Hoekom geld anders is vir vroue

Liberty Adviesdienste

Vroue is geneig om baie meer angstig oor geld te wees as hul manlike eweknieë. Dit is egter alles behalwe paranoia.

Die navorsing 2013 Women, Money and Power Study wat deur die Amerikaanse lewensversekeraar Allianz Life gedoen is, het bevind dat meer as helfte van die vroue wat by die opname betrek is, bekommerd was dat hulle finansieel ten gronde kan gaan. Die navorsing het bevind dat terwyl mans geneig is om meer selfvertroue oor hul toekomstige finansies te hê, vroue weer geneig is om irrasionele vrese te koester wat dwarsoor die sosiale spektrum strek.

Hierdie vrees was nie slegs beperk tot vroue in die laer inkomstekategorieë nie. Byna een derde van die vroue wat meer as R2 miljoen per jaar verdien, het finansiële ondergang gevrees, dat hulle al hul geld sal verloor en haweloos sal raak, terwyl 46% van die ‘vroue met invloed’ dieselfde vrees gehad het. Die navorsing beskryf hierdie vroue as goed opgevoed met ’n bogemiddelde inkomste, óf met ’n eie onderneming, óf wat waarskynlik ’n senior posisie by hul werkplek beklee. Sulke vroue het ’n groter behoefte aan finansiële beheer en ’n groter begeerte om hul finansiële kennis te verbreed. Hulle is ook meer geneig om ’n finansiële adviseur en ’n finansiële plan te hê. Desondanks koester selfs hierdie vroue vrese oor hul geldsake.

Die realiteit is eintlik dat vroue werklik veel meer finansiële risiko’s as mans in die oë staar. Vroue verdien minder, hulle leef langer na aftrede en die meerderheid vroue is enkel-broodwinners. Syfers uit die sensus van 2011 wys dat die gemiddelde jaarlikse inkomste van ’n huishouding met ’n vrou aan die hoof daarvan R67 330 is. Hoewel dit ’n verbetering van 141% verteenwoordig in vergelyking met die syfers van tien jaar gelede, is dit steeds minder as die helfte van die inkomste van ’n huishouding met ’n man aan die hoof daarvan, wat rondom R128 329 per jaar is.

Vroue leef na verwagting sewe jaar langer na aftrede en het gemiddeld minder voorsiening daarvoor as mans, wat dikwels toegeskryf kan word aan die tyd wat aan die grootmaak van kinders bestee is. Die Allianz-opname het bevind dat vroue se grootste bron van kommer die vrees is dat beskikbare fondse tydens aftrede sal opdroog. Hierdie vrees was groter as die vrees om ’n eggenoot of lewensmaat te verloor.

Die goeie nuus is darem dat hierdie vrese oorkom kan word deur beheer te neem. In die Amerikaanse opname is bevind dat 67% van vroue getuig het dit het ’n groot verskil aan hul lewensgehalte gemaak om meer betrokke te raak by die bestuur van hul eie finansies

Geld en moederskap

Vroue bly die vernaamste versorgers in die samelewing, veral in Suid-Afrika met sy hoë voorkoms van enkelma’s; en derhalwe is ’n kind se welsyn regstreeks gekoppel aan die moeder se finansiële stabiliteit. Vroue is nie net bekommerd oor hul eie finansiële behoeftes nie, maar ook dié van hul kinders.

Vroue is geneig om groter waarde te heg aan spaarpogings vir opvoeding en ‘n noodfonds as vir ander doelwitte soos ‘n deposito op ‘n huis of aftreefondse. ’n Artikel wat onlangs in Mail&Guardian verskyn het, berig dat die World Family Map se 2013 verslag bevind het dat kinders in talle laer inkomste-huishoudings beter daaraan toe is met ’n enkelma. Volgens die artikel belê ma’s meer tyd, geld en emosionele ondersteuning in hul kinders se opvoeding as pa’s met dieselfde hulpbronne.

Ongelukkig is vroue egter minder geneig om ’n finansiële adviseur te raadpleeg of hul finansies te beplan as mans, hoewel hulle begaan is daaroor om vir hul kinders te voorsien.

Die Visa se Women’s Money Matters Survey 2013 het bevind dat Suid-Afrikaanse vroue meer geneig sal wees om hul eggenoot of lewensmaat te raadpleeg vir finansiële advies as ’n onafhanklike adviseur, terwyl die Amerikaanse navorsing bevind het dat vroue ongeag hul gesinsituasie meen die eise van moederskap en ’n gesin is te veeleisend om hulle nog oor finansiële beplanningstrategieë te kwel. Die probleem is egter dat dit groter angs veroorsaak om nie na jou geldsake om te sien nie.

Die oplossing

Die beste manier om finansiële angs uit die weg te ruim, is om ’n plan te hê. Jou finansiële plan moet voorsiening maak vir jou kind se toekoms, sowel deur middel van toepaslike risikoversekering as ’n testament wat vir jong kinders voorsiening maak met ’n testamentêre trust. Dit is ironies dat vroue, terwyl hulle bekommerd is oor hul kinders se toekoms, nogtans geneig is om minder risikodekking in plek te hê om finansieel vir hulle voorsiening te maak vir ingeval hulle iets sou oorkom.

‘n Goeie finansiële plan moet ook verseker dat jy vir jou aftrede voorsiening maak; want die beste geskenk wat jy aan jou kind kan gee, is om na aftrede finansieel onafhanklik te wees.

Te versigtig vir ‘n gerieflike aftrede

Buiten die geneigdheid by vroue om nie aftreespaargeld te prioritiseer nie, is hulle geneig om oorversigtig te wees en nie genoeg in groeibates te belê wanneer hulle wel vir aftrede spaar nie.

Visa se opname van 2013 het ook bevind dat wanneer dit by beleggingsvoorkeure kom, 73% van die vroue wat deelgeneem het, aangedui het dat hulle ‘spaargeld in die bank’ het en net 10% het in effektetrusts belê. Vroue is geneig om tradisioneel baie konserwatief met hul geld te wees en hulle vermy dikwels groeibeleggings soos aandele, tot nadeel van hul langtermyn beleggingsopbrengste.

Terwyl kontant miskien meer geskik is vir korter spaardoelwitte soos troues en huisdeposito’s, is dit nie geskik vir medium en langer termyn-doelwitte soos kinders se opvoeding en aftrede nie.

As jy byvoorbeeld 11 jaar gelede R100 000 in kontant belê het, sal dit vandag om en by R240 000 werd wees voor belasting. Vergeleke daarmee sou ’n belegging van R100 000 in die JSE se Alle Aandele-indeks oor dieselfde tydperk R656 000 opgelewer het – selfs met inagneming van een van die grootste mark-insinkings in dekades. Die risiko van inflasie en geld wat kan opdroog is veel groter as korttermyn markskommelings.

Die oplossing

Kry ’n finansiële adviseur wat na jou sal luister. ’n Goeie finansiële adviseur sal begin deur vir jou vrae oor jouself te vra en meer oor jou doelwitte, drome en vrese te wete te kom. Moenie bang wees om vrae te vra nie: hoe meer jy van finansies verstaan, hoe minder skrikwekkend sal dit word, veral as jy met iemand saamwerk wat jy vertrou. As jy meer van beleggings te wete wil kom, kan jy gerus oorweeg om jou boekklub om te skep in ’n beleggingsklub. Die Amerikaanse opname het bevind dat vroue verkies om op ’n meer sosiale manier finansiële inligting te bekom, veral as deel van ’n groep met soortgelyke lewenservaringe. Dit is hoekom spaarklubs of finansiële werkswinkels veral gewild is onder vroue.

Siektes en genetika

Gebaseer op Liberty se eisstatistieke is vroue meer geneig om aan kankerverwante siektes te ly as mans. Kankereise verteenwoordig byna 50% van alle vroue-eise, terwyl dit net 32% van mans se eise verteenwoordig. Die meerderheid van eise deur vroue is vir borskanker.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie, sal 1 uit elke 11 vroue tussen die ouderdom van 20 en 59 jaar in hul leeftyd met borskanker gediagnoseer word, wat ook die meeste sterftes in hierdie ouderdomsgroep veroorsaak. Nog meer vreesaanjaend is die feit dat die voorkoms van kanker gaan toeneem van ’n geskatte 12.9 miljoen gevalle in 2009 tot 27 miljoen in 2030, met ’n verwagte 17 miljoen kankersterftes, volgens ’n bakenverslag oor die wêreldwye kankergevaar.

Vroue is minder geneig om risikodekking te hê as mans, terwyl dit eintlik van groter kardinale belang is vir vroue in die rolle van sowel versorgers as inkomste-verdieners om finansiële beskerming teen siekte in plek te hê.

Die oplossing

Die goeie nuus is dat baie vroue danksy moderne tegnologie en mediese vooruitgang hierdie bedreigings oorleef en met hul lewens kan aangaan.

Die gepaste risikodekking kan verseker dat jy geld het nie net om toegang tot die jongste tegnologie in gesondheidsorg te hê nie, maar ook om jou in staat te stel om verlof te neem by die werk en om bykomende hulp te kry terwyl jy herstel.

Hoewel jy finansiële beskerming sal geniet deur gepaste dekking in plek te hê, is voorkoming beter as genesing en is dit derhalwe belangrik om na jouself om te sien. Maak seker dat jy gereeld vir ondersoeke gaan, veral as jy ’n familiegeskiedenis van oorerflike siektes het.