1. Moenie daardie Januarierekeninge vergeet nie
Hier is ‘n werklik angswekkende gedagte, jy is dalk pas betaal, maar daar is nog 40 dae oor voor jou volgende salaris!
Wanneer jy jou salaristjek vir Desember 10 dae vroeër as normaalweg ontvang, kan dit voel asof Kersfees vroeg aangebreek het. Die nadeel is dat die meeste daarvan teen die einde van die maand gespandeer sal wees en wanneer daardie Januarierekeninge en debietorders opdaag, sal enige Nuwejaarsvoorneme om jou kredietkaarte en oortrokke fasiliteit te sluit, verbreek word.
Indien jy Januarie finansieel-fiks wil begin, verseker dat jou Januarierekeninge betaal is voordat jy begin geld uitgee.
2. Kry ‘n voorsprong op jou Januarie-uitgawes
Januarie beteken gewoonlik dat skoolfooie betaal en skoolklere en boeke gekoop moet word. Koop die skryfbehoeftes en skoolklere dié week en betaal die skoolfooie. Dit sal ‘n groot hoeveelheid stres voorkom wanneer die tyd aanbreek om die kinders voor die kwartaal begin gereed te kry vir skool.
Betaal ander rekeninge wat teen die einde van die maand betaalbaar sal wees. Indien jy weggaan, beteken dit ook dat jy nie bekommerd hoef te wees oor rekeninge wat betaal moet word terwyl jy vakansie hou nie.
3. Werk jou begroting uit
Bereken watter debietorders teen die einde van die maand teen jou rekening gehef sal word en maak seker dat jy geld beskikbaar hou om dit te kan betaal.
Oormerk ook geld vir lopende uitgawes in Januarie, ingesluit brandstof en kruideniersware. Jy wil nie kredietkaartskuld maak om bloot net kos te koop nie! Indien jy bekommerd is dat die geld uitgegee sal word indien dit in jou rekening bly, dra dit via jou internetbankdiens oor in ‘n spaarrekening wat aan jou bankrekening gekoppel is. Jy kan die geld die dag vóór jou debietorders betaalbaar is of aan die begin van die maand in jou rekening terugplaas vir lopende uitgawes.
4. Betaal jou verband voortydig Die rente op jou verband word op ‘n daaglikse basis bereken en jy spaar dus rente deur jou verband selfs net een dag vroeër te betaal. Indien jou verbandbetaling teen die eerste van die maand betaalbaar is en jy, byvoorbeeld, jou salaris op die 25ste ontvang, kan jy deur maandeliks daardie bykomende vyf dae vroeër te betaal rente op lang termyn spaar. Reël met jou bank dat jou debietorder op jou voorkeurdatum betaal word. |