Vanjaar se mediumtermynbegroting het Suid-Afrika met die werklikheid gekonfronteer. Die Oktober-begroting word gewoonlik grotendeels deur die publiek geïgnoreer aangesien geen groot aankondigings gemaak word nie. Dié jaar het die studentebetogings egter die hoofopskrifte vir weke daarna oorheers, en die lot van die Suid-Afrikaanse jeug wat die harde werklikheid van ‘n 50% werkloosheidsyfer in die gesig staar, beklemtoon.
Ongelukkig is die nuus in die Parlement nie veel beter nie. Die boodskap was duidelik: die ekonomie is in die moeilikheid en die regering se geld en opsies raak op. Dit beteken niks goeds vir verbruikers wat ‘n droewige 2016 in die gesig staar nie.
Minder werkgeleenthede, laer loonverhogings
SA se groeikoers word voortdurend tydens elke begrotingstoespraak afgegradeer. Ons verwagte groei vir vanjaar is slegs 1.5% en 1.7% vir volgende jaar. Dit is doodeenvoudig nie genoeg om nuwe werkgeleenthede te skep nie. Individue in sektore wat afdankings in die gesig staar, het min vooruitsigte om nuwe werk te kry.
Die staatsektor, wat meer as ‘n miljoen mense in diens het en ‘n groot werkgewer oor die afgelope twee dekades was, sal nie bydra tot werkskepping nie. Indiensneming is gestaak in ‘n poging om die groeiende salarisrekening van die openbare sektor te probeer beheer en werknemers wat uittree sal nie vervang word nie.
Belastingverhogings
Staatskuld sal na verwagting teen 2018 tot 50% van BNP groei – wat ‘n massiewe R2.4 biljoen behels. Dit is gelyk aan ongeveer R48 000 per Suid-Afrikaner. Die regering sal nie in staat wees om meer geld te leen om te spandeer ten einde die ekonomie te rugsteun nie.
Terwyl die regering begin het om op onnodige uitgawes te besnoei (volgens Nhlanhla Nene, minister van finansies, is uitgawes vir spyseniering en vermaak met 47% verminder), sal daar op die een of ander manier ‘n beraamde R35 miljard gevind moet word om die tekort aan belastinginkomste oor die volgende drie jaar aan te vul.
Dit maak dit hoogs waarskynlik dat ons volgende jaar ‘n verhoging in sekere belastings te wagte kan wees. In die begrotingsrede het die minister gefokus op belasting op toegevoegde waarde en is ‘n moontlike welvaartbelasting ook genoem. Hoewel hy dit duidelik gestel het dat geen beslissings gemaak is nie, is die boodskap duidelik – belastinginkomste sal verhoog moet word.
‘n Een persentasiepunt verhoging in BTW sal ‘n addisionele R20 miljard aan inkomste genereer. Die vraag is egter of die regering die politieke wilskrag het om ‘n belastingverhoging, wat so ongewild is by vakbonde, te hef.
Hoër inflasie
Terwyl inflasie dié jaar op gemiddeld 4.7% goed onder beheer gehou is, word verwag dat dit vroeg in 2016 sal styg. Voedsel- en brandstofpryse sal voortgaan om te styg namate die swakker rand ons voedsel- en olie-invoere duurder maak. ‘n Hoër inflasiekoers gekoppel aan die die verwagting van ‘n rentekoersverhoging in die VSA, sal ons rentekoers verder verhoog, soos reeds gesien in die besluit om die repokoers in November met 25 basispunte te verhoog.
Gebruik jou bonus verstandig in die aanloop na die feesseisoen, en moenie meer skuld maak om vir Desember-uitgawes voorsiening te maak nie.
|