Junie 2017 Read this article in English
www.Liberty.co.za
Hoe om ʼn erfenis van welvaart aan jou kleinkinders na te laat
 
Deel hierdie artikel:

Namate langlewendheid toeneem, kan talle afgetredenes verwag om ouer as 90 te word, wat interessante kwessies ten opsigte van erfgename en erfenis te berde bring. Met kinders wat waarskynlik minstens 60 jaar oud sal wees voordat hulle ouers sterf, sou ʼn tussengenerasie-oordrag van rykdom aan die kleinkinders, wat op 30 in daardie finansieel uitdagende stadium van hul lewens sal wees waartydens hulle hul eerste huis koop en kinders grootmaak, meer logies wees.

ʼn Erfporsie om kleinkinders te help om ʼn huis te koop of om jou agterkleinkinders se opvoeding te betaal, kan ʼn baie groter finansiële impak hê indien jou eie kinders finansieel onafhanklik en naby aftrede is. Dit kan ook enige finansiële verpligting wat jou eie kinders moontlik ten opsigte van hulle kinders het, uit die weg ruim.

Gebruik lewensdekking om ʼn erfporsie na te laat: Indien jy lewensdekking het wat nie meer benodig word nie, maar bekostigbaarheid is nie ʼn faktor nie, kan jy jou kleinkinders direk as erfgename nomineer. Die polisvoordele sal nie deel van jou boedel uitmaak nie en daar sal dus nie eksekuteursfooie daarop betaalbaar wees nie, maar dit sal wel as eiendom in jou boedel geag word, waarop boedelbelasting betaalbaar mag wees. Die begunstigde van die polis is aanspreeklik vir die boedelbelasting wat op daardie polis van toepassing is, dus sal die kleinkinders ten minste 20% moet wegsit, ingeval hulle ʼn boedelbelastingrekening ontvang.

Om geld aan minderjariges na te laat: Indien die kleinkinders minderjarig is en die bedrag van die lewensdekking regverdig nie die stig van ʼn testamentêre trust nie, kan jy die fondse aan die ouers oorbetaal, met instruksies dat dit byvoorbeeld vir die opvoeding van die kinders gebruik moet word. Alternatiewelik is Liberty se benadering om die uitbetaling in ʼn bankrekening in die minderjarige se naam te doen, wat deur die voog(de) geadministreer word. Nie alle lewensversekeraars hanteer egter sodanige aangeleenthede eenders nie. Kragtens hul polisdokument, dring sommige daarop aan dat ʼn trust gestig moet word, of dat die betaling aan die Voogdyfonds gemaak word. Dit is dus belangrik dat jou adviseur sy produk ken en jy moet enige advies sorgvuldig oorweeg.

Gebruik ʼn uitkeerpolis om ʼn erfporsie na te laat: Jy kan oorweeg om ʼn uitkeerpolis wat aan jou kleinkinders betaalbaar is, aan te wend. Dit sal nie deel van die boedel uitmaak nie en dus ʼn besparing op eksekuteursfooie, maar nie op boedelbelasting nie, tot gevolg hê. Aangesien dit ʼn lewensversekeringspolis is wat direk aan die begunstigde betaalbaar is, het jy die voordeel dat die opbrengs nie deel van die boedel is nie en dat dit onmiddellik beskikbaar is vir die begunstigdes.

Hou ʼn lewende annuïteit lewendig: Finansiële afhanklikheid is nie van toepassing op lewende annuïteite nie, wat beteken dat volwasse kleinkinders kan erf met die dood van die oorlewende gade. Die polisvoordele behoort nie boedelbelasting te genereer nie, maar indien ʼn enkelbedrag onttrek word, word aftreebelasting teen die boedel van die oorledene gehef. Om die belastingverpligting te beperk, kan jy die voordeel behou in ʼn lewende annuïteit wat ʼn maandelikse inkomste voorsien, wat kan help met die skool- of universiteitsfooie van die agterkleinkinders. Hulle gee ook hul eie aftreebeplanning ʼn hupstoot. Dit het ook die voordeel dat die fondse nie beleggingsbelasting genereer nie en beskerm is teen krediteure.

Om ʼn familiegeskiedenis na te laat

Finansiële bates is nie die enigste erfporsie wat jy aan jou gesin nalaat nie; daar is ook jou familiegeskiedenis en -herinneringe. Daar is moontlik waardevolle items wat jy aan jou kleinkinders wil nalaat, soos ʼn gunstelingskildery, ʼn muntstuk-, seël- of boekversameling, waarvan die rede waarom jy dit aan hulle nalaat, en die herinneringe wat hierdie items vir jou inhou, selfs belangriker is.

Besittings het gewoonlik sentimentele waarde wat meer is as hul materiële waarde. Of dit ʼn foto wat ʼn storie vertel of ʼn teestel wat jy as trougeskenk ontvang het is, gebruik die geleentheid nou om herinneringe met jou kleinkinders en agterkleinkinders te deel. Hulle is dalk nog te klein om die gesprekke regtig te waardeer, maar sal namate hulle ouer word meer wil weet oor waar hulle vandaan kom en die geskiedenis van hul familie.

Deur nou met jou familie te gesels oor wat jy aan hulle wil nalaat, bewaar nie net jou herinneringe nie, maar in die praktyk verhoed dit ook latere argumente oor wat aan wie belowe is. Dit is daarom net so belangrik om items volledig in jou testament te beskryf, en selfs ʼn nota in te sluit wat die redes waarom jy die spesifieke item aan ʼn bepaalde persoon nalaat, uiteensit. Onthou om konsekwent in jou besluite te wees en gee oorweging aan daardie items waaraan elke lid van die familie waarde heg, aangesien herinneringe baie persoonlik is – een persoon se weggooigoed kan ʼn ander se kleinood wees.

ʼn Ander metode om jou herinneringe en geskiedenis oor te dra is deur ʼn video-opname, veral vir jou agterkleinkinders wat jou dalk nie baie goed sal onthou nie. Vir millenniërs en die namillenniërgeslag, is ʼn kort video ʼn baie goeie manier om familiegeskiedenis oor te dra. Maak ʼn opname oor die dag waarop hulle gebore is en hoe jy gevoel het, sowel as jou eie herinneringe aan jou eie kinders se geboorte. ʼn Opname op ʼn kleinkind se troudag kan jou eie troudag en hoe jy jou gade ontmoet het in herinnering roep.

Bestee tyd om te besluit wat ʼn nalatenskap vir jou beteken.

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Welvaartskepping
 
Hoe om ʼn erfenis van welvaart aan jou kleinkinders na te laat
 
Namate talle grootouers heel waarskynlik die geboorte van hulle agterkleinkinders sal beleef, is daar ʼn geleentheid om ʼn familie-erfenis na te laat wat verder as hul eie kinders strek?
 
Lees meer...
Gesondheid
 
Wees ʼn man van daad en maak ʼn afspraak by die dokter
 
Niemand geniet ʼn doktersafspraak nie, maar navorsing dui daarop dat mans minder geneig is as vroue om tyd te maak om hul algemene praktisyn te besoek en dat dit hulle kan ontneem van die hulp wat hulle nodig het.
 
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.