Gesertifiseerde finansiële beplanner, Palesa Tlholoe, dink na oor die behoeftes van dertigjariges en gee ʼn lys vrae om ná jou 30ste verjaarsdag aan jou finansiële beplanner te vra.
As iemand wat self dertig-en-ʼn-bietjie-jaar-oud is, het ek die enorme finansiële veranderinge wat jou in jou dertigs in die gesig staar, self ondervind. In ons twintigs pas ons nog aan by die werkswêreld en is ons in talle opsigte nog besig om groot te word. Ons voel onoorwinlik, asof ons nog baie tyd het voor ons bekommerd hoef te wees oor dinge soos aftrede. In ons twintigs is ons geneig om minder bekommerd te wees oor ons finansiële toekoms, maar dit verander sodra ons gevestig raak en vir die eerste keer blootgestel word aan finansiële dienste en advies.
Om jou eerste huis te koop
Dikwels is dit rondom hierdie ouderdom dat ons ons eerste groot belegging maak, naamlik in eiendom. Vir sommige is hierdie eiendom hul eerste huis, terwyl ander dit weer as ʼn belegging beskou terwyl hulle steeds saam met familielede woon. Hoe dit ook al sy, dit behels dikwels die aangaan van ʼn lening, wat ʼn risiko is, veral indien jy nie die terugbetalings as gevolg van dood, siekte of ongeskiktheid kan byhou nie. Bespreek eers die volgende met jou finansiële adviseur voordat jy hierdie verbintenis maak:
- Wat sal normaalweg met my eiendom gebeur indien ek nie as gevolg van dood, ongeskiktheid of ernstige siekte die terugbetalings kan volhou nie?
- Hoe kan ek verseker dat my gesin steeds die gebruik van my eiendom sal hê indien ek te sterwe kom? Hoe sal hulle deur boedelbelasting geaffekteer word?
- Ek het nie tans afhanklikes of ʼn gade nie, waarom moet ek my eiendom beskerm indien ek te sterwe kom?
- Behoort ek spesifiek versekering uit te neem om my verbandterugbetalings te dek, of behoort dit deel uit te maak van my oorhoofse lewensversekeringsdekking?
Belê vir groei
Talle van my kliënte in hierdie ouderdomsgroep het op die een of ander wyse begin spaar, maar hulle gebruik dikwels nie die regte beleggingsvoertuie vir hul spesifieke doelwitte nie. Nou is ʼn goeie tyd om jou beleggingsdoelwitte te hersien en seker te maak dat jy toepaslike beleggingsprodukte gebruik.
- Waarom is dit ʼn waagstuk om my langtermynspaargeld in ʼn geldmark- of 32-dae-kennisgewingrekening te plaas?
- Wat is sommige van die beleggingsopsies wat ek kan gebruik om welvaart te begin skep?
- Wat is die beste manier om vir noodgevalle te spaar?
- Wat is doelwit-gerigte beleggingsbeplanning en hoe kan ek dit aanwend om finansiële vryheid vir my en my gesin te skep?
- Waarom is dit belangrik om die termyn van die belegging in ag te neem wanneer ek ʼn beleggingsopsie kies?
Beskerm jou grootste bate
Teen ouderdom 30 het baie min mense noemenswaardig baie bates bymekaargemaak, maar wat hulle nie altyd besef nie, is dat hul grootste bate op hierdie ouderdom eintlik hul toekomstige inkomste is. Indien jy, wanneer jy 30 jaar oud is, R20 000 per maand verdien en nooit ʼn salarisverhoging ontvang wat hoër as die inflasiekoers is nie, sou jy steeds teen 65 R26¬ miljoen oor jou leeftyd verdien het. Dit verteenwoordig ʼn baie groot bate, dus behoort jy die volgende met jou adviseur te bespreek:
- Hoe kan ek my inkomste verseker sodat ek myself beskerm teen onvoorsiene gebeurtenisse soos afdanking of die onvermoë om te werk as gevolg van siekte?
- Indien my werkgewer my reeds voorsien van salarisbeskerming in geval van ongeskiktheid, word dit aanbeveel dat ek ook soortgelyke versekering van ʼn versekeringsmaatskappy moet uitneem?
- Hoe maak ek vir my gesin voorsiening indien ek nie kan werk nie?
Hou aftreefondse vir aftrede
Ongeveer op hierdie ouderdom verander talle mense vir die eerste keer van werk en is die versoeking groot om hul aftreegeld in kontant om te skakel. In sommige gevalle kan dit gebeur omdat hulle onbewus is van die metodes waarmee jy jou aftreefonds kan bewaar, maar vir ander is dit ʼn geleentheid om skuld af te betaal of ʼn deposito op ʼn huis te betaal. Die probleem is dat hierdie aangeleenthede as aparte finansiële behoeftes beskou behoort te word en dat ʼn korttermynbesluit jou aftreeplanne kan ontspoor. Die saamgestelde groei op aftreefondse wat in jou 20’s opgebou word, kan bykans ʼn derde van jou finale aftree-enkelbedrag beloop.
ʼn Verandering van werk is ʼn goeie tyd om ʼn beraming van jou aftreebehoeftes te maak, aangesien jy die toepaslike bydraevlak by jou werkgewer kan kies, of alternatiewe reëlings kan tref indien jou werkgewer nie ʼn aftreefonds bied nie:
- Hoe formuleer ek my aftreedoelwitte sodat ek kan verseker dat ek na aftrede my lewenstandaard kan volhou?
- Het ek ʼn aftree-annuïteit nodig, selfs indien ek ʼn pensioen-/voorsorgfonds by my werkgewer het?
- Wat is die verband tussen my pensioen-/voorsorgfonds en my aftree-annuïteit?
- Waarom tree die meeste mense nie gemaklik af nie, ondanks die feit dat hulle ʼn pensioen- of voorsorgfonds by hul werkgewers gehad het?
- Is daar opsies beskikbaar om te verhoed dat ek my pensioen- of voorsorgfonds in kontant neem wanneer ek my werkgewer verlaat? Wat is hierdie opsies?
- Hoe kan ek die grootste voordeel trek uit die belastingvoordele wat vir aftreefondse beskikbaar is?
Jou 30’s is die ideale tyd om meer finansieel bewus te raak, en om eenvoudig die antwoorde op hierdie vrae te kry, sal jou goed te pas kom gedurende baie jare wat voorlê.
|