Ons land bestaan uit ʼn diverse verskeidenheid mense, kulture en godsdiensgroepe, nietemin – wanneer ons op 24 September tydens Erfenisdag byeenkom – kan ons ook dít wat ons saam opgebou het herdenk – ʼn nasie waarop ons trots kan wees.
As ʼn maatskappy kan Liberty net bestaan in ʼn wêreld waarin ons in ‘n toekoms glo – een wat die moeite werd is om te ontwikkel. Dit was ʼn uitdagende jaar vir baie mense, en optimisme oor die toekoms het van tyd tot tyd wipplank gery, maar hier is redes waarom ons steeds in ʼn blink toekoms glo, en waarom ons Suid-Afrika liefhet:
1. Ons het ʼn kragtige demokrasie: Suid-Afrikaners het op 3 Augustus gestem en aan die wêreld gewys dat die demokrasie lewend en sterk is in Suid-Afrika, en dat dit iets is waarin mense glo en wat werd is om beskerm te word. Ons verkiesing was vry en regverdig, goed georganiseer en het gewys dat die krag van ʼn enkele stem enorme verandering kan teweegbring.
2. Ons het ʼn wêreldklas grondwet: Die krag van ons grondwet, en die mense wat dit onderhou, is talle keer getoets, en dit seëvier steeds. Ons is ʼn land waar menseregte beskerm word en waar daar nog respek vir die howe is.
3. Ons het ʼn wêreldklas begroting: Suid-Afrika het die derde plek uit 102 lande, ná Nieu-Seeland en Swede, ingeneem in die 2015 Open Budget Index. Dit is ʼn merkwaardige prestasie vir so ʼn jong demokrasie en wys op die krag van ons Nasionale Tesourie. Namate dit meer uitdagend raak om in die regering se uitgawevereistes te voorsien, raak ʼn deursigtige begroting selfs belangriker.
4. Ons het ʼn pragtige land: Suid-Afrika verwerf herhaaldelik toekennings net vir sy skoonheid. Talle van ons stede en nasionale parke word as van die beste vakansiebestemmings ter wêreld beskou. Ons beleef ook nie baie natuurlike rampe soos aardbewings, vulkaniese uitbarstings of siklone nie.
5. Ons het geen geloofskonflik nie: Terwyl ons die toename in terroristeaanvalle in die wêreld met stygende verontrusting waarneem, kan Suid-Afrikaners dankbaar wees dat, ten spyte van die talle uitdagings uit ons verlede, soos rassisme en armoede, geloofskonflik nie een daarvan is nie.
Terwyl ons die erfenis van hierdie merkwaardige land gedenk, kom ons onthou dat ons meer het wat ons saamsnoer as wat ons skei. Ons het ʼn toekoms wat die moeite werd is om te beskerm en sekerlik een werd om in te belê. |