1. Betaal minder vir jou korttermynversekering:
Korttermynversekeraars is bereid om tot 15% afslag te gee op premies indien jy hulle met ‘n enkelbedrag aan die begin van die jaar betaal. Hulle spaar so die debietorderkoste en, aangesien hulle hul geld vooruit ontvang, is daar ‘n kleiner risiko vir wanbetaling of kansellasie. Jy is ook verseker dat jou kosbaarhede vir ‘n jaar verseker is. Maak seker dat jy die maandelikse premie wat jy sou betaal het, gebruik om jou skuld vinniger af te betaal of voeg dit by jou maandelikse spaarbedrag.
2. Beskerm jouself teen rentekoersverhogings:
Enige bykomende geld wat jy in jou huislening deponeer, verminder onmiddellik die kapitaalbalans en spaar jou rente. Selfs al sou jy net R10 000 in ‘n R1 miljoen verband inbetaal, spaar jy R64 800 oor die 20-jaar periode, met die verdere voordeel dat dit jou ook kan beskerm teen ‘n moontlike rentekoersverhoging. Op ‘n R1 miljoen verband sal ‘n verhoging van 100 basispunte jou jaarlikse verbandterugbetaling met R10 000, of R833 per maand, verhoog. Deur geld vooruit in jou verband in te betaal skep jy ‘n buffer teen toekomstige renteverhogings.
3. Betaal minder belasting:
Jy kan 15% van jou bonus belastingvry in ‘n aftree-annuïteit belê of byvoeg by jou maatskappy se aftreefonds. Dit sal jou aftreebelegging ‘n hupstoot ten koste van die Ontvanger van Inkomste gee.
4. Beskerming teen verhoging in skoolfooie:
Die meeste skole bied afslag van tot 7% indien jy die fooie ten volle aan die begin van die jaar betaal. Deur die fooie vooruit te betaal spaar jy nie net geld nie, dit gee jou ook ‘n voorsprong op die volgende jaar se verhoging in skoolfooie. Indien jy die skoolfooie wat jy sou betaal het maandeliks in ‘n hoë-opbrengsrekening spaar, sal die rente wat jy verdien (saam met die afslag) jou ‘n beduidende buffer gee teen die volgende jaar se verhoging in skoolfooie.
5. Beplan vir jou volgende vakansie:
Jy kan ‘n noemenswaardige bedrag geld spaar indien jy jou vlugte maande vooruit bespreek. Gewilde roetes raak vinnig volbespreek tydens spitstye soos Julie en Desember en die goedkoopste kaartjies is gewoonlik al 11 maande vroeër uitverkoop. So versprei jy ook die koste van die vakansie oor ‘n langer periode, dus sal jy nie vir alles in een maand hoef te betaal nie. Aan die ander kant word wonderlike pakkette gewoonlik ongeveer twee maande voor die vakansie beskikbaar gestel. Hou dus ‘n enkelbedrag eenkant sodat jy voordeel kan trek uit hierdie spesiale aanbiedinge. |