Onlangse Liberty-eisestatistieke toon dat kanker, volgens Liberty se direkteur vir risikoproduk-innovasie, Nicholas van der Nest, steeds die grootste oorsaak van alle versekeringseise is. Die goeie nuus is dat meer mense kanker oorleef en, indien jy jou leefstyl aanpas, kan jy jou risiko vir ʼn kankerdiagnose grootliks verlaag.
Verlede jaar het Liberty R3,57 miljard in geldige eise uitbetaal, waarvan bykans ʼn kwart as gevolg van kanker was. Kanker was steeds die hoofoorsaak van eise deur jong ouers, gevestigde voorsieners en die leë nes-groep. Met betrekking tot jong presteerders was aflegging die grootste oorsaak van eise, gevolg deur kanker.
Jong presteerders
Terwyl jong presteerders hoofsaaklik geëis het vir verlies aan inkomstebeskerming as gevolg van aflegging (15,9%), toon Liberty se eisestatistiek dat al meer jonger mense kanker ontwikkel. Die siekte was verantwoordelik vir 12,3% van alle eise deur jong presteerders, gevolg deur eise as gevolg van motorvoertuigongelukke wat 11,9% beslaan het, wat ook die grootste rede vir eise deur mans was.
Jong ouers
Die drie hoofeise deur jong ouers was vir kanker op 22,5%, grootliks as gevolg van borskankereise deur vroue. Kardiovaskulêr-verwante eise was op 14,5% – wat die grootste risikofaktor vir mans is, en laastens, eise vir beroerte of sentrale senustelselafwykings wat 8% behels het.
Gevestigde voorsieners
Ten opsigte van gevestigde voorsieners toon die tendense kankereise op 26,9% (prostaatkanker by mans en borskanker by vroue), kardiovaskulêr-verwante eise op 21,1% (weer eens die grootste risikofaktor vir mans) en eise vir beroerte of sentrale senustelselafwykings wat 8% behels het.
Die leë nes-groep
Vir die leë nes-groep was kankereise op 25,6% met prostaat- en borskanker wat die algemeenste was, terwyl eise vir kardiovaskulêr-verwante toestande 25,3% en asemhalingsiektes vir 7,9% verantwoordelik was.
Voorkoming is beter as genesing
Die toename in kankerstatistieke is nie noodwendig net slegte nuus nie. As gevolg van ontwikkelinge op die mediese terrein soos beter voorkomende ondersoekprogramme en meer bewustheid rakende gesondheid en leefstyl, word kankers vroeër gediagnoseer en is dit waarskynliker dat mense ʼn diagnose sal oorleef.
Daar is ook baie wat ons kan doen om ons kankerrisiko te verlaag, soos om doodeenvoudig ons leefstyl aan te pas. Daar is ʼn aantal risikofaktore wat met die ontwikkeling van kanker verbind word – byvoorbeeld ʼn ongesonde leefstyl wat tabak- en alkoholgebruik, swak dieet en ʼn onaktiewe leefstyl insluit. Namate mense ʼn meer welvarende leefstyl volg, neig hulle na minder gesonde lewenswyses soos rook, ʼn gedrink en veranderde diëte.
Volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika dra ongesonde leefstylfaktore by tot die groeiende voorkoms van kanker. Die gebruik van tabak of tabakprodukte is die oorsaak van 20-25% van kankergevalle; ongeveer 5% van kankergevalle word verbind met oormatige alkoholgebruik; en 15% is as gevolg van oorgewig en te min oefening.
Vetsug in besonder is ʼn groter wordende probleem in Suid-Afrika, met meer as 29% mans en 56% vroue wat as oorgewig of as vetsugtig geklassifiseer word. Vetsug by vroue word geassosieer met kankers van die voortplantingstelsel, aangesien oortollige liggaamsvet ʼn oormatige produksie van estrogeen veroorsaak. Hierdie kankers sluit bors-, serviks- en baarmoederkanker in.
By mans word vetsug geassosieer met rektum-, kolon- en prostaatkanker. Vetsug tydens die kinderjare verhoog ook die risiko van kolonkanker by jong volwassenes.
Kenners skat dat kankerrisiko met tot 30% kan verminder indien hierdie ongesonde leefstylfaktore van ons lewenswyse uitgesluit word. Jou eerste beskerming teen kanker is om vir jou liggaam te sorg, maar jy moet ook verseker dat jy finansiële beskerming teen die siekte het.
Syblok: Eisestatistiek
- Meer as R24 miljard aan eise is oor die afgelope dekade deur Liberty uitbetaal, wat duisende Suid-Afrikaners gehelp het tydens moeilike oomblikke in hul lewens.
- Die grootste hoeveelheid uitbetalings ter waarde van R2,48 miljard was vir lewensbeskermingseise, terwyl R678 miljoen se kritieke siekte-eise uitbetaal is. Ten minste R407 miljoen is ten opsigte van inkomstebeskerming uitbetaal.
|