Finansiële terme kan baie verwarrend wees, veral wanneer verslag gedoen word oor ekonomiese aangeleenthede of markopbrengste. Die taal wat in versekerings- en aftreepolisse gebruik word, is net so verwarrend, nogtans sal ʼn begrip vir die verskil tussen ʼn begunstigde en ʼn afhanklike byvoorbeeld ʼn beduidende invloed hê op ʼn sterftevoordeeleis.
Hier is sommige van die terme wat jy algemeen sal teëkom:
Polisse
Begunstigde: ʼn Persoon (of trust) wat die opbrengs van ʼn polis of belegging ontvang indien jy sterf.
Afhanklike: ʼn Persoon wat op ʼn ander persoon, veral ʼn familielid, staatmaak vir finansiële ondersteuning. In sommige gevalle kan ʼn afhanklike ʼn eis hê teen ʼn polis of aftreefonds, selfs al is hy of sy nie ʼn begunstigde nie.
Ongeldig maak: Om ʼn kontrak, ooreenkoms, dokument ens. ongeldig te maak, bv. indien die aanwysings nie korrek gevolg word nie, kan die waarborg ongeldig raak.
Belading: ʼn Addisionele bedrag buiten die premie wat jy moontlik bykomend vir versekering moet betaal. Byvoorbeeld, jy het ‘n hartsiekte maar verlang lewensversekering. Die versekeringsmaatskappy sal jou as ʼn hoë risiko assesseer, en jou ʼn hoë premie laat betaal wat bestaan uit ʼn basiese tarief plus ʼn belading.
Onderskryf: Om ʼn waarborg te verskaf teen finansiële risiko deur daardie risiko te aanvaar, soos wat finansiële instellings doen wanneer hulle ʼn versekeringspolis aanbied (onderskryf), of wanneer hulle nuwe sekuriteite-uitgifte van die uitreiker koop om aan die publiek te herverkoop.
Premie: Die bedrag wat jy maandeliks of jaarliks vir ʼn versekeringspolis betaal.
Kwotasie: ʼn Beraming van die bedrag wat jy vir ʼn polis sal betaal, en/of die waarde van daardie polis in toekomstige jare.
Om te belê
Die mark: Dit verwys gewoonlik na die aandelemark, ʼn plek waar aandele of maatskappye gekoop en verkoop word.
Opbrengs op ekwiteit (ROE): ʼn Maatstaf van hoe goed ʼn maatskappy aandeelhouers se fondse gebruik om ʼn wins te maak. Dit word uitgedruk as ʼn persentasie van netto wins tot netto bates.
Dividendopbrengs: Jaarlikse opbrengs uit aandele in besit, bepaal deur die maatskappy se totale dividende vir die jaar te verdeel deur die huidige aandeleprys.
Randkosteverspreiding: ʼn Stelsel waardeur aandele, of onderaandele (eenhede) in beleggingsfondse, akkumuleer deur ʼn vaste bedrag geld met vasgestelde tussenposes te belê. Dit beteken dat die belegger meer aandele/eenhede koop wanneer die prys laag is, en minder wanneer die prys hoog is. Die teorie is dat dit goedkoper is as ʼn stelsel wat die aankoop van ʼn vaste aantal aandele/eenhede met vasgestelde tussenposes behels.
Neseier: ʼn Bedrag geld wat jy spaar om later te gebruik, spesifiek vir jou aftrede.
Oorkoepelende (sambreel-) fonds: ʼn Fonds wat uit ʼn aantal verskillende beleggings bestaan. VOORBEELD: Die instelling van die nasionale pensioenskema sal lei tot ʼn omvorming in die private pensioenfondsbedryf, waar 80% van die fondse minder as 100 lede het. Kleiner fondse sal waarskynlik saamsmelt om sambreelfondse te vorm wat verskeie werkgewers dek voordat die nasionale skema geïmplementeer word.
Ekonomie en markte
Inkopieterapie: Wanneer mense inkopies doen om beter te voel, eerder as omdat hulle die produkte regtig nodig het.
Koopkragpariteit (PPP): ʼn Metode wat die waardasie van geldeenhede baseer op die veronderstelling dat twee identiese produkte in verskillende lande uiteindelik dieselfde behoort te kos. Dit word geïllustreer deur die Big Mac-indeks wat die prys van ʼn Big Mac-hamburger in verskillende lande vergelyk en die resultaat te gebruik om die relatiewe waarde van dié lande se geldeenhede te bepaal.
Vlug na kwaliteit: Wanneer beleggers hul fondse na veiliger/laer risiko-bates verskuif tydens ʼn besonder wisselvallige tydperk in die markte of as gevolg van politieke of ekonomiese onstabiliteit.
Kopersmark: ʼn Mark wat kopers bevoordeel aangesien die aanbod hoër is in vergelyking met die aanvraag en pryse dus relatief laag is. Die teenoorgestelde is ʼn verkopersmark.
Sagte landing: Wanneer ʼn ekonomie wat ʼn tydperk van baie vinnige groei aangeteken het geleidelik verlangsaam sonder om die negatiewe uitwerking van ʼn skielike ommekeer te toon.
Bron (sommige woorde): The Penguin Dictionary of Financial Terms
|
WEN!
Twee gelukkige Liberty kliente kan elk ‘n uitgawe van The Penguin Dictionary of Financial Terms deur Nixon Karimi Kariithi wen. Epos eenvoudig jou kontak besonderhede na [email protected] teen 25 Augustus 2016. Wenners sal direk gekontak word. |
|