Die Retail Distribution Review (RDR) beveel veranderinge aan ten opsigte van die wyse waarop finansiële produkte verkoop word en hoe daar vir advies betaal word.
Die doel van die Retail Distribution Review (RDR) is om die uitkoms of resultaat vir kliënte te verbeter deur te verseker dat hulle die beste advies en oplossings vir hul individuele behoeftes ontvang. Dit sluit aspekte in soos groter deursigtigheid rakende fooie, ʼn akkurate aanduiding waarvoor die kliënt betaal en hoe daardie advies of produk hulle sal bevoordeel.
Van kliënte word ʼn groot kopskuif verwag, sodat hulle begrip kan hê vir die waarde van advies. Tans word die koste van advies ingebou in die kommissiestruktuur van ʼn produk en beskou die meeste mense die advies as “gratis”. Dit kan die egte waarde van advies en die rol van ʼn goeie finansiële adviseur ondermyn. In die VK, waar RDR reeds vir ʼn aantal jare toegepas word, het daar heelwat tyd verloop voordat kliënte gewoond geraak het aan die beginsel van betaalde advies, nieteenstaande die feit dat hulle dit nog altyd gedoen het.
Die rol van advies, soos verskaf deur ʼn finansiële adviseur, is om op te voed, rigting en ondersteuning te gee, en om op ʼn verantwoordelike, deursigtige en verstaanbare wyse te voldoen aan die kliënt se behoeftes ten opsigte van finansiële beplanning. Die uitdaging vir langtermyn-versekering is egter om die kliënt te oortuig van die belangrikheid daarvan om voorsiening te maak vir hul toekomstige behoeftes, veral as die voordeel eers later realiseer, of soms nie eens geag word nie, waar dit slegs die kliënt se erfgename is wat bevoordeel word.
Ongelukkig benader talle van ons aspekte soos lewensversekering en aftreebefondsing met teësin. Terwyl ons nog jonk is, voel ons onoorwinlik en is dit moeilik om met konsepte soos dood of ongeskiktheid te identifiseer, en voel dit asof aftrede te ver in die toekoms is om saak te maak. Ons is geneig om van nature optimisties te wees, totdat iets met ons of iemand naby aan ons gebeur – en dan is dit dikwels te laat. Dus, gegewe dat advies daaroor gaan om ons te help om iets te doen waaroor ons eintlik nie wil dink nie, is dit iets waarvoor ons bereid sal wees om te betaal? Ons glo dat die RDR die uitkomste vir beide die kliënt en die bedryf sal verbeter, maar slegs indien die kliënt die waarde van goeie advies ondervind.
Hoewel die RDRslegs oor die volgende drie jaar ingefaseer sal word, is ons by Liberty reeds besig om ons produkte en ondersteuning met die voorskrifte daarvan te versoen om ons adviseurs in staat te stel om die beste beskikbare advies en oplossings aan ons kliënte te bied, sodat die waarde van advies ten volle verstaan en besef sal word. Ons gebruik tegnologie en kommunikasie om ons kliënte te verstaan en te bedien en sal nog meer innoverende oplossings in werking stel om aan ons kliënte se behoeftes te voldoen.
As ʼn kliënt sal jy die reg hê tot:
- Volledige inligting ten opsigte van die kostes van beide advies en produkte, asook om in te stem tot die fooie.
- Redelike fooie wat in pas is met die diens wat ontvang is.
- Verandering van adviseurs en om voortgaande fooie te staak indien jy nie deurlopende advies ontvang nie.
- Advies oor die beste produk vir jou behoeftes en ʼn redelike verwagting van ʼn regverdige uitkoms.
|