Talle Suid-Afrikaners het heel waarskynlik vir die eerste keer van die Belgies-genoteerde, globale bierbrouer Anheuser-Busch InBev (AB InBev) gehoor toe dié maatskappy die direksie van SABMiller die eerste keer in September genader het om die maatskappy te koop. Moontlik ken jy hulle wêreldwye handelsmerke Corona, Budweiser en Stella Artois beter.
Wie is AB InBev? AB InBev is die grootste wêreldwye bierbrouer wat ongeveer ‘n vyfde van die globale biermark beheer. SABMiller is tweede met net meer as 12% van die wêreldwye bierindustrie. Saam sal die nuwe maatskappy die biermark totaal oorheers, met een uit elke drie biere wat verkoop word. Die naaste opponente sal Heineken en Carlsberg met onderskeidelik 8% en 6% van die mark wees.
Die oorname van SABMiller gee AB InBev toegang tot die markte wat SABMiller tans oorheers, soos Afrika, Latyns-Amerika (uitgesonder Brasilië), sowel as Oos-Europa en Australië, wat dié maatskappy ‘n ware globale biermaatskappy sal maak.
Wat sal die transaksie vir Castle beteken? Gelukkig is dit hoogs onwaarskynlik dat AB InBev suksesvolle plaaslike handelsmerke sal uitfaseer, hoewel hul oorhoofse strategie fokus op globale eerder as plaaslike handelsmerke. Ons kan dus verwag om meer bemarking van Corona, Budweiser en Stella Artois in Suid-Afrika te sien, saam met die bestaande handelsmerke. Tans besit SABMiller ongeveer 90% van die Suid-Afrikaanse mark, met die AB InBev-handelsmerke steeds onbeduidend in vergelyking, wat groeipotensiaal bied aan die AB InBev-handelsmerke. Daarteenoor kan talle Europese en Suid-Amerikaanse lande, sowel as die VSA, Castle en Black Label beter leer ken.
Op die lang termyn kan ons moontlik handelsmerkrasionalisasie waarneem namate hulle kleiner handelsmerke uitfaseer.
Kan ek aandele in die nuwe maatskappy besit? Die tweede vraag is of SABMiller nog Suid-Afrikaans sal wees. In werklikheid is SABMiller reeds vir ‘n geruime tyd ‘n VK-gevestigde maatskappy met ‘n Suid-Afrikaanse filiaal en ‘n sekondêre notering op die JSE. AB InBev het verklaar dat hulle op die Johannesburg Aandelebeurs genoteer sal bly om Suid-Afrikaanse aandeelhouers in staat te stel om ‘n aandeel in die groter groep te besit sonder om hul buitelandse toelae daarvoor te gebruik.
Wat is die ooreenkoms? Dit bring dit ons by die eintlike ooreenkoms. Op 14 September het SABMiller teen £29,34 op die Londense Aandelebeurs verhandel. Op 17 September 2015 het AB InBev ‘n private aanbod van £38 per aandeel, wat hulle later tot £40 per aandeel aangepas het, aan die direksie van SABMiller gemaak. ‘n Finale kontantaanbod van £44 is op 11 November gemaak – onderhewig aan regulatoriese goedkeuring.
Dit verteenwoordig ‘n 50% premie bo SABMiller se verhandelingsperk op 14 September, die dag voor die spekulasie van ‘n aanbod van AB InBev. Bestaande SABMiller-aandeelhouers sal dus ‘n goeie opbrengs realiseer sou hulle die aanbod aanvaar. Die transaksie sal heel waarskynlik eers in die tweede helfte van 2016 afgehandel wees.
Ten opsigte van ons Stanlib-fondse, sal ons ons SABMiller-aandele verkoop en ná die transaksie besluit of dit die moeite werd is om aandele in die groter groep te besit. Ons is positief oor bier as ‘n belegging, maar slegs teen die regte prys.
|