Hoe gemaak om te spaar

Liberty Adviesdienste

Ons moet onthou om onsself eerste te betaal

Met rentekoerse aan die styg, asook lewenskoste wat hoër word, lyk die gedagte om geld opsy te sit om te spaar, na ’n onmoontlike taak. Net om genoeg geld te vind om elke maand kop bo water te hou, is reeds ’n groot uitdaging.

Die probleem is dat as ons net op ons maandelikse geldelike verpligtinge konsentreer, verbeur ons die geleentheid om ware rykdom te skep. Danksy die krag van saamgestelde rente begin elke sent wat jy vandag spaar, vir jou werk.

As jy vandag begin om R500 per maand in ‘n belegging met ‘n gemiddelde opbrengs van 12% te spaar, sou dit binne net tien jaar tot meer as R100 000 groei.

Verbind jouself daartoe om jouself elke maand eerste te betaal. Dit beteken dat jou eerste maandelikse ‘rekening’ wat vereffen word, jou spaargeld is. Om dit tot laaste te los – met die doel om eers te kyk wat oorbly nadat al jou verpligtinge nagekom is, sal jou letterlik niks in die sak bring nie.

Jy hoef nie baie geld te hê om te begin spaar nie. Jy moet net begin.

Verbind jouself tot ‘n toekomstige spaarpoging

Omdat ons menslik is, is dit vir ons makliker om oor ‘n langer tydperk ‘n doelwit te bereik, eerder as om dit onmiddellik te probeer doen. Sielkundig en emosioneel sal ‘n ‘aanwas’-benadering tot spaar nie so ’n onmiddellike uitwerking op jou lewenstyl hê nie en derhalwe sal dit waarskynlik makliker wees om daarby te hou.

Die spaar môre meer skema (‘save more tomorrow scheme’) word in die boek Nudge beskryf, waar ‘n persoon hom/haar daartoe verbind om hul spaargeld mettertyd stadig te laat groei. As dit jou mikpunt is om uiteindelik 10% van jou salaris te bereik, kan jy dit met die ‘aanwas’-benadering oor vyf jaar regkry deur elke jaar ’n bietjie meer van jou salarisverhoging af te skilfer.

Richard Thaler en Cass Sustein, die skrywers van Nudge, het hierdie skema in Australië bekendgestel en na 4 jaar het 78% van die mense hulle reeds tot die plan verbind. Die gemiddelde belegger het sy spaarvlakke binne daardie vier jaar van 3.5% tot 13.6% opgestoot.

Byvoorbeeld: as jy hierdie jaar ‘n salarisverhoging van 7% ontvang het, teken dadelik ‘n debietorder om 2% van jou nuwe inkomste in ‘n spaarrekening te plaas. Verbind jou daartoe om daardie debietorder elke jaar met ’n verdere 2% van jou salaris te vermeerder. Binne vyf jaar sal jy 10% van jou salaris gespaar het sonder om eers op jou besteding terug te sny. Een manier om te verseker dat jy by hierdie doelwit bly, is om ’n vaste onderneming aan jou finansiële adviseur te maak dat jy elke jaar jou spaargeld sal vermeerder. Dit help om iemand te hê wat jou herinner aan die beloftes wat jy aan jouself gemaak het.

Alternatiewelik kan jy met ‘n debietorder begin wat jaarliks met 10% eskaleer, sodat jou spaargeld vanself groei sonder enige administratiewe rompslomp.

Die sleutel tot sukses is egter om eers seker te maak dat jy binne jou vermoë lewe voor jy die salarisverhoging ontvang. Dit is om te verseker dat jy nie op die verhoging staatmaak om jou koste te dek nie.

Gebruik jou bonus om spaargeld ‘n hupstoot te gee

Oorweeg dit selfs om ‘n klein persentasie van jou jaarlikse bonus te gebruik om jou aftreespaargeld mee te styf. Beskou dit as ’n bydrae tot die finansiering van jou ‘bonus’ wanneer jy eers afgetree is. Een van die vele voordele van ’n aftree-annuïteit is dat jou bydrae belasting-aftrekbaar is tot op sekere voorgeskrewe perke. Dit beteken dat die SAID jou eintlik help om jou aftreefondse te finansier.

Spaar vir ‘n spesifieke doel

Identifiseer ‘n spesifieke doel en sit afsonderlike spaargeld opsy hiervoor. Dit sal jou nie net help fokus op die instandhouding van jou spaargeld nie, maar dit sal jou ook motiveer namate jy jou spaargeld sien groei. Spaarpogings met kort- of mediumtermyn-doelwitte in gedagte kan baie eenvoudig met behulp van ’n spaarrekening of deur middel van die geldmark gedoen word. As jou doelwit egter ’n horison van langer as 5 jaar het, moet jy seker maak dat jy opsies soos uitkeringspolisse, effektetrusts en ander spaar-opsies met jou finansiële adviseur bespreek. Hierdie spaar-instrumente kan goeie belastingvoordele bied, sowel as om verskeie beleggingsopsies te verskaf wat jou risiko-aptyt sal bevredig.