Hoewel dit mag voel asof dit ʼn groot taak is om bykomende spaargeld binne jou huidige begroting te vind, is daar slim maniere om, sonder dat jy dit agterkom, te spaar.
Indien dit vir jou moeilik is om te spaar, blameer menslike sielkunde. Gedragswetenskaplikes het bevind dat ons verlies baie meer intens ervaar as wins, wat verklaar waarom ons baie ongelukkig raak wanneer van ons verwag word om ons leefstyl in te kort. Ons beleef die opoffering onmiddellik, maar pluk die vrugte eers in die toekoms.
Spaar jou kleingeld
Onthou jy die spaarvarkie uit jou kinderdae? Jy sal verbaas wees hoe vinnig daardie munte vermeerder. Haal daagliks alle munte uit jou beursie en gooi dit in ʼn bottel. Indien jy dit deur die jaar volhou, sal jy teen Desember ʼn bietjie ekstra geld hê om oor die feesseisoen of tydens jou vakansie te gebruik.
Gee instruksie vir ʼn debietorder
Jy kan ʼn debietorder gebruik om so min as R300 per maand by te voeg by ʼn belegging. Verseker dat dit die dag ná jou betaaldag geskied, om te verhoed dat jy die geld spandeer. Dink net hoe dikwels jy jou kaart gebruik om vir aankope, wat jy later nie eens kan onthou nie, te betaal – dít maak dit onwaarskynlik dat jy daardie R300 soveel sal mis.
Oormerk jou toekomstige salaris
Sluit ʼn 10% jaarlikse verhoging in wanneer jy opdrag gee vir die debietorder. Jou spaargeld sal elke jaar verhoog, sonder dat jy enige iets hoef te doen.
Versoek jou werkgewer om, sodra jy jou jaarlikse bonus ontvang, 27,5% daarvan by te dra tot die maatskappy se aftreefonds. Jy ontvang dan die bonus nadat jy reeds geld gespaar het, dus voel die opoffering nie so groot nie. Met jou volgende salarisverhoging kan jy jou menslike hulpbronne-afdeling of adviseur versoek om die persentasie van jou salaris wat jy in jou aftreefonds oorbetaal, te verhoog. Jy sal steeds jou netto salaris verhoog, maar ʼn gedeelte van die verhoging sal aangewend word om jou aftreespaargeld te laat groei.
Kies jou koffie kleiner
Onthou jy nog die dae toe jy koffie net in een grootte kon koop? Deesdae bied die meeste koffiewinkels ʼn keuse tussen klein, middelgroot en groot koppies. Dit is in werklikheid daarop gemik om ons te oorreed om meer te spandeer, aangesien die meeste mense waarskynlik ʼn middelgroot koppie sal koop. Die klein koppie bevat gewoonlik 250 ml, die hoeveelheid waarmee ons in die verlede tevrede was. Kies dus die kleinste grootte van jou daaglikse koffie en spaar tussen R3 en R5 – rande wat oor ʼn tydperk tot ʼn noemenswaardige bedrag oploop.
Benut daardie lojaliteitsprogramme
Die meeste banke en groot besighede bied beloningsprogramme aan vir lojale, gereelde klante. Hou daardie belonings, veral dié wat as kontant of geskenkbewyse ontvang word, om jou uitgawes tydens die feesseisoen aan te vul.
|