Jou vakansie aan die einde van die jaar hoef nie ʼn finansiële babelaas in Januarie tot gevolg te hê nie. Met die regte mate van voorbereiding en finansiële beplanning, kan jy die koste oor ʼn paar maande versprei.
Vakansies is belangrike tye om te rus, te ontspan en tyd saam met jou gesin deur te bring, en daar is slegs twee en ʼn half maande oor voor 16 Desember, die datum waarop die Suid-Afrikaanse somervakansie begin. Werk kom dan tot ʼn stilstand wanneer miljoene vakansiegangers per pad en lug op hul jaarlikse vakansie vertrek.
ʼn Klein bietjie voorafbeplanning kan ʼn moeilike maand in Januarie voorkom. Ons gee hierdie wenke om jou te help om finansieel kop bo water te hou gedurende die somer:
Stel ʼn begroting op
Bereken hoeveel jy kan bekostig om op jou vakansie te spandeer. Onthou om alle uitgawes in ag te neem, insluitende dié vir reis, verblyf, kos, dag-vir-dag-uitgawes, asook toeriste-attraksies. Indien jy per pad reis, moenie vergeet om petrolkostes en tolgelde in ag te neem nie.
Bespreek jou vlug
Indien jy beplan om te vlieg, probeer om jou vlug reeds hierdie maand te bespreek en daarvoor te betaal, aangesien dit goedkoper is om vroeër te bepreek. Gebruik jou kredietkaart om vir jou vlug te betaal, sodat jy die voordeel van gratis versekering kan kry. Indien die lugredery sou ondergaan voor jy vlieg, sal jy vergoed word. Jy ontvang ook gratis reisversekering. Verseker dat jy die bepalings en voorwaardes lees, sodat jy kan bepaal waarvoor jy dekking ontvang, en of jy bykomende versekering benodig. Maak seker dat jy jou kredietkaart ten volle vereffen aan die einde van die maand, of nog beter, betaal die geld in jou kaart in voordat jy dit spandeer.
Bespreek jou akkommodasie
Meestal word slegs ʼn 50% deposito vir akkommodasie vereis, met die balans betaalbaar wanneer jy arriveer. Dit gee jou die geleentheid om die kostes oor ʼn paar maande te versprei. Airbnb het ʼn wonderlike geleentheid vir sakpasvakansies geskep, en so vir noodsaaklike kompetisie in die toerismemark gesorg. Selfsorg is ʼn verdere, goedkoper, opsie – tensy jou idee van ʼn perfekte vakansie is om nie te kook nie. Indien jy oorsee reis, verminder jy jou wisselkoersrisiko noemenswaardig deur nou reeds vir jou akkommodasie en motorhuur te betaal.
Bespreek vooraf vir toeriste-attraksies
Belangrike toeriste-attraksies stel jou in staat om kaartjies vooraf aanlyn te bespreek. Dit beteken jy kan vooruit bespreek en betaal, wat jou dikwels die geleentheid gee om toustanery te vermy. Talle toere, attraksies en selfs spesiale geleenthede bied afslag vir aanlynbesprekings.
Beplan vir dag-vir-dag-uitgawes
Begin geld spaar vir jou dag-vir-dag-uitgawes. Indien jy die selfdissipline het, kan jy begin om ʼn kredietbalans op jou kredietkaart op te bou. Alternatiewelik kan jy geld inbetaal in ʼn spaarrekening wat aan jou bankrekening gekoppel is. Indien jy kinders het, oortuig hulle om van hul sakgeld te begin spaar vir die vakansie. Die hele gesin kan begin om kleingeld, wat julle tydens die rit gaan gebruik, in ʼn vakansie-spaarfles te gooi.
|