Balanseer skuld en spaargeld

Phillip Kassel: Finansiële Adviseur

Behoort jy jou skuld af te betaal voordat jy begin spaar? Skuld is een van die grootste hindernisse vir spaar. Tradisioneel is die advies om eers jou skuld af te betaal en dan te begin spaar, maar is dit altyd die beste advies?

Vereffening van jou persoonlike lenings

Ten opsigte van korttermynskuld soos dié op kredietkaarte, winkelkaarte of persoonlike lenings met ‘n hoë rentekoers, waarborg vinnige afbetaling ‘n effektiewe besparing van byvoorbeeld 17%, aangesien dit die rente is wat jy sou betaal het. Daar is geen belegging wat sulke opbrengste kan waarborg nie.

Hierdie strategie werk egter net indien jy daardie kredietbronne sluit. Indien jy aanhoudend meer duur skuld maak wat jy terugbetaal met geld wat eintlik gespaar moes word, sal jy nooit in staat wees om langtermyn rykdom te bou nie.

Fondse vir noodgevalle

Hoewel jy daarop moet fokus om duur korttermynskuld af te betaal, moet jy ook ‘n noodfonds opbou sodat jy nie gedwing word om skuld tydens noodsituasies aan te gaan nie, sou daar byvoorbeeld ‘n motorongeluk plaasvind, ‘n geiser bars of jy mediese uitgawes het wat nie deur jou mediese fonds gedek word nie.

Verband afbetaal of spaar vir aftrede?

Vir langtermyn skuld soos ‘n huislening, maak die uitstel van spaar ten gunste van die verband terugbetaling nie noodwendig finansiële sin nie aangesien rentekoerse op hierdie skuld laer is as die groei op beleggingsgeld. Byvoorbeeld, indien jou verbandterugbetaling 9% is en jou beleggings groei teen 11%, sal die verdere 2% saamgestelde rente oor die beleggingsperiode ‘n noemenswaardige verskil aan jou finale beleggingsbedrag maak.

Verband teenoor belegging

Indien jy R5 000 per maand in ‘n fonds met ‘n gemiddelde opbrengs van 11% per jaar belê het, sou jy na 20 jaar net oor die R4 miljoen gespaar het.

Indien jy die R5 000 in ‘n verband met ‘n 9% rentekoers inbetaal het, sou jy R555 725 verbandskuld oor 20 jaar gedelg het.

(Indien jy die R5 000 per maand in ‘n aftreefonds belê het, sou dit beteken dat jy voorbelaste geld kon aanwend, wat beteken dat die Ontvanger van Inkomste effektief ‘n deel van jou belegging befonds. Hierdie beleggings is ook teen krediteure beskerm.)

Die probleem met die uitstel van spaar vir aftrede of die gebruik van aftreefondse om jou verband af te betaal, is dat jy jou aftree-bydraes sal moet verdubbel om te vergoed vir die verlies aan saamgestelde groei oor tien jaar.

In die praktyk is die riglyn normaalweg dat jy 15% van jou inkomste begroot om vir aftrede te spaar. Sou jy dit soos hierbo genoem nalaat, verdubbel dié persentasie tot 30% van jou salaris. Dit sou vir die meeste mense onbekostigbaar wees.

Kry ‘n balans tussen die gebruik van toekomstige inkomste nou en die spaar van huidige inkomste vir die toekoms.

Die eerste reël van skuld is dat jy in staat behoort te wees om jou skuld uit jou inkomste te kan afbetaal. Skuld is ‘n eis teen toekomstige inkomste.

Spaar vir aftrede is die aanwending van huidige inkomste om toekomstige behoeftes wanneer ons te oud is om te werk, te bevredig.

Gedurende die SITCOM-jare (Single Income Two Children Oppressive Mortgage)) is dit moeilik om jou verband te betaal, jou kinders op te voed en vir aftrede voorsiening te maak. Daarom is dit nodig dat jy ‘n langtermyn strategie het om soveel moontlik te spaar solank jy nie familieverpligtinge het nie, sodat jy dit kan bekostig om jou spaargeld tydens die krisisjare te kan inkort en steeds genoeg sal hê om af te tree.

  • In die beginjare, voor jy ‘n familie het of ‘n verband het om te befonds, moet jy die bedrag wat jy in ‘n aftreefonds spaar, vergroot sodat jy ‘n stewige basis met die voordeel van saamgestelde rente opbou.
  • Spaar soveel moontlik vanaf jou eerste salaris totdat jy jou eerste huis koop sodat jy ‘n beduidende deposito het. Moenie die deposito gebruik om ‘n duurder huis te koop nie, maar eerder om jou maandelikse terugbetalings te verlaag.
  • Weerstaan die versoeking om van die reserwefondse wat jy in jou huisverband opgebou het, te gebruik deur teen die buigsame kredietfasiliteit in die verband te trek of om ‘n duurder huis te koop.
  • Sodra jy nie meer ‘n verband het nie, gebruik die addisionele kontant om soveel moontlik in jou aftreefonds te spaar tot ouderdom 65, veral indien jy moes besnoei tydens jou EITKOV-jare.
  • Die belangrikste is om te onthou om jouself vanaf die maand wat jy jou eerste inkomste verdien, eerste te betaal.