Indien daar enige les te leer is uit die Brexit-debakel, is dit dat jy nooit die toekoms kan voorspel nie – selfs nie indien jy die eerste minister van Engeland is nie. Dit is waarom om te belê oor ʼn langtermyndoelwit gaan en nie oor korttermynmarkwisselinge, wat dikwels op irrasionele besluite gebaseer is nie.
Jy kan nie die bewegings van die markte oor die volgende ses maande voorspel nie, maar jy kan redelik seker wees oor die langtermynvooruitsigte van die maatskappye waarin jou beleggings is. Mense gaan nie begin om minder selfoonoproepe te maak net omdat Brittanje die Europese Unie verlaat nie, dus sal die impak op Vodacom se wins onbeduidend wees, selfs indien sy aandeleprys vasgevang raak in die Brexit-chaos.
Indien die risikoprofiel van jou belegging steeds in pas is met jou langtermynrisikoprofiel en goed gediversifiseer is, wees versigtig vir enige impulsiewe reaksies en verhoed paniekerige, oorhaastige besluite wat teenstrydig is met jou oorhoofse beleggingstrategie. Dit is veral van toepassing op jou aftreefondse wat, danksy Regulasie 28, goed gediversifiseer behoort te wees en wat uit hul aard ʼn baie langer beleggingsperiode het.
Sodra al die geraas en chaos uit die stelsel is, sal goeie gehalte maatskappye met goeie winste se aandelepryse herstel. Die realiteit is dat hoewel Brittanje se groei waarskynlik geaffekteer sal word, sal die gevolge van Brexit baie minder wees as waarop die huidige wisselvalligheid in die markte dui.
In werklikheid bied ʼn swak mark geleenthede aan beleggers om goeie gehalte bates te bekom wat paniekerige beleggers verkoop. Vir individue wat in Britse-aandele belê, is dit die moeite werd om te onthou dat die meeste van die inkomste van hierdie London-gelyste maatskappye in werklikheid van buite Brittanje kom, dikwels uit ontluikende markte, en dat ʼn swakker pond hul gerapporteerde winste verhoog. Britse uitvoerders baat ook by ʼn swakker pond.
Uit ʼn plaaslike perspektief het ons ten spyte van die wisselvalligheid van Brexit wat ons markte beïnvloed het, ʼn sterk herlewing van buitelandse aankope in ons aandelemark ervaar, met buitelanders wat R60 biljoen se aandele in Junie gekoop het.
Eerstens is geld besig om terug te vloei na die ontluikende markte. Die MSC-indeks vir ontluikende markte verhandel nou in dollars op ʼn soortgelyke vlak as nege jaar gelede, wat aanloklik is vir ʼn aantal waarde-gebaseerde beleggers.
Tweedens was daar goeie herstel, vanaf geweldig lae vlakke, in talle kommoditeitpryse wat ontluikende markte ʼn hupstoot gee, met ʼn styging van 57% in die dollarwaarde van die JSE-mynbou-indeks oor die eerste ses maande van die jaar.
Wat om te doen wanneer markte ineenstort
- Indien jy jou beleggingsdoelwitte verstaan en gemaklik is dat jou beleggingsportefeulje daardie doelwitte reflekteer, moet jy net wag.
- Indien jy angstig en bekommerd voel oor die effek op jou aftree-neseier, gesels met jou finansiële adviseur en maak seker dat jou beleggingstrategie klop met die vlak van risiko wat jy kan hanteer, met inagneming van die risiko wat jy moet neem ten einde redelike groei te verseker. ʼn Ineenstorting is nietemin nie die tyd om jou aandele te verkoop nie.
- Indien jy ʼn bedrag kontant het om te belê, hou jou oë oop vir geleenthede wat na vore gekom het – veral indien jy jou buitelandse blootstelling wil verhoog.
|