“Geluk is nie iets wat kitsklaar is nie. Dit volg op jou eie aksies.” – Dalai Lama
Hierdie jaar beloof om ekonomies, sosiaal en polities uitdagend te wees. Die onvermydelike probleme waaroor jy geen beheer het nie sal voorkom, dus, waarom gee jy nie jou jaar ʼn hupstootjie deur beheer te neem oor jou eie geluk nie?
1. Die glimlag-voorstel. Ons het almal al die spreekwoord “lag is die beste medisyne” gehoor. Wel, om te glimlag is ook voordelig! Selfs al voel dit asof die wêreld se laste op jou skouers rus, neem vyf minute elke dag om te dink oor jou seëninge en glimlag terwyl jy dit doen. Om te glimlag kan jou luim verbeter en selfs jou hart gesonder maak. Volgens PsychologyToday.com se Ronald Riggio, PhD, “Aktiveer ʼn glimlag die vrystelling van neuro-peptiede wat bydra om stres te verminder”. Dit stel ook die neurotransmitters dopamien, endorfien en serotonien vry wat jou laat goed voel. “Dit laat nie net jou liggaam ontspan nie, maar kan ook jou hartklop en bloeddruk verlaag,” sê hy.
“Soms is jou vreugde die bron van jou glimlag, maar soms kan jou glimlag die bron van jou vreugde wees.” – Thích Nhất Hạnh, Boeddhistiese geestelike leier
2. Die “nee” woord. ‘Nee” is ʼn klein woordjie, maar kan baie moeilik wees om te sê, veral as jy as persoon mense graag tevrede wil stel. Ongeag of dit die voorsitterskap van die ouer-onderwyser-vereniging is of om in te stem om vir nog ʼn projek by die werk verantwoordelikheid te aanvaar terwyl jy reeds oorlaai is, ons sê dikwels “ja” vir goed waarvan ons nie hou nie. Stephen Covey, die skrywer van die klassieke selfhelpgids The Seven Habits of Highly Effective People, sê: ”Jy moet besluit wat jou belangrikste prioriteite is en die moed hê om – aangenaam, glimlaggend en nie-verskonend – “nee” te sê vir ander dinge. Jy kry dit reg deur ʼn belangriker ‘ja’ as prioriteit te hê.” Jy sal ʼn gelukkiger mens wees indien jy jou eie behoeftes eerste stel en eerlik reageer. Dit is nie selfsugtig nie, maar eerlik en beslis.
“Dit is slegs deur ‘nee’ te sê dat jy in staat is om te konsentreer op die dinge wat werklik belangrik is.” – Steve Jobs, ontslape medestigter en hoof uitvoerende beampte van Apple.
3. Die positiwiteitsfaktor: Ongeag of dit konflik met ʼn kollega of ʼn vorige verhouding is, hou op om oor die verlede te tob. Dit is ongesond om waardevolle tyd, energie en emosie te vermors. “Navorsing het bewys dat ʼn getob verbind word met ʼn verskeidenheid negatiewe gevolge soos depressie, angs, posttraumatiese stresversteuring en om jou aan drank of kos te vergryp,” sê Margarita Tartakovsky, mederedakteur van PsychCentral.com. ʼn Getob, sê sy, veroorsaak ʼn siklus van negatiwiteit. Een manier om hierdie optrede te voorkom, is om positiwiteit te koester. “Joga en meditasie is bekend daarvoor dat dit positiwiteit verhoog,” verduidelik sielkundige en hipnoterapeut Joanne Reeves-Baker. Volgens haar sal enige aktiwiteit wat fokus vereis, soos tuinmaak of skryf, egter ook jou gemoed kalmeer sodat jy dít wat in jou lewe plaasvind, kan verwerk. “Kry ʼn aktiwiteit wat jou die meeste laat glimlag en sluit dit in by jou roetine.”
“Wees versigtig waarmee jy jou gemoed en siel voed. Voed jouself met positiwiteit en laat dít jou aanspoor tot positiewe aksie.” – Steve Maraboli, skrywer |