Inkomstebeskerming is waarskynlik nie die soort dekking wat jong Suid-Afrikaners oorweeg wanneer hulle hul loopbane aanpak nie, maar dit is noodsaaklik dat hulle vanaf hul eerste werksdag voldoende beskerming het teen verlies aan inkomste.
Die jongste eisstatistiek van Liberty toon dat jong Suid-Afrikaners – of millenniërs – in 2015 meestal teen inkomstebekermingsvoordele geëis het, met afleggings (15,9%) as die hoofrede vir die eise.
“Namate die Suid-Afrikaanse ekonomie worstel om momentum te herwin, het ons ʼn konstante styging in afleggingseise gesien. Dit is ʼn duidelike teken dat selfs millenniërs die risiko om hul werk te verloor in die gesig staar. Tog is daar bitter min begrip vir die rede hoekom ‘n mens jou vermoë om ‘n inkomste te verdien, moet verseker,” sê Henk Meintjes, Liberty se Hoof: Risikoproduk-ontwikkeling.
Meintjes sê dat inkomstebeskermingsdekking, hoewel deel van ʼn groter leefstylbeskermingsoplossing, die eerste ding behoort te wees wat ʼn jong persoon met ʼn geakkrediteerde finansiële adviseur bespreek.
“By die aanvang van jou loopbaan, kry ʼn geakkrediteerde finansiële adviseur om aan te dui watter dekking in elke fase van jou lewe op jou van toepassing is. Bespreek inkomstebeskerming wanneer jy jou loopbaan begin, sodat jy kan verseker dat jy kan voortgaan om die leefstyl waaraan jy gewoond is terwyl jy ʼn salaris verdien, te bekostig,” sê hy.
Hoe werk inkomstebeskerming?
Besering, siekte of aflegging kan skielik gebeur en vir ʼn onvoorspelbare tydperk jou vermoë om ʼn inkomste te verdien, affekteer. Jy sal jou lewensonderhoud moet kan betaal om jou leefstyl oor hierdie periode te handhaaf, sowel as om voort te gaan om bydraes te maak tot jou spaargeld en beleggings. Indien jy inkomstebeskerming teen ʼn maandelikse fooi uitneem, sal dit jou hiermee help. Jy sal dan dekking geniet en ʼn gespesifiseerde persentasie van jou salaris ontvang oor die periode wat jy nie kan werk nie, vir tot ses maande na jou aflegging.
Inkomstebeskermingsvoordele voorsien ʼn inkomste terwyl jy as gevolg van siekte, ongeskiktheid of aflegging nie in staat is om te werk nie.
Indien daar één ding is wat jy dié maand doen, “verseker dat jy met ʼn geakkrediteerde finansiële adviseur gesels oor die beskerming van jou inkomste,” adviseer Meintjes. |