Kinders leer op talle plekke buite die huis van geld – byvoorbeeld by die skool, kamp en tydens fondsinsamelings. Nietemin sal die vaste basis wat jy hulle gee hulle vir die res van hul lewens voorberei. Die grootste les is: Geld is nie ʼn gelukspel nie, dit is die resultaat van harde werk en slim keuses.
Finansiële geletterdheid op verskillende ouderdomme:
Ouderdom 3: Teen hierdie ouderdom verstaan die meeste kinders dat jy geld betaal vir die dinge wat jy wil hê. Hulle gaan saam met jou winkel toe om kos te koop, na die speelgoedwinkel om geskenke te koop, of na die motorhawe vir petrol, en sien hierdie uitruil van geld daagliks. Jy kan hulle leer van die ruilhandelstelsel wat bestaan het voor ons geld gehad het, toe mense items verruil het vir die goed wat hulle wou gehad het.
Die uitdaging in daardie tyd was dat hulle moes ooreenkom oor die waarde van hierdie goedere en oor wat ʼn regverdige ruiltransaksie was. Verder, verbeel jou dat jy ʼn vark moes rondkarwei sodat jy dit vir brood, eiers, ensovoorts kon verruil! Dit gee nuwe betekenis aan die term ‘spaarvarkie’! Dit bring ons by ʼn ander aspek – maak dit pret! Kinders leer vinnig wanneer hulle hulself geniet. Dus, moenie die leerproses ʼn werk maak nie.
Ouderdom 4-5: Hoewel talle van ons daarvan hou om te spog dat ons kinders teen ouderdom twee tot 100 kan tel, verstaan die meeste kinders nie op daardie ouderdom die konsep van getalle en tel nie. Dit is gewoonlik napratery en, hoewel indrukwekkend, ontbreek begrip.
Teen vierjarige ouderdom kan jy begin om jou kinders te leer om munte te tel – hou die konsep in hierdie stadium eenvoudig. Kinders leer dit regtig vinnig, veral wanneer hulle ʼn hopie silwer voor hulle het. Soek raakpunte met hulle belangstellings. Indien hulle ʼn onversadigbare suikertand het, gebruik dit om hulle te motiveer. Jy kan sê: “Indien ʼn Fizz Pop R1 kos, tel jou munte en sien hoeveel jy kan koop.” Die sleutel tot sukses is in hierdie stadium om die konsep aan hulle te verduidelik, maar om hulle toe te laat om dit self te probeer, selfs al beteken dit dat jy geduldig wag en droom van ʼn skemerkelkie terwyl hulle hul munte noukeurig uittel.
Ouderdom 6-7: Steeds gaan dit oor motivering – en praktiese ondervinding. Indien jou kind die nuutste tablet wil hê en nie kan verstaan waarom jy nie gretig is om soveel te betaal vir ʼn elektroniese speelding nie, is dit die geleentheid om hulle ʼn belangrike les te leer. Hiermee bedoel ons sypaadjie-koekieverkooptafel finansiële vernuf.
Help hulle om te dink aan ʼn eenvoudige geldmaakskema in die woonbuurt. Vra hulle wat hulle dink mense nodig het, soos motors was, koeldrank koop op ʼn warm dag, ens. Help hulle om ʼn besigheidsplan te formuleer – hoeveel gaan dit kos om die koekies te bak? Vir hoeveel sal hulle die koekies moet verkoop om ʼn wins te maak? Hoeveel koekies moet hulle bak? Hoeveel pakkies koekies moet hulle bak en verkoop om die tablet te kan koop? Aha! – die waarde van ʼn les in wat jy nodig het teenoor wat jy wil hê ... Ka-tjing!
Namate jou kinders ouer word kan hulle leer oor spaarrekeninge, die opstel van ʼn persoonlike begroting en om geld te leen (debiet en krediet). Wend ʼn poging aan om jou lesse in pas te hou met dit wat hulle in die skool leer, maar onthou altyd om hul eie behoeftes as vertrekpunt te gebruik – en gee hulle die ruimte om foute te maak. |