Inflasie word bereken op ʼn mandjie handelsware, saamgestel aan die hand van navorsing deur Statistieke SA, wat die bestedingspatroon van die gemiddelde Suid-Afrikaner behoort te reflekteer. Die probleem met gemiddeldes is egter dat niemand gemiddeld is nie – en indien jou aankope beduidend verskil van die mandjie wat die verbruikersprysindeks (VPI) gebruik, ervaar jy ʼn heel verskillende inflasiekoers.
KOSTE VAN OPVOEDING Volgens Statistieke SA maak opvoedingskostes nagenoeg 3% van ʼn huishouding se besteding uit. Vir ʼn huishouding met ʼn inkomste en uitgawes van R50 000 per maand sal dit ongeveer R1 500 per maand beloop.
Vir ʼn fooigebaseerde staatskool vir een kind mag dit moontlik die regte berekening wees – maar vir ʼn gesin met twee of meer kinders is die bedrag wat hulle op opvoeding spandeer waarskynlik nader aan 6% van hulle maandelikse uitgawes. Gegewe die koste van private opvoeding, bevind talle gesinne hulle in ʼn situasie waar hulle tot soveel as 10% van hul inkomste op opvoeding spandeer – wat oor die afgelope jaar met ʼn massiewe 9,8% gestyg het. Hoe hoër die persentasie is wat jy aan opvoeding spandeer, hoe hoër is jou persoonlike inflasiekoers.
VOEDSELKOSTE Voedsel en nie-alkoholiese drankies het gemiddeld met 5,9%, net hoër as die inflasiekoers, gestyg, maar groente, sowel as olie en vette, het met 9,4% en 14,1% onderskeidelik gestyg – dus sal huishoudings wat meer groente, olie en vette as ander mense koop hoër pryse ervaar.
BRANDSTOFKOSTE Die VPI-mandjie maak voorsiening vir 4,18% vir elektrisiteit en ander brandstof, wat ʼn beraamde ongeveer R2 090 per maand vir ʼn huishouding met ʼn begroting van R50 000 is. Indien jou brandstofrekening hoër as hierdie bedrag is, sal jou totale inflasiekoers ook hoër wees.
ONVERMYDELIKE VERBRUIKERSKOSTES
Dit is ook die moeite werd om kennis te neem dat geadministreerde pryse soos elektrisiteit en water met onderskeidelik 11,1% en 9,8% gestyg het. Die verbruiker kan nie hierdie kostes vermy nie, aangesien dit verband hou met noodsaaklike goedere en dienste, anders as ʼn besluit om ʼn nuwe motor te koop of ʼn pakketvakansie te bespreek (beide het baie laer prysstygings ondervind).
Dit is ironies dat, indien jy ʼn gedeelte van jou begroting op ʼn pakketvakansie of ʼn nuwe motor sou spandeer het, jou totale inflasiekoers laer sou gewees het, aangesien die pryse van hierdie produkte en dienste met minder as die inflasiekoers gestyg het. Nietemin spandeer mense in moeilike finansiële tye minder op luukshede en meer op noodsaaklikhede.
Ongelukkig word enige salarisverhoging wat jy ontvang nie op persoonlike inflasie gebaseer nie, maar op gemiddelde inflasie – wat verduidelik waarom dit elke jaar moeiliker is om uit te kom met wat jy het.
*Die inflasiesyfers wat in hierdie artikel genoem word, is gebaseer op die VPI-indeksverslag van Desember 2015.
|