John Demartini, kenner van menslike gedrag, het eens geskryf dat die verskil tussen mense wat welvaart geskep het en die wat dit nie gedoen het nie was wat hulle met hul geld gedoen het.
Dit kan moontlik as ʼn baie voor die hand liggende stelling voorkom, maar wat Demartini gesê het, is dat welvaartskepping met ʼn bepaalde ingesteldheid en ʼn begrip vir hoe geld werk begin.
Hy het die voorbeeld gebruik van ʼn persoon wat die nasionale lotery wen. ʼn Welvaartskepper sal minstens 80% van die geld in groeibates belê. In die toekoms sal daardie geld aan hulle ʼn inkomste gee. ʼn Welvaartskepper verstaan dat ware welvaartskepping bereik word wanneer jou geld vir jou werk, en nie andersom nie.
ʼn Individu wat die meevaller aanwend om bates wat waarde verminder te koop, soos motors en statussimbole, is ʼn welvaartvernietiger. Oor ʼn tydperk het die waarde van leefstylbates afgeneem en het die meevaller gehalveer, indien dit nie geheel en al verdwyn het nie.
Wanneer jy ook al ʼn finansiële meevaller ontvang, of dit ʼn bonus, bykomende kommissie of ʼn erfporsie is, oorweeg of jy ʼn welvaartskepper of ʼn welvaartvernietiger wil wees.
1. Stel doelwitte
Dis baie moeilik om ʼn doelwit te bereik indien jy nooit een gestel het nie. Indien jy doelwitte het, sal dit jou help om gemotiveerd te bly, maar jy moet dit neerskryf en iewers neersit waar dit jou daagliks herinner waarom jy daardie klein korttermyn-opofferinge maak. Die sleutel is om realistiese, haalbare doelwitte te stel.
2. Sorg dat jy ʼn plan het
Hoe eet jy ʼn olifant? Een happie op ʼn slag. Groot doelwitte word nie oornag bereik nie en jy moet ʼn plan formuleer hoe jy hulle gaan verwesentlik. Byvoorbeeld, jy wil moontlik R1 miljoen se belegbare bates binne tien jaar hê, maar jou onmiddellike doelwit is om korttermyn-skuld af te betaal, sodat jy daardie skuldterugbetalings kan gebruik om jou beleggings ʼn hupstoot te gee.
3. Spandeer minder as wat jy verdien
Hierdie is een van daardie werklik eenvoudige idees wat nie maklik is om sonder toewyding en ʼn begroting te implementeer nie. Skryf alles neer wat jy spandeer en verstaan waarheen jou geld maandeliks verdwyn. Jy sal altyd ondervind dat jy geld wat beter aangewend kan word om jou finansiële doelwitte te bereik, op onbenullighede spandeer. Indien jy dink dis onmoontlik, vra jouself af hoe mense wat minder verdien, oorleef.
4. aan voort om elke maand te spaar
Jy hoef nie die Lotto te wen om ʼn miljoenêr te word nie. Dit is haalbaar deur gewone mense wat gewone inkomstes verdien en doodeenvoudig maandeliks ʼn gedeelte van hulle geld wegsit om welvaart te genereer. Indien jy 20% van jou salaris elke maand spaar en ʼn opbrengs van 10% per jaar verdien, sou jy jou volle jaarlikse salaris binne vier jaar gespaar het.
Wanneer jy belê, moet jy nie die fout maak om te konserwatief te wees en in kontant te belê nie. Die enigste manier om rykdom te skep, is uit groeibates soos aandele en eiendom.
5. Benut jou belastingkortings
Indien jy slegs nabelaste geld spaar, verspil jy 41% van jou geld. Sedert 1 Maart 2016 kan jy 27.5% van jou inkomste belastingvry in ʼn aftreefonds belê. Indien jy ʼn aftree-annuïteit het, kan jy die aftree-ouderdom op 55 jaar stel – jy hoef nie ʼn pensionaris te wees om uit jou welvaart te leef nie.
Verseker ook dat jy jou belastingvrye spaarrekeninge gebruik waarop jy geen belasting op die kapitaalwins, dividende of rente wat jy ontvang het, betaal nie. Oor ʼn tydperk van 20 jaar, kan dit jou beleggingsopbrengs met soveel as ʼn derde laat groei.
6. Skuld is slegs vir rykdomvernietigers
Die enigste mense wat geld maak uit skuld, is banke en hulle aandeelhouers. Eerder as om ʼn lening of kredietkaart by jou bank uit te neem, koop aandele in die maatskappy. Indien jy van klere hou, moenie ʼn klererekening open nie, belê eerder in die kleinhandelaar. Onthou dat welvaartskeppers hulle geld uit welvaartvernietigers maak. |