Junie 2017 Read this article in English
www.Liberty.co.za
Gee jou kind die geskenk van gesonde geldbestuur
 
Deel hierdie artikel:

Na ʼn loopbaan van bykans 25 jaar as ʼn finansiële beplanner, is talle van my kliënte nou in die stadium waar hulle dink oor die finansiële erfenis wat hulle aan hul kinders gaan nalaat. As gevolg van goed bestuurde geldsake sal talle van hulle ʼn beduidende erfporsie aan die volgende geslag nalaat, skryf 'n Gesertifiseerde Finansiële Beplanner by Liberty, Marietta Tappan.

Hierdie kliënte lê nie snags wakker oor of hulle genoeg geld het om af te tree nie, maar of hulle kinders toegerus is om hul eie geld effektief te bestuur. Die betreurenswaardige werklikheid is dat talle millenniërs in bevoorregte omstandighede grootgeword het en dat dit veroorsaak het dat hulle nie weet hoe om geld te bestuur nie. Hulle het nooit geleer om vir ʼn doelwit te spaar of is selfs nie eens die beginsels van spaar geleer nie, ten spyte daarvan dat hulle in huishoudings grootgeword het waar om te spaar en vir die toekoms te belê moontlik was.

Ek het algaande ondervind dat die kinders van my kliënte wat deur hulle aangemoedig is om geld te bestuur, grootgeword het om verantwoordelike en finansieel onafhanklike volwassenes te word. Een van my gunstelingverhale is dié van ʼn kliënt wat sy twee seuns gebring het om my te besoek toe hulle slegs 10 en 11 was. Die seuns het begin om koerante af te lewer en hul ouers was vasbeslote dat hulle moet leer om geld te spaar, en dit nie slegs op rekenaarspeletjies en lekkers uitgee nie. Ek het tyd ingeruim om die krag van saamgestelde rente, sowel as diversifikasie, aan hulle te verduidelik. Die seuns het in effektetrusts begin belê en is vandag gekwalifiseerde professionele persone. Verlede jaar het die oudste seun ‘n jaar weg van sy prokureurspraktyk deurgebring om sy pupilskap te voltooi sodat hy as ʼn advokaat kon kwalifiseer – betaal uit die spaargeld van daardie jare se koerante aflewer.

Ek moedig my kliënte altyd aan om hul kinders te motiveer om ʼn finansiële adviseur te spreek sodra hulle hul eerste werk aanvaar. My uitgangspunt is dat hulle hul eerste salaristjek kan spandeer soos hulle wil, maar dat hulle vanaf die tweede tjek maandeliks 10% moet wegsit. Diegene wat hierdie beginsel toegepas het, het geleer om geld te bestuur, terwyl die wat dit nie gedoen het nie klaarblyklik nooit genoeg geld het nie.

Buiten om my kliënte aan te moedig om met hul kinders oor geld te gesels, moedig ek hulle ook aan om gesonde grense vir hulle kinders te stel en nie sommer net voor hul verwagtinge te swig nie. Millenniërs het grootgeword in ʼn wêreld waarin hulle daaraan gewoond is om dit wat hulle wil hê onmiddellik en sonder inspanning te kry. Dit berei hulle nie voor vir die werklikheid later in die lewe nie. Selfs indien jy kan bekostig om vir jou kinders te gee wat hulle wil hê, doen jy hulle nie noodwendig ʼn guns indien jy nie grense stel nie.

Ek het my eie ervaring van grense stel met my seun gehad. Terwyl my ouer dogter ʼn toegewyde student was en haar universiteitstudies voltooi het, het my seun baie minder belangstelling getoon en in der waarheid rondgeploeter in sy eerste jaar. Ek het vir my seun gesê dat hy vir sy eie studies kan betaal deur ʼn lening aan te gaan. Toe die realiteit daarvan om vir homself te betaal hom in die gesig staar, het hy besluit om nie verder te studeer nie en om te gaan werk. Geld wat op opvoeding spandeer word, is slegs ʼn belegging indien jou kind sy of haar studies ernstig opneem, dit behoort nie gebruik te word as ʼn manier om ʼn werklewe uit te stel nie.

Te dikwels ervaar ek hoe kliënte hul aftreefondse stroop om kinders se studies nimmereindigend te befonds en wonder ek op watter tydstip is die behoefte aan formele opleiding as gevolg van vrees om te begin werk of onafhanklik te wees. Hoe langer ons ons kinders finansieel ondersteun, hoe meer erodeer ons hul selfvertroue.

Ons moet ook ons kinders leer om trots te wees op die werk wat hulle doen, of dit is om motors te was oor naweke om ekstra sakgeld te verdien, ondervinding op te doen as ʼn onbetaalde intern of om eendag ʼn vennoot in ʼn regsfirma te wees, om ʼn werk en ʼn doelwit te hê is iets om op trots te wees. Kinders behoort die waarde van werk van jongs af te leer, aangesien om ʼn inkomste te verdien en dit verstandig te gebruik, onderling verband hou.

Op die duur definieer hoe jy jou geld spandeer jou, dus, om kinders op te voed om goeie rentmeesters van die welvaart wat hulle gaan erf te wees, moet ons by ons eie waardesisteem begin. Kinders leer deur die waardes wat hulle in die huis ervaar, nie deur wat hulle voorgesê word om te waardeer nie.

Indien jy jou kinders die geskenk om te weet hoe om met geld te werk wil gee, moet jy so vroeg moontlik begin om hulle voor te berei. Hier volg hoe:

  • Besluit wat jou waardesisteem is en hoe jy finansies met jou kinders wil bespreek.
  • Gebruik met jonger kinders konsepte wat hulle sal verstaan, soos die feit dat ʼn reuse eikeboom uit ʼn baie klein akker groei, om te verduidelik dat dit tyd neem om geld te laat groei en dat selfs ʼn klein bedraggie wat met koerantaflewering verdien word, tot iets beduidend kan groei. Dit is selfs belangriker in hierdie wêreld van onmiddellike bevrediging.
  • Jy sal verbaas wees hoe vinnig ouer kinders die konsep van spaar, belê en die talle finansiële terme snap wanneer jy finansies met hulle bespreek. Indien jy ongemaklik en onseker is oor hoe om finansies met jou kinders te bespreek, vra jou finansiële adviseur om so ‘n gesprek met hulle te voer.
  • Stel grense en gee hulle geleenthede om onafhanklikheid te ontwikkel. Onthou dat hulle die rentmeesters van die toekoms is.

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Welvaartskepping
 
Hoe om ʼn erfenis van welvaart aan jou kleinkinders na te laat
 
Namate talle grootouers heel waarskynlik die geboorte van hulle agterkleinkinders sal beleef, is daar ʼn geleentheid om ʼn familie-erfenis na te laat wat verder as hul eie kinders strek?
 
Lees meer...
Gesondheid
 
Wees ʼn man van daad en maak ʼn afspraak by die dokter
 
Niemand geniet ʼn doktersafspraak nie, maar navorsing dui daarop dat mans minder geneig is as vroue om tyd te maak om hul algemene praktisyn te besoek en dat dit hulle kan ontneem van die hulp wat hulle nodig het.
 
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.