Siekte van die maand: Die vyf grootste oorsake van sterftes by mans

Andrew Edwards: Hoofbeampte, Liberty Mediese Skema

Bewapen jouself met kennis en gesonder gewoontes

Hartsiektes

Hartsiektes is een van die grootste oorsake van dood in Suid-Afrika. Sowat een uit elke drie mans sal voor die ouderdom van 60 jaar aan ’n hartsiekte begin ly. Hoë bloeddruk, wat ook as hipertensie bekend staan, is een van die vernaamste oorsake van hartsiektes.

Die grootste bydraende faktore tot hartsiektes is oorgewig, rook, swak dieet en gebrek aan oefening. Hierdie faktore kan lei tot ’n opbou van cholesterol in die slagare, wat uiteindelik tot ’n hartaanval kan lei. Jou familiegeskiedenis kan ’n aanduiding wees of jy gevaar loop om ’n hartsiekte op te doen.

  • Simptome: Waarskuwingstekens van ‘n ‘hartaanval’ sluit onder meer in herhalende pyn in die bors, nek of arms wat 10 tot 15 minute kan duur. Die borspyn is dikwels drukkend van aard en kan voel asof iemand op jou borskas sit. Ontbied ’n ambulans of kom so gou as moontlik uit by ’n hospitaal. Hoe langer jy wag, hoe kleiner is die kans dat jy ‘n hartaanval sal oorleef.
  • Optrede: Kies ‘n mediese skema wat toetse soos dié vir cholesterol en bloeddruk dek en laat dit gereeld doen. Hou op rook met behulp van ’n rookbeëindigingsprogram wat deur jou mediese skema aangebied word; kweek gesonder eetgewoontes aan en kry meer oefening.

Diabetes

Diabetes raak nagenoeg 8-10% van die Suid-Afrikaanse bevolking. Die algemeenste vorm, Tipe 2 diabetes (wat meer dikwels in volwassenes posvat, maar ook in jongmense kan voorkom veral as hulle oorgewig is en ’n familiegeskiedenis van diabetes het) affekteer 85-90% van diabetes-lyers.

Diabetes kan tot talle ernstige komplikasies lei, soos onder meer blindheid, ledemaat-amputasie, niersiekte, hartsiekte en erektiele wanfunksie. Die goeie nuus is dat hierdie komplikasies deur middel van noukeurige bestuur vertraag of selfs voorkom kan word. Vroeë diagnose is egter belangrik.

  • Simptome: Dit sluit in buitengewone dors, gereelde urinering, uitermatige moegheid of gebrek aan energie, terugkerende infeksies (bv. bloedvinte, sproei, ens.) sowel as snye en kneusplekke wat moeilik genees.
  • Optrede: Laat jou bloedglukose-vlakke gereeld toets en indien jy met diabetes gediagnoseer word, sluit aan by ‘n bestuursprogram wat deur jou mediese skema aangebied word. ’n Span deskundiges sal jou help om stappe te doen soos om jou gewig te beheer, jou dieet te verbeter, jou stresvlakke te verlaag en op te hou rook. Onthou ’n sterk familiegeskiedenis is ’n risiko vir die ontwikkeling van diabetes.

Prostaatkanker

Prostaatkanker is die algemeenste kanker onder mans en jaarliks word meer as 4 000 in Suid-Afrika met die toestand gediagnoseer.

  • Simptome: Wees bedag op simptome soos ‘n toenemende behoefte om te urineer, ‘n swak urienstroom, laer rugpyn of bloed in die urine.
  • Optrede: Omdat prostaatkanker ‘n hormoongebaseerde siekte is, kan dit gekoppel word aan die eet van vleis wat hoër vlakke van hormoonversteurende chemikalieë bevat. Eet meer vrugte en tamatieryke voedsel, aangesien dit antioksidante bevat. Rook kan jou blootstelling aan kadmium, ’n giftige metaal, verhoog, wat ook aan prostaatkanker gekoppel kan word. Rook put verder die vlakke van sink in jou liggaam uit, wat belangrik is vir die beskerming van die prostaat. Hou dus so gou as moontlik op met rook.

Tuberkulose (TB)

Sowat 1% van Suid-Afrika se bevolking van 50 miljoen loop gevaar om elke jaar TB op te doen. Die jongste syfer van die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid is dat 73% van alle TB-pasiënte ook MIV positief is. Dit beteken egter nie dat indien jy nie MIV positief is nie, jy nie vatbaar is om TB op te doen nie.

Dit is makliker as wat jy dink om TB op te doen – selfs deur net naby aan iemand wat siek is, in ‘n ry te staan; of in ‘n ongeventileerde vertrek na aan iemand met die toestand te sit.

Hoewel die TB-bakterieë in jou liggaam teenwoordig mag wees, kan ‘n goeie immuunstelsel verhinder dat jy siek word. ’n Sterk immuunstelsel sal die TB-bakterieë verhinder om in jou liggaam te groei. Wanneer die siekte egter by jou posvat, staan dit bekend as aktiewe TB en kan ander by jou aansteek, gewoonlik wanneer jy hoes.

    Simptome: Tekens en simptome van aktiewe TB sluit die volgende in:
  • Hoes vir drie weke of langer
  • Die ophoes van bloed
  • Gewigsverlies
  • Uitputting
  • Koors
  • Nagsweet
  • Kouekoors
  • Gebrek aan eetlus
  • Dit val gewoonlik die longe aan, maar kan ook ander liggaamsdele affekteer, byvoorbeeld jou niere, die werwelkolom of die brein.
  • Optrede: Indien jy met TB gediagnoseer is, moet jy seker maak dat jy jou medikasie gebruik, die kursus voltooi en gereeld vir ondersoeke gaan. Voorkomingsmaatreëls sluit onder meer die ventilering van jou werkplek in en om jou immuunstelsel deur middel van ’n goeie dieet sterk te hou.

MIV

‘n Verslag deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) het bevind dat 79.2% van die respondente glo dat hulle nie die gevaar loop om MIV op te doen nie. Tog is byna 1 uit elke 10 mans in Suid-Afrika besmet met die virus. Hoewel die toegang tot antiretrovirale medikasie die afgelope paar jaar verbeter het, bly dit steeds ’n chroniese siektetoestand.

  • Simptome: Die meeste mense ervaar aan die begin griepagtige simptome soos koors, opgeswelde kliere, seer keel, pyne en hoofpyne. Dit word ‘akute retrovirale sindroom’ (ARS) of ‘primêre MIV-infeksie’ genoem en is die liggaam se natuurlike reaksie op die MIV-infeksie. Dit is nie nodig om aan te neem dat jy MIV het as jy hierdie simptome ervaar nie, behalwe as jy moontlik aan die virus blootgestel is deur ’n nuwe seksuele maat of byvoorbeeld ’n bloedoortapping; dan moet jy jouself onmiddellik laat toets. Gereelde toetsing vir MIV is raadsaam. Baie mense wat besmet is met die virus kan vir 10 jaar
  • Optrede: Stel vas wat jou status is en word gereeld getoets. Vermy riskante seksuele gedrag, soos om veelvuldige seksmaats te hê of nie ’n kondoom te gebruik nie. Indien jy as MIV positief gediagnoseer word, is dit raadsaam om by jou mediese skema se MIV-bestuursprogram in te skakel en jou immuunstelsel so gesond as moontlik te probeer hou.