September 2017 Read this article in English
Jou aftrede is maar net die begin
 
Deel hierdie artikel:

Liberty Finansiële Beplanner, Mariette Tappan, deel sommige van die lewenslesse wat sy by haar kliënte wat ouer as 60 is, geleer het

Ek het die voorreg gehad om deel te kon wees van die finansiële reis van talle van my afgetrede kliënte en ek het baie by hulle geleer oor hoe om ʼn vervullende lewe te leef. Waarvan ek seker is, is dat ons, namate ons ouer word, meer spiritueel raak en die lewe meer waardeer, en dat daar ʼn diepgaande behoefte is om terug te ploeg in jou familie en die groter gemeenskap.

Vind jou passie en ploeg terug
Sestig word nie meer as oud beskou nie en, hoewel talle mense formeel aftree op hierdie ouderdom, verkies die meeste van my kliënte om aan te hou werk op ʼn terrein wat verband hou met hul passie. Hierdie is die mense wat altyd aktief was en wat besig wil bly. Gelukkig vir hulle, het hulle nie die finansiële verantwoordelikhede wat hulle in hul jonger dae gehad het nie. Steeds vol lewe en energie, is hierdie ʼn tyd waarin hulle hul passies najaag en die vaardighede wat hulle ontwikkel het, gebruik om op die een of ander manier terug te ploeg.

Een van my kliente het altyd daarvan gehou om te sing. Sy het nou die tyd om ʼn lid te wees van ʼn koor wat opwinding en vreugde bring in die lewens van mense in aftreeoorde en hospitale. Sy het onlangs vertel dat om die mense dop te hou wanneer hulle na haar musiek luister en op maat daarvan dans, haar emosioneel bevredig en haar die geleentheid gee om met hulle kontak te maak.

Ek het ook ʼn kliënt wat dol is op fietsry wat nou meer tyd het om op sy fiets te deur te bring. Hy kry ander mense van sy ouderdom om mee te doen, en moedig hulle só aan om fiks te bly en gesonder te wees.

Om jou passie te deel, is ʼn manier om te gee. Vir een van my kliënte is dit om haar dogter – wat ʼn gestremde kind het – ʼn broodnodige blaaskans te gee wanneer sy dit nodig het. Vir talle grootouers is daar groot vreugde te vind deur tyd saam met hulle kleinkinders deur te bring. Hulle vind dikwels dat hulle soveel meer geduld het as wat hulle as ouers gehad het, en dat hulle wysheid kan bied en ʼn ander perspektief aan hul families kan gee.

Om jou tweede lewe te betree is ʼn proses
Wat al hierdie kliënte gemeen het, is dat hulle beplan het vir hulle aftrede, en hiermee bedoel ek nie slegs finansieel nie. Hulle het besef dat hulle nog soveel het om te gee en was nie gereed om agteroor te sit en die lewe te sien verbygaan nadat hulle hul loopbaan agtergelaat het nie. Nietemin moet daar ʼn oorgangsperiode wees tussen om elke dag te werk en om jou passie te ontdek.

Toe ek begin het om aftreebeplanning met een werkverslaafde kliënt te bespreek, het ek voorgestel dat hy ʼn stokperdjie kry, aangesien aftrede hom andersins gek sal maak. Hy het met kunsklasse begin. Hoewel hy steeds konsulteer, is dit op sy eie terme, wat hom die geleentheid bied om te skilder en tyd in sy tuin deur te bring, wat hom groot vreugde gee. Toe sy suster se man onlangs oorlede is, kon hy haar bystaan en het hy selfs sy skilderwerk gebruik om haar te help om die situasie te hanteer. Aftrede is ʼn proses, nie net ‘n oomblik nie.

Moenie te lank wag om af te skaal nie
Namate jy jou tweede lewe binnegaan, mag dit nodig wees om aanpassings te maak en dit is beter om dit vroeër, eerder as later, te doen. ʼn Kliënt uit die Klein Karoo het met my gedeel dat hy en sy vrou besluit het om van Pretoria na ʼn aftreeoord op ʼn klein dorpie te trek toe hulle 62 jaar oud was en steeds hul eie besluite kon neem. Hulle was in beheer van die trek en kon self pak en die kartondose hanteer. By die aftreeoord waar hulle nou woon, sien hulle soms nuwe intrekkers wat te lank gewag het om te trek, wat die proses baie meer traumaties maak.

Koester elke aspek van jou lewe
Terwyl dit noodsaaklik is om finansieel voor te berei vir aftrede, moet jy ook aandag gee aan die ander aspekte van jou lewe. Leefstylkeuses en die verhoudings wat jy oor die jare onderhou, is belangrike aspekte wat jou in staat stel om ʼn ware nalatenskap te bou.

Die een eienskap wat my kliënte wat gelukkig is ná aftrede deel, is dat hulle hul liggaam, verstand, gees en verhoudings versorg het. Indien jy nie ʼn gebalanseerde lewe gelei het tydens jou werksjare nie, is dit moeilik om dit later te begin doen. Belê in jou gesondheid deur die regte kos te eet en te oefen – jy het nog soveel lewe om te leef en jy wil fris en gesond wees om dit te geniet.

Hoewel familie en verhoudings belangrik is, onthou dat jou kinders met hul eie lewens besig sal wees en dat jy nie op hulle kan staatmaak om jou besig te hou nie. Jy moet jou eie lewe en belangstellings hê.

Jy word nie 60 sonder om uitdagings in die gesig te staar nie
Die merkwaardige aspek van my kliënte is dat hoewel hulle almal die lewe koester en dankbaar is vir alles wat hulle het, staar bykans almal van hulle ʼn persoonlike uitdaging in die gesig. Dit sluit in ʼn pa wie se 32-jaar oue seun vir drie maande in ʼn koma was na ʼn motorongeluk en nooit weer sal kan werk nie, en ʼn ouer wie se dogter per ongeluk swanger geraak het en hulp nodig het om haar kind groot te maak.

Ons is almal blootgestel aan onvoorsiene gebeurtenisse en niemand se lewe is perfek nie, maar hoe jy verkies om die uitdagings te hanteer, maak die verskil. Gelukkige mense is diegene wat beplan om hul lewens te verryk.

Deel hierdie artikel:
Linked In | Facebook | Twitter | Email

Liberty Innovasies
 
Sleutel-innovasies om aan jou behoeftes te voldoen
 
Finansiële produkte moet ontwikkel en innoveer om aan te pas by die veranderende omgewing. Hier deel ons sommige van ons sleutel-innovasies wat voorsien in ons kliënte se veranderende finansiële behoeftes.
 
Lees meer...
Leefstyl
 
Vier Suid-Afrika se kulturele verskeidenheid
 
In Suid-Afrika koester ons ʼn verskeidenheid beskouings en tradisies. Met 11 amptelike tale, vereis dit dikwels baie geduld en respek in die werkplek, en selfs by die huis, om te leer om met mekaar saam te leef.
 
Lees meer...

U terugvoering is vir ons belangrik – gesels met ons!

Dankie vir die terugvoer wat ons tot dusver op hierdie nuusbriewe ontvang het. U kommentaar en voorstelle help ons om u van toepaslike inligting te voorsien om u geldsake te beplan en te bestuur.

Gaan asseblief daarmee voort om met ons te gesels en te laat weet wat u dink. U kan opmerkings per e-pos stuur aan [email protected].

Liberty.co.za | Kontak Ons | Verander my besonderhede

Die inligting vervat in hierdie kommunikasie, aanhangsels inkluis, moet nie as advies beskou word in terme van die FATD-wet nie, aangesien die skrywer nòg 'n aangestelde verteenwoordiger van Liberty, nòg 'n gelisensieerde diensteverskaffer is soos beskryf in die FATD. Raadpleeg asseblief u finansiële adviseur indien u advies van 'n finansiële aard en/of tussentydse dienste verlang.