Beskerm jou begroting teen prysverhogings

Een van die hoofoorsake van stres is geld, of eerder ‘n gebrek daaraan. Die gemiddelde Suid-Afrikaanse verbruiker se finansiële stresvlakke kan verder styg aangesien motoriste sedert 1 April R1,62 per liter ekstra vir petrol betaal en Eskom boonop ‘n 25% prysverhoging versoek.

Om dit in perspektief te plaas, die gemiddelde huishouding wat R1 000 per maand op elektrisiteit spandeer, kan R250 per maand meer betaal om die ligte aan te hou en ‘n motoris wat ‘n 50 liter tenk twee maal per maand volmaak, sal ‘n addisionele R160 per maand op brandstof spandeer. Dit beteken ‘n ekstra R410 sal in ‘n reeds knap begroting gevind moet word.

Dus, eerder as om meer geld te vind om hierdie uitgawes te dek, raak slim en verlaag die bedrag wat jy spandeer. Met ‘n bietjie beplanning en inspanning kan jy die impak van die prysverhogings verlig deur eenvoudige aanpassings te maak aan die manier waarop jy elektrisiteit gebruik en jou motor bestuur.

Verlaag jou elektrisiteitsrekening met tot R400 per maand

Elkeen van hierdie besparingswenke sal jou elektrisiteitsrekening met 5 – 10% verlaag. Sou jy al die wenke toepas, kan jy jou uitgawes met tot 40% sny. Op ‘n R1 000 elektrisiteitsrekening beloop dit R400 per maand. Dit sal nie moeilik wees om daardie R250 per maand besparing te vind om jou elektrisiteitsrekening onder beheer te hou nie.

  • Installeer ‘n energiedoeltreffende stortkop wat tot 40% minder warm water gebruik. Toets dit deur ‘n emmer vir 12 sekondes onder die lopende stortkop te hou. Meet die hoeveelheid water wat jy opvang met ‘n maatbeker. Indien jy meer as twee liter water opgevang het, is jou stortkop oneffektief.
  • Reguleer jou geisertemperatuur op 60 °C en isoleer jou geiser met ‘n geiserkombers asook die waterpype vir die eerste drie meter.
  • Skakel jou huishoudelike toestelle by die kragpunt af. Toestelle soos televisies en DVD-spelers wat op bystand bly wanneer dit nie gebruik word nie, gebruik steeds ongeveer 20% van die normale elektrisiteitverbruik.
  • Verminder jou swembadpomp se werkingsiklus tot slegs ses uur per dag.
  • Installeer energiebesparende kompakte fluoresserende gloeilampe (CFL’s). Beligting maak 17 – 20% van jou elektrisiteitsrekening uit. Skakel dus ligte in ongebruikte kamers af.

Sny jou brandstofrekening met R170 per maand

Deur oordeelkundig te bestuur, kan jy die aantal kilometers wat jy per liter brandstof ry, verhoog. Elke ekstra kilometer en Rand gespaar help om die brandstofrekening te verlaag. Dit word ook aanvaar dat ‘n laer spoed en ‘n minder agressiewe bestuurstyl stres verlaag.

Die volgende besparings is gebaseer op ‘n middelgrootte motor wat 1 000 km per maand ry.

  • Pomp jou bande en spaar R24: Effens pap bande verhoog die rolweerstand tussen jou voertuig en die pad terwyl opgeblaasde bande dit verlaag.
  • Verminder windweerstand en spaar R84: Verwyder buitenste toebehore soos bagasiehouers op die dak, hulle hegstukke en fietsrakke. Hierdie items verander die lugvloei oor die voertuig en verhoog aërodinamiese weerstand. Oop sondakke en vensters veroorsaak ook meer lugweerstand oor die voertuig. Dit beteken dat meer energie nodig is om die voertuig deur die lug aan te dryf, wat meer krag van die enjin benodig, meer brandstof gebruik en vrylating van uitlaatgasse verhoog.
  • Minder agressie spaar R42: Vinnige versnelling en hoë enjinspoed veroorsaak hoër brandstofverbruik. Geleidelike versnelling na die verlangde spoed sal brandstofverbruik en die vrylating van uitlaatgasse verlaag. Deur die enjin binne die mees effektiewe bestek te gebruik, kan verbruik en uitlaatgasse verlaag word. Die Automobiel Assosiasie beveel aan dat ratte in petrolenjins op 2 500 o.p.m gewissel word en in dieselenjins op 2 000 o.p.m.
  • Ry stadiger op die snelweg en spaar R24: Elke 10 km/h wat jy bo 100 km/h ry, verhoog jou brandstofverbuik met 7%. Hierdie besparing van R24 is gebaseer op persone wat 40% van hulle tyd op snelweë spandeer en hulle spoed verlaag van 120 km/h tot 100 km/h.