Junie 2017 Read this article in English
www.Liberty.co.za
Om voorsiening te maak vir ʼn spesiale behoefte-kind
 
Deel hierdie artikel:

Indien dit onwaarskynlik is dat jou kind finansieel onafhanklik sal wees, moet jy spesiale reëlings tref, skryf Regsbemarkingsdeskundige, Geraldine MacPherson.

Wanneer jy jou finansies beplan, is dit belangrik om te verseker dat jy voorsiening gemaak het vir jou jong kinders, sou iets met een of albei ouers gebeur. Maar, wat behoort jy te doen indien jy ʼn kind het wat nie net vir die res van jou lewe nie, maar vir die res van sy of haar lewe ook van jou afhanklik sal wees?

Spesiale trusts word gebruik om mense wat as gevolg van hul ouderdom (soos kinders onder 18) of as gevolg van ʼn gebrek nie in staat is om hul eie finansies te hanteer nie. ʼn Spesiale trust Tipe A is spesifiek geskep vir gestremde of verstandelik gestremde mense wat waarskynlik nooit finansieel onafhanklik sal wees nie.

Terwyl daar heelwat publisiteit was oor die beëindiging van trusts, is dit belangrik om te onthou dat die nasionale tesourie en die Davis-belastingkomitee beklemtoon het dat spesiale trusts ʼn spesifieke en belangrike rol speel. Dit is onwaarskynlik dat dit geraak sal word wanneer belastingveranderinge ingestel word wat ten doel het om die waargeneemde misbruik of wanaanwending van trusts om belastingvoordele te kry, te beheer. Die belangrikste voordeel van ʼn spesiale trust is dat dit belas word teen dieselfde koers wat vir ʼn individu geld, wat aansienlik laer kan wees as die belastingkoers wat op ʼn gewone trust van toepassing is (45%).

Verkiesing van ʼn trustee en ʼn voog
Jy moet trustees kies wat die fondse namens jou kinders sal bestuur – dit is nie noodwendig hul verkose voog(de) nie. Jy wil dalk ʼn trustmaatskappy kies vir kontinuïteit, eerder as ʼn individu wat moontlik voor die kinders te sterwe kan kom. Jy kan dan die voogde as medetrustees benoem.

ʼn Voog is nie noodwendig dieselfde persoon as die een wat die fondse van die trust gaan bestuur nie, maar eerder iemand wat verantwoordelik sal wees vir die dag-tot-dag-versorging van die kind. Dit is baie belangrik dat jy die rol met die persoon wat jy die wettige voog wil maak indien jy te sterwe kom bespreek, aangesien dit nie eenvoudig is om verantwoordelikheid vir ʼn gestremde kind te aanvaar nie.

Die trustakte behoort sorgvuldig opgestel te word sodat dit die trustees genoeg magte gee om te verseker dat hulle toepaslike besluite kan neem. Terwyl jy moet stipuleer waarvoor die trustgeld gebruik kan word, soos kos, opvoeding, klere en ander dag-tot-dag-behoeftes, moet jy versigtig wees om nie te probeer om uit die graf te regeer nie. Laat die trustees ʼn mate van diskresie toe oor die gebruik van die geld. Dit is waarom dit belangrik is om trustees te kies wat jy vertrou.

Jy behoort ook te oorweeg wat met die eiendom van die trust gebeur wanneer die begunstigde van die trust sterf – veral indien hul lewensverwagting moontlik nie so lank is as wat gewoonlik die geval is nie.

Voldoende en toepaslike beleggings
Jy moet ʼn volledige analise doen van wat dit sal kos om ten volle in jou kind se behoeftes te voorsien; of hulle na ʼn spesialebehoefte-tehuis moet gaan en of die voog die versorging met bykomende ondersteuning kan hanteer. Jy kan jaarliks tot R100 000 tot ʼn spesiale trust bydra om skenkingsbelasting te vermy, maar dit is onwaarskynlik dat dit genoeg sal wees. Lewensdekking word noodsaaklik om die tekort aan te vul en die lewensdekking kan aan die trust gesedeer word.

Daar moet sorgvuldige aandag gegee word aan die toepaslike beleggingsprodukte vir iemand met ʼn gestremdheid. Dit sal onvanpas wees om ʼn verpligte produk te verkoop aan ʼn persoon met ʼn gestremdheid wat dit vir hulle onmoontlik maak om hul eie besluite te neem. Byvoorbeeld, indien ʼn aftree-annuïteit verkoop word aan ʼn persoon wat ʼn geestesgebrek het, sal daar wanneer of indien hy of sy aftree-ouderdom bereik ʼn belastingsertifikaat in die persoon se naam uitgereik moet word. Die persoon het heel waarskynlik nooit ʼn inkomste verdien nie en is nie as belastingpligtige geregistreer nie. ʼn Kurator sal aangestel moet word om die nodige dokumentasie voor te berei en daarna oor herbeleggingsmoontlikhede te besluit. Dit kan ʼn baie duur oefening wees en ʼn mens moet die gehalte van die advies wat gegee is bevraagteken. Sekere risikodekking(s) mag toepaslik wees, soos dié vir gevreesde siekte, maar sekere soorte gestremdhede is moontlik nie versekerbaar nie. Nogeens, in so ʼn geval benodig jy goeie advies.

Wees versigtig om die stigting van die trust uit te stel tot met die dood van die laaste ouer, soos wat die meeste mense doen. Daar is gevalle waar die ouer, in latere jare, verstandelike funksionaliteit verloor het en die onbevoegde kind op ernstige risiko geplaas is. Indien die trust gestig is en die fondse voorsien word deur die R100 000-donasie jaarliks te gebruik, kan dit die kind beskerm.

Belastingaftrekkings vir spesiale behoeftes
Gedurende jou leeftyd het jy ook dag-tot-dag-uitgawes waarvoor jy moet beplan. Ongelukkig is daar baie min bystand van die staat en sal jou kind eers vir die ongeskiktheidstoelaag kwalifiseer wanneer hy of sy 18 word en slegs indien hulle nie ʼn inkomste kan verdien nie. Hoewel die ontvanger van inkomste belastingaftrekkings toelaat op sekere uitgawes, word dit eers as ʼn terugbetaling aan jou uitbetaal ʼn jaar nadat jy die uitgawes aangegaan het. Nietemin help die belastingaftrekkings en is dit belangrik om goeie belastingadvies te kry om te verseker dat jy die maksimum voordeel kry.

Ten einde te eis, moet jy van ʼn spesialis se dienste gebruik maak wat met jou kind werk om ʼn diagnose van gestremdheid-vorm (ITR DD) te voltooi om te bevestig dat die kind nie oor die vermoë beskik om sonder spesiale ondersteuning te funksioneer nie. Dit kan ook van toepassing wees op kinders met ernstige leerprobleme of geestestoestande, soos obsessief-kompulsiewe (ver)steuring of outisme.

Wat jy verder behoort te oorweeg:

  • Al jou mediese skema-bydraes, sowel as alle mediese kostes, wat nie deur jou mediese skema gedek word nie.
  • Indien jy ʼn voltydse versorger benodig, sal sy of haar salaris, asook alle etes, ten volle belastingaftrekbaar wees.
  • Indien jou kind ʼn spesiale skool moet bywoon, kan die fooie belastingaftrekbaar wees.
  • Indien jy ʼn spesialedoelvoertuig (special-purpose vehicle) moet koop, is die doeaneregte moontlik terugbetaalbaar en die terugbetaalbare bedrag kan wissel vir verskillende fabrikate en modelle, doen dus jou huiswerk deeglik wanneer jy ʼn motor koop sodat jy die aftrekking die beste benut.
  • Enige veranderinge wat jy aan jou huis moet aanbring, soos spesiale relings in die badkamer, opritte of op- en aflope (ramps) kan aftrekbaar wees.

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Welvaartskepping
 
Hoe om ʼn erfenis van welvaart aan jou kleinkinders na te laat
 
Namate talle grootouers heel waarskynlik die geboorte van hulle agterkleinkinders sal beleef, is daar ʼn geleentheid om ʼn familie-erfenis na te laat wat verder as hul eie kinders strek?
 
Lees meer...
Gesondheid
 
Wees ʼn man van daad en maak ʼn afspraak by die dokter
 
Niemand geniet ʼn doktersafspraak nie, maar navorsing dui daarop dat mans minder geneig is as vroue om tyd te maak om hul algemene praktisyn te besoek en dat dit hulle kan ontneem van die hulp wat hulle nodig het.
 
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.