Stop Die Mallemeule - Ek wil afklim!

Indien jou lewe voortdurend deur adrenalien aangedryf word, stel jy jou gesondheid aan ernstige risiko bloot. Dit is tyd om uit die noodlaan te beweeg. Deur Lynne Gidish

“Om in ‘n stresvolle gemeenskap te leef beteken nie net dat ons gedurig vinniger beweeg nie, maar ook dat daar van ons verwag word om onmiddellik op alles te reageer,” sê lewensafrigter Judy Klipin (www.judyklipin.com). “Ons is geneig tot ‘n ingesteldheid wat die Amerikaanse sielkundige Charles Whitfield ‘krisis-georiënteerde leefstyl’ noem.”

Verder veroorsaak aanhoudende aanlynnuus en sosiale media-aktiwiteite dat die onophoudelike drama in die wêreld voel asof dit deel van ons daaglikse bestaan is. “Ons beland dikwels in sensoriese oorlading en leef in ‘n staat van verhoogde angs. Dit, op sy beurt, lei daartoe dat ons dinge wat ons beleef, oordramatiseer – selfs belewenisse wat klein gebeurtenisse in die groter ervaring van die lewe behoort te wees,” sê Klipin.

“Indien jy vir lang periodes onder hierdie soort stres leef, verloor dié deel van jou brein wat die veg-, vlug- of vriesreaksie beheer die vermoë om te onderskei tussen ‘n ware en ‘n gewaande krisis,” verduidelik sy. Dit lei daartoe dat ons liggame ‘n klein daaglikse krisis soos ‘n spertyd waarvoor ons laat is, hanteer asof dit werklik die einde van die wêreld is.

“Een van die grootste oorsake wat jou dryf na hierdie ‘die-lewe-is-‘n-krisis’ gemoedstoestand is ‘n verwydering tussen jouself en jou gees (soos in ‘n ‘wie is ek en wat maak vir my saak?’ betekenis)” sê Klipin. “Jy is so besig om aan opeenvolgende eise te voldoen, dat jy dit wat die belangrikste vir jou is – jyself – miskyk!”

IS JY ALTYD OP JOU HOEDE?

Kliniese sielkundige Dr Colinda Linde (www.thoughtsfirst.com) gee hierdie riglyne vir krisishantering en om die afwaartse spiraal te vermy:

  • Stop waarmee jy besig is en haal asem. “Maak jou oë vir ‘n minuut toe en fokus op jou asemhaling. Asem in, wag, asem uit. Dit help jou werklik om bewus te word van jouself en om te fokus.”
  • Indien jy vind dat jy van die een krisis na ‘n ander steier, is die kans groot dat jy reaktief, eerder as proaktief optree. Beplan ‘n week vooruit en maak dit konkreet. Gebruik ‘n witbord of kalender en plaas dit waar jy kan sien wat die volgende sewe dae inhou. Dit sal jou help om tyd en geleentheid te vind vir die “onverwagte”.
  • Antwoord eerder as om te reageer. Vra jouself af: “Hoe gaan ek oor ‘n maand oor hierdie situasie voel? Sal dit oor vyf jaar nog belangrik genoeg wees om my beangs te laat voel?” Evalueer wat jy kan beheer (byvoorbeeld jou onmiddellike reaksie) en wat jy nie kan nie (byvoorbeeld ander mense se optrede of ‘n ongeluk wat reeds gebeur het). Hanteer dit wat jy kan beheer onmiddellik: neem jou kind na die dokter, bel die loodgieter om die geiser reg te maak, sê vir jou baas jy sal soveel doen as wat jy kan, so vinnig as wat jy kan, maar behoorlik en gefokus, eerder as om in ‘n dolle gejaag onredelike spertye te haal.
  • Haal diep asem en herinner jouself dat dié krisis ook sal verbygaan. Niks hou vir ewig aan nie.