Die SA Reserwebank het tydens sy Monetêre Beleidskomitee-vergadering in Januarie vanjaar besluit om die repokoers met 50 basispunte tot 6,75% te verhoog.
Sedert Julie 2014 het rentekoerse met altesaam 175 basispunte gestyg, wat die repokoers van 5% tot 6,75% en die prima uitleenkoers van 8,5% tot 10,25% laat styg het. Vir iemand met ʼn verband van R1 miljoen, sou hul maandelikse terugbetalings met ongeveer R1 460 per maand in 18 maande toegeneem het.
Die hoofrede vir die verhoging in die rentekoers was kommer dat die inflasievooruitsig noemenswaardig verswak het, hoofsaaklik as gevolg van ʼn swakker wisselkoers en hoër voedselpryse. Inflasie sal nou na verwagting gemiddeld 6,8% in 2016 en 7% in 2017 wees. Dít vergelyk met ʼn vorige vooruitskatting van 6,0% en 5,8%.
Verdere rentekoersverhogings sal deur die inflasiekoers bepaal word, wat steeds na verwagting hoër as die mikpunt vir die eerste kwartaal van 2016 sal wees en wat nou na verwagting vir die volle periode buite die mikpunt sal bly. ʼn Hoogtepunt van 7,8% in die inflasiekoers word vir die vierde kwartaal van 2016 en die eerste kwartaal van 2017 voorspel, gevolg deur ʼn afplatting na 6,2% in die laaste kwartaal van daardie jaar.
Met hierdie syfers in ag genome is die Reserwebank bekommerd dat inflasie beduidend hoër as die boonste vlak van die mikpunt sal beweeg en verskans sal raak op die hoër gemiddelde vlak, wat hulle genoop het om die rentekoers te verhoog, ten spyte van ‘n veel swakker ekonomie. Ekonomiese groei is afwaarts aangepas van 1,9% tot 1,5% vir 2016 en van 2,1% tot 1,6% vir 2017.
In die lig van die aangepaste vooruitskouing vir SA se inflasiekoers, verwag Stanlib-ekonoom Kevin Lings dat die Reserwebank sal voortgaan om rentekoerse in 2016 met ʼn verdere 75 basispunte te verhoog, wat die repokoers tot 7,5% en die prima uitleenkoers tot 11% sal verhoog teen die einde van die jaar. Vir huiseienaars sal dit beteken dat hulle ʼn verdere R625 per maand op ʼn verband van R1 miljoen sal moet betaal. Die terugbetaling op ʼn verband van R1 miljoen sal teen die einde van die jaar ongeveer R10 320 per maand wees.
Die beste manier om jou verband teen verdere renteverhogings te verskans, is deur jou verbandterugbetalings met 10% te verhoog, selfs al beteken dit dat jy jou maandelikse uitgawes op ander dinge, soos vermaak en nie-noodsaaklike kruideniersware, moet besnoei. So sal jy jou begroting aanpas om die hoër betalings te absorbeer en het jy die voordeel dat jy kapitaal delg totdat die renteverhogings in werking tree. |