen- en voorsorgfonds.
Dit is ook nou die regte tyd om ʼn spaarplan vir jou kinders se opvoeding te begin.

6. Een van die broodwinners hou op werk om die kinders groot te maak
Hierdie besluit sal die gesinsbegroting en -leefstyl verander. Wanneer jy jou finansies hersien, maak seker dat die tuisblyouer aftreevoorsiening, sowel as risikodekking het. Hoewel die ouer moontlik nie ʼn inkomste verdien nie, is hy of sy die primêre versorger en sal dit ʼn koste vir die gesin behels indien dié ouer nie langer in staat is om vir die kinders te sorg nie.

7. Jy skei
Hersien die begunstigdes op jou polisse indien jy nie langer verkies dat jou vorige gade ʼn begunstigde moet wees nie. Indien jy dekking gehad het onder jou gade se versekeringspolisse, sal jy moet aansoek doen vir afsonderlike polisse. Onthou om ook aandag te gee aan ʼn mediese fonds en korttermyndekking. Bepaal watter uitwerking die egskeiding op jou inkomste en bates het. Indien jy ʼn enkelbedrag uit jou gewese gade se aftreefonds ontvang, maak seker dat jy die voordele bewaar, aangesien jy steeds eendag sal aftree.

8. Jy tree af
Dit is belangrik om ʼn volledige finansiële ontleding te doen en behoorlik te beplan vir aftrede. ʼn Omvattende hersiening van jou risikoversekering is belangrik, aangesien jou behoeftes aansienlik sal verander. Indien jy, byvoorbeeld, inkomstebeskerming gehad het, kan jy daardie premies gebruik om jou gevreesde siekte-dekking te verhoog.

Bepaal hoeveel lewensdekking jy steeds benodig. Indien jou kinders nie meer finansiële afhanklikes is nie, kan die behoefte aan dekking minder wees, maar jy moet steeds faktore soos die ondersteuning van ʼn lewensmaat en boedelbelasting in ag neem.

Bespreek die versekeringsopsies wat vir jou geskik is met ʼn geakkrediteerde Liberty finansiële adviseur. ʼn Finansiële adviseur sal jou ook kan help om te begroot vir jou uitgawes, jou skuld te konsolideer, jou spaargeld en beleggings te verhoog en jou te beskerm teen die las van finansiële foute.

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Beleggingswenke
 
Bestuur jou beleggingsrisiko’s vir langtermynsukses
 
Wat die belê van jou geld betref, is daar niks skrikwekkender as die gedagte dat jy jou swaarverdiende neseier kan verloor nie. Nogtans is dit belangrik om te verstaan dat beleggingsrisiko in verskeie gedaantes na vore kom.
 
Lees meer...
Gesondheid
 
Welstand in die werkplek
 
Niemand geniet ʼn doktersafspraak nie, maar navorsing dui daarop dat mans minder geneig is as vroue om tyd te maak om hul algemene praktisyn te besoek en dat dit hulle kan ontneem van die hulp wat hulle nodig het.
 
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.