Een van die belangrikste dinge wat ouers vir hulle kinders kan doen, is om hulle die vaardighede te leer om gelukkiger, meer vervulde lewens te lei. Dit is ‘n groot verantwoordelikheid, maar ook ‘n voorreg om aan kinders ‘n vaste fondament te gee wat hulle veilig tot volwassenheid kan lei.
Dwelms en drank
As rolmodel beïnvloed jou standpunte grootliks hoe jou kinders oor alkohol, rook en dwelms dink. Kidshealth.org beveel aan dat “ontvanklike oomblikke” gebruik word om die gesprek te begin. Indien jy ‘n karakter op TV sien wat rook of dronk word, bespreek wat dit aan hul liggaam en brein doen. Bespreek die gevare van dronkbestuur, soos om ongelukke te veroorsaak of die moontlikheid van dood en die moontlike nagevolge soos tronkstraf, met jou kinders.
Die National Council on Alcohol and Drugs Dependence in die VSA sê dat kinders wat hierdie gesprekke met hulle ouers het, ‘n 50% kleiner risiko van alkohol- en dwelmgebruik het as dié wat dit nie het nie.
Kinders word op ‘n baie jong ouderdom aan hierdie risiko’s blootgestel, leer hulle dus om “nee” te sê op portuurdruk en om as individue op te tree.
Moedig hulle aan om ongemaklike situasies te verlaat en om die vrymoedigheid te hê om jou of ‘n ander verantwoordelike volwassene te enige tyd te bel, sonder dat vrae gevra sal word, indien hulle hulp nodig het of hulle rygeleentheid drink of dwelms gebruik.
Wees bedag daarop dat traumas soos egskeiding tot gevolg kan hê dat kinders begin drink. Leer hulle dat selfs wanneer dit sleg gaan, die gebruik van drank of dwelms as ontvlugting ‘n slegte situasie net kan vererger.
Geldbestuur
Kinders wat van kleins af geldbestuur leer, het ‘n groter kans om finansieel verantwoordelike volwassenes te word. Kweek in jou kinders ‘n waardering vir die waarde van dinge deur hulle aan te moedig om elke maand van hul sakgeld te spaar. Dit help om ‘n gesonde spaargewoonte te vestig terwyl kinders kan sien hulle geld trek rente, wat hulle in staat stel om iets spesiaal te koop, eerder as om gewoond te raak aan onmiddellike bevrediging.
Eet gesond
Kook is ongelukkig ‘n aktiwiteit wat besig om uit te sterf, maar dit bly die sleutel tot ‘n gesonde leefstyl. Selfs al is jy ‘n voorafbereide-ete dissipel of verkies jy om uit te gaan vir etes, begin met ‘n paar kooksessies en maak lekker bederfies soos tuisgemaakte pizzas. Dit bied waardevolle kuiertyd, is groot pret en jy het ‘n ete aan die einde van die poging. Wanneer jou kinders uit die huis gaan, is die vermoë om te kan kook ‘n besonder waardevolle vaardigheid, sowel as meer ekonomies. Net so, hou ‘n bak vrugte op die tafel in plaas van lekkers of koekies en moedig so gesonde peusel aan.
Staan jou man
Niemand wil hê hulle kind moet ‘n afknouer wees nie, maar jy wil nie hê hulle moet deur hulle maats geïntimideer word of in die moeilikheid kom omdat hulle te bedees is om nee te sê nie. Om hulleself te laat geld, is ook handig in die klaskamer aangesien dit moed verg om vir ‘n verduideliking te vra indien hulle nie die les verstaan nie. Dit is ‘n lewensvaardigheid wat hulle goed te pas sal kom in die lewe en in besigheid. Wens jou kind geluk wanneer hulle iets wat vir hulle moeilik is, baasraak. ‘n Kind wat hoor: “Welgedaan, ek weet dit was vir jou moeilik!” word deur die aanmoediging gemotiveer en is vasberade om aan te hou probeer.
Goeie maniere
Goeie maniere raak nooit uit die mode nie. Leer jou kind om asseblief en dankie te sê en om bedagsaam en hulpvaardig teenoor ander te wees. Dit is ook belangrik dat hulle weet hoe om jammer te sê – en waarom hulle dit behoort te doen – wanneer hulle iets verkeerd gedoen het. Nogmaals, dis iets wat kinders deur leierskap leer. Dus, jou voorbeeld sal jou kinders help om die verlore kuns van bedagsaamheid aan te leer.
Waterbabas
Suid-Afrikaners is lief vir water, maar elke jaar verdrink talle kinders tragies. Neem hulle vir lesse of leer hulle self. Dit is groot pret, goeie oefening en neem hul aandag vir ‘n wyle van die TV-, rekenaar- en selfoonskerms weg.
Kies geluk
Geluk is ‘n ingesteldheid, nie dinge nie. Dit is om liefderik en koesterend te wees en jou kinders te wys dat ons, selfs wanneer die lewe uitdagend en omstandighede onregverdig is, ons die vermoë het om te kies hoe ons reageer en hoe ons voel. Byvoorbeeld, indien jy deur ‘n egskeiding gaan, help jou kind om elke aand ‘n lys van goeie dinge neer te skryf, selfs al is dit net om die hond te streel of om vriende te sien. Deur jou kinders te leer om geluk binne hulleself te soek en nie in eksterne dinge nie, is ‘n gawe wat hulle saam met hulle sal neem en wat hulle in staat sal stel om bo die onverwagte aanslae van grootmenswees uit te styg.