Die eerste vraag wat kliënte my dikwels vra, is: “Waar behoort ek my geld te belê?” As ʼn adviseur is die eerste vraag wat ek vra: “Waarvoor is die belegging?” Dit is omdat die beste belegging die een is wat aan jou behoeftes voldoen.
BEHOEFTE NO 1: Spaar vir volgende jaar se skoolfooie of vir ʼn deposito op ʼn huis of ʼn motor
Vir korttertermynbeleggings, waar die tydshorison tussen ses en twaalf maande is, sal jy nie jou kapitaal op risiko wil plaas nie, aangesien daar nie genoeg tyd is om enige verliese te herwin nie. ʼn Kapitaalwaarborg is baie belangrik oor ʼn kort periode, terwyl inflasie ʼn kleiner bekommernis is.
HOE OM JOU DOELWIT TE BEREIK: Jy kan geldmarkfondse of ʼn vaste deposito wat jou kapitaal waarborg en ʼn redelike rentekoers aanbied, oorweeg. Jy kan ook ʼn lae-risiko effektetrustportefeulje, soos die Stanlib Income Fund, oorweeg.
BEHOEFTE NO 2: Belê in jou kind se universiteitsopvoeding
Hopelik sal jy so spoedig moontlik in jou kind se tersiêre opleiding begin belê, sodat die groei op die belegging kan help om inflasie op opvoedingskostes teen te werk. Aangesien hierdie belegging oor ʼn langer periode strek, sou jy ʼn portefeulje oorweeg wat groeibates soos aandele insluit, sodat jy kan verseker dat die belegging groei teen ʼn koers wat inflasie klop.
HOE OM JOU DOELWIT TE BEREIK: Die Liberty Excelsior Education Plan stel jou in staat om ʼn onderliggende portefeulje te kies wat voldoen aan jou tydshorison. Ek beveel ook aan dat ouers die educator-voordeel insluit, ʼn lewensversekeringspolis wat betaal vir die kind se opvoeding vanaf die datum van die eis tot die derde jaar van tersiêre opvoeding, indien die polishouer sterf of ongeskik raak.
BEHOEFTE NO 3: Spaar vir lewensdoelwitte
Talle van ons kliënte het doelwitte wat hulle oor die volgende 10 jaar wil verwesenlik, soos om hul eie besigheid te begin of ʼn sabbatsrus te neem. Hoewel die doelwitte nie noodwendig op die aftreejare gemik is nie, moet ʼn mens selfs oor ʼn 10-jaar periode ʼn belegging oorweeg wat inflasie sal klop. Teen ʼn inflasiekoers van 6% per jaar sal jou belegging met 80% oor ʼn 10-jaar periode moet groei om net sy huidige waarde te behou.
HOE OM JOU DOELWIT TE BEREIK: ʼn Belastingvrye spaarrekening bied die perfekte geleentheid om welvaart in ʼn belastingvriendelike omgewing, wat steeds buigsaamheid bied, te groei. Hierdie rekeninge is lae-koste, belasting-effektiewe beleggings. Jy kan tot R30 000 per jaar bydra tot op R500 000 oor jou leeftyd. Verseker net dat die onderliggende belegging ʼn effektetrust of ander groeibate is.
BEHOEFTE NO 4: Voorbereiding vir die goue jare
Dit is noodsaaklik om vir aftrede te spaar, aangesien slegs ʼn handvol Suid-Afrikaners gemaklik kan aftree. ʼn Aftree-annuïteitsplan stel jou in staat om jou pensioenfonds by jou werkgewer aan te vul, veral indien jy jou aftreefonds onttrek het toe jy van werk verander het en nou moet inhaal. Die voordeel van ʼn aftree-annuïteitsplan is dat ons regering aansporingsmaatreëls het om ons aan te moedig om vir ons aftrede te spaar deur belastingkortings op ons bydraes tot so ʼn plan toe te staan. Een van die uitdagings is dat, terwyl ons besig is om te spaar, ons selde weet watter inkomste ons in ons aftrede sal ontvang.
HOE OM JOU DOELWIT TE BEREIK: Liberty se Agile Retirement Range stel kliënte in staat om die bedrag wat hulle as ʼn inkomste tydens aftrede sal ontvang, gedeeltelik te waarborg. Die produk allokeer terselfdertyd bykomende aftreefondse na hoër-risiko beleggingsportefeuljes om voordeel te trek uit groei op die aandelebeurs deur middel van ʼn keuse van meer as 100 portefeuljes, wat aan die behoeftes van bykans enige aftree-strategie voldoen.
BEHOEFTE NO 5: Belê in jouself
Terwyl finansiële adviseurs dalk op rand en sent fokus, is daar ander maniere van belê wat nie slegs beleggingsprodukte insluit nie. ʼn Belegging in jouself deur middel van verdere opvoeding of om jou eie besigheid te begin, is byvoorbeeld net so ʼn belangrike “beleggingsklas”.
HOE OM JOU DOELWIT TE BEREIK: Dit is belangrik dat jou finansiële adviseur jou beleggingsplan holisties beskou en ʼn gebalanseerde produk aanbeveel wat aan al jou beleggingsdoelwitte voldoen.
|
Wat gaan met jou Own your Life Rewards gebeur?
Indien jy ʼn lid is van die Own your Life Rewards-program, het jy waarskynlik reeds kennis gekry dat die program uitgefaseer word en dat dit binne ʼn jaar, op 31 Maart 2017, gestaak word.
Vir meer inligting in dié verband, kontak gerus u finansiële adviseur of besoek: www.ownyourliferewards.co.za.
|