Indien jy onlangs ʼn verband uitgeneem het, het jy heel moontlik op jou verbandstaat opgemerk dat die rente wat elke maand gehef word bykans dieselfde is as jou maandelikse terugbetaling. Gedurende die eerste paar jaar van jou verbandterugbetaling maak rente ʼn groot gedeelte van die betaling uit. In die onderstaande voorbeeld sou ʼn verband van R750 000 teen ʼn 10% rentekoers ʼn terugbetaling van R86 851 per jaar vereis, waarvan slegs R12 410 aangewend word om die kapitaalbedrag te verminder.
Namate vordering gemaak word om die kapitaal te verminder, verminder die bedrag wat aan rente betaal word dienooreenkomstig, wat meer geld beskikbaar stel om die kapitaal te verminder. Dit het tot gevolg dat R30 411 teen die 10de jaar vir kapitaaldelging aangewend word en teen die finale jaar word 95% van die betaling vir kapitaaldelging aangewend.
R750 000 verband |
Terugbetaling per jaar |
Rente teen 10% p.j. |
Kapitaaldelging |
Jaar 1 |
R86 851 |
R74 441 |
R12 410 |
Jaar 5 |
R86 851 |
R68 368 |
R18 483 |
Jaar 10 |
R86 851 |
R56 440 |
R30 411 |
Jaar 20 |
R86 851 |
R4 527 |
R82 324 |
Dit is hoekom dit so voordelig is om elke maand iets ekstra in jou verband in te betaal – elke ekstra rand delg kapitaal en verminder dus die bedrag wat jy aan rente betaal.
Die onderstaande grafiek illustreer die onderskeie amortisasiekurwes (delgingskurwes) en die effek op huiseienaars, afhangende van hoeveel hulle maandeliks aan hul verband betaal.
Hierdie grafiek illustreer ʼn lening van R750 000 teen ʼn rentekoers van 10% per jaar oor 240 maande (20 jaar). Die aanname is dat ʼn rentekoers van 10% oor die volle termyn sal geld.
Normale delging (blou lyn)
Indien jy die minimum paaiement betaal, sal jy die verband oor 240 maande afbetaal. Jy sou oor die termyn R987 083 slegs aan rente betaal het.
Bykomende betalings (groen lyn)
Indien jy R500 per maand addisioneel betaal, sal jy die verband binne 200 maande (net minder as 17 jaar) afbetaal en R200 000 aan rentebetalings bespaar.
Onderbetaling (rooi lyn)
Indien jy R500 minder as wat vereis word betaal, of indien jy wisselvallige betalings maak, sal jy na 20 jaar net minder as R400 000 op jou huis skuld. |