Ons wens u ʼn ontspanne en veilige vakansieseisoen toe. Ongeag of u reis of sommer net tyd tuis deurbring, hier volg ʼn vinnige afmerklysie om u finansiële veiligheid en ʼn stresvrye vakansie te verseker.
Beskerm jou huis
Moenie jou huis onbewoon laat nie: Poog om ʼn geskikte huisoppasser te kry of reël dat ʼn vriend of familielid gereeld inloer. Stel jou sekuriteitsmaatskappy ook in kennis dat jy weg sal wees.
Toets jou alarmstelsel: Maak seker dat jou alarm werk en dat die sekuriteitsmaatskappy die seine ontvang. Oorweeg dit om die batterye van jou alarmsensors te vervang indien dit oud is.
Implementeer veiligheidsmaatreëls: Ontkoppel alle elektroniese toerusting om dit teen elektrisiteitstuwings en weerlig te beskerm. Skakel al jou warmwatertoestelle af. Jy sal elektrisiteit bespaar en jouself teen die risiko van ʼn gebarste of lekkende pyp beskerm. Maak seker dat alle pype, dreins en geute skoongemaak en sonder vullis of blare is sodat water vryelik kan deurvloei en van jou eiendom wegvloei.
Indien jy oorsee reis
Gebruik jou kredietkaart vir besprekings: Alle banke bied gratis reisversekering wanneer jy jou vliegkaartjie met jou kredietkaart bespreek. Basiese reisversekering dek nooduitgawes, regsbystand en selfs diefstal of vertraagde bagasie. Jy sal ook vergoed word indien die lugdiens voor of tydens jou reis bankrot raak.
Voldoen aan die FICA-vereistes: Jy moet jouself kan identifiseer wanneer jy aansoek doen vir buitelandse valuta. Neem jou ID, paspoort, bewys van verblyfstatus en vliegkaartjie saam wanneer jy bank toe gaan. Onthou ook dat jy ingevolge wetgewing jou ongebruikte buitelandse valuta binne 30 dae na jou terugkeer na Suid-Afrika moet inruil vir kontant.
Lig jou bank in: Verwittig jou bank van jou reisplanne sodat hulle nie jou kaart blokkeer indien hulle bekommerd raak oor transaksies op ongewone plekke nie.
Verwittig jou mediese skema: Jou mediese skema sal ook dekking verskaf vir die tydperk wat jy in die buiteland reis. Stel hulle in kennis van jou reisplanne en kry die toepaslike kontakbesonderhede.
Hou die papierwerk op datum: Laat die besonderhede van jou kredietkaart en paspoort by ʼn vennoot of ʼn vriend wat jy vertrou. Indien jy gesteelde dokumentasie of kaarte moet aanmeld, sal jy toegang hê tot die tersaaklike inligting.
Beheer jou kontantvloei: Gebruik ʼn aparte kaart vir vooraf-goedgekeurde transaksies. Hotelle en motorverhuringsmaatskappye blokkeer tydens die voorafgoedkeuringsproses fondse op jou kaart om te verseker dat dié geld beskikbaar sal wees wanneer jy moet betaal. Hulle stel dié fondse gewoonlik eers ʼn paar dae nadat jy betaal het weer beskikbaar, wat die bedrag beperk wat jy beskikbaar het vir die res van die reis.
Maak gebruik van verkooppunte: Daar is geen transaksiekoste betaalbaar indien jy jou kredietkaart by ʼn handelaar gebruik nie, wat dit die goedkoopste manier maak om geld te spandeer, terwyl jy ook nie die risiko loop van kontant-in-die-sak nie. Onthou egter om kontant in jou kaart in te betaal voordat jy reis, sodat jy nie met jou terugkeer ʼn massiewe kredietkaartrekening het nie.
Wees bedag op onttrekkingskoste: Indien jy kontant wil onttrek, trek eerder groter bedrae om jou transaksiekoste te verminder. Transaksiekoste is van toepassing wanneer jy geld trek, wat die valuta-omskakelingsfooi, jou bank se transaksiefooi en die buitelandse bank se kostes insluit. Die buitelandse bank hef ʼn bykomende fooi van ongeveer twee dollar of twee euro vir die gebruik van hul kitsbanknetwerk.
Berei voor vir ʼn lang reis
Indien jy hierdie vakansie ʼn lang reis per pad beplan, maak seker dat jou motor geskik is vir wat voorlê. Laat jou motor volledig versien voor jy reis, en gaan die olie- en watervlakke, asook die banddruk na voordat jou reis begin. Banddruk behoort nadat jou motor klaar gelaai is met inagneming van jou bepaalde vrag nagegaan te word, ingevolge die voorskrifte van die vervaardiger.
Die Automobiel-Assosiasie beveel aan dat jy die volgende nooditems saamneem:
• Brandblusser
• Eerstehulpkissie
• ʼn Spuitkan-tipe bandpomp gevul met gas en lateks om lekplekke te seël
• Flits
• Oorleikabel (jump lead)
• Sleeptou
• Ekstra motorsleutel – verkieslik in ʼn magneetkissie iewers aan die buitekant van die motor, byvoorbeeld agter die modderskerm of binne in ʼn wieldop versteek
• Waarskuwingsdriehoek
• Sterk kleefband
• Domkrag
• Wielsleutel
• Kompakte gereedskapkis
• Jou voertuig se tegniese handleiding
|