Deur Laura Jones, ekonoom, STANLIB

Terwyl gesamentlike spaarpogings goed is oor die lang termyn, kan 'n skielike vermeerdering in spaargeld ekonomiese groei op die kort termyn eerder skade berokken. Dit staan bekend as die teenstrydigheid (paradoks) van spaarsamigheid.

Dit is moeilik om nie saam te stem met die feit dat individuele spaarpogings 'n goeie ding is nie. Tog is sommige ekonome van mening dat gesamentlike spaarpogings ook nadelig kan wees vanweë die paradoks van spaarsamigheid, 'n teorie wat van ene John Maynard afkomstig is.

Lang- en korttermyn spaarpogings

Dit is belangrik om tussen kort en lang termyn te onderskei. Oor die lang termyn is gesamentlike spaarsamigheid (‘n hoër marginale geneigdheid om te spaar) gewoonlik ‘n goeie ding wat in verhouding is met die meeste mense se logika en intuïsie: Moenie meer bestee as wat jy verdien nie. Moenie dinge koop wat jy nie benodig nie. Spaar vir die dag dat jy dit sal nodig kry.

Oor die kort termyn kan skielike stygings in die gesamentlike spaarkoers egter potensieel skadelik vir ekonomiese groei wees. Indien ons almal ons besteding inkort in ‘n poging om ons individuele spaargeld te vermeerder, sal ons gesamentlike spaargeld paradoksaal verminder omdat een persoon se besteding ‘n ander se inkomste is: die fontein waaruit spaargeld en beleggings vloei. So verduidelik Paul McCulley, ‘n ekonomoom en portefeuljebestuurder by die batebestuurder Pimco.

Hierdie argument word dikwels gebruik om verbruikersbesteding in tyde van ekonomiese onsekerheid te stimuleer. Dit het ook daartoe gelei dat regerings in resessietye ruim bestee om te verhinder dat die resessies verder versleg.

Te veel van 'n goeie ding

Gedurende die laaste resessie was dit wyd bekend dat president Bush die Amerikaners aangemoedig het om te koop, met die oog daarop om die ekonomiese insinking te troef. Hulle het gehoor gegee en sodoende is die angel uit die resessie gehaal. Die gevolg was egter ook ‘n ontploffing van skuld: miljoene Amerikaners het biljoene dollars bestee op dinge wat hulle nie kon bekostig nie, insluitend huise. ‘n Pynlike afrekening was onvermydelik. In hierdie geval het die verbruiker die teensikliese rol oorgeneem wat gewoonlik deur ‘n regering gespeel word deurdat skuldmaking en besteding ingespan is om ‘n swak ekonomie te stimuleer.

'n Balans tussen bestee en spaar

Miskien is ons nou besig om gesamentlik die opsie van spaar te herontdek. Die Amerikaners se skuldvlakke is besig om te daal. Verbruikersbesteding het afgeneem. Die spaarkoers is aan die styg. Dis goed so, nie waar nie?

Nie noodwendig nie.

Die skielike versobering van die verbruiker blyk ‘n problematiese faktor te wees wat besig is om nie net die Amerikaanse ekonomie nie, maar ook die wêreldwye ekonomie, afwaarts te dryf. So bly die benadering teenstrydig: ‘n gesonde ekonomie benodig ‘n balans tussen spaar en bestee.

Om omvangryke wêreldwye ekonomiese groei aan te help, moet huishoudings bereid wees om te bestee én te spaar. Verbruikers met werk en ‘n vaste inkomste moet voortgaan om te bestee op dinge wat hulle nodig het en kan bekostig, terwyl hulle terselfdertyd ook daarop ingestel is om vir die toekoms te spaar.

Ons leef in ‘n wêreld van besigheidsiklusse en in tye van onsekerheid het individue en huishoudings ‘n finansiële buffer nodig. Wanneer iemand hul werk verloor, kan spaargeld gebruik word om uitgawes en lewenskoste te dek. Individue met so ‘n noodsaaklike buffer van meer spaargeld is ook oor die lang termyn ‘n bate vir die ekonomie, aangesien gesamentlike spaarpogings ‘n beleggingsmeganisme is.

Spaargeld verskaf die basis vir toekomstige verbruik deur die individu. Dit is belangrik vir ekonomiese groei en skep ‘n gesamentlike poel van geld waaruit besighede kan leen om in tegnologieë te belê wat in die toekoms ons lewenstandaarde sal verbeter.