Een van die sleutel-beginsels van belegging is diversifikasie: om jou risiko’s te beperk deur nie te veel blootstelling aan een bateklas of belegging te hê nie.
Die reëls van Regulasie 28 van die Wet op Pensioenfondse beperk ‘n aftreefonds se blootstelling aan aandele tot ‘n maksimum van 75%. Die reëls beperk ook blootstelling aan enige enkele belegging of bank.
Voorheen was hierdie ‘verstandige riglyne’ net op aftreefondse en nie op individuele polisse van toepassing nie. Solank as wat die fonds hierdie bate-toewysings in stand gehou het, kon individue binne die fonds (met individuele polisse) verskillende toewysings hê. Byvoorbeeld as een lid gekies het om slegs 50% toewysing aan aandele te hê, sou ‘n ander lid ‘n 100% toewysing kon hê terwyl die algehele blootstelling aan aandele op fondsvlak op 75% bly.
Hierdie reëls is op ‘n tydstip in die lewe geroep toe maatskappye slegs een beleggingsopsie gebied het. Vandag het ons egter lede-keuses waar lede hul onderliggende beleggingsprofiele kan kies. Namate ledekeuse ontwikkel het, moes wetgewing aangepas word. Die nuwe bepalings in Regulasie 28 sal dus die sogenaamde verstandige riglyne op ‘n individuele lid-vlak toepas.
Let op: Regulasie 28 is nie op aftreeprodukte (soos egalige bonus-opbrengsfondse) wat ‘n kapitaalwaarborg verskaf, van toepassing nie.
Uitvoering van suksessieregte
Die regering volg die beginsel om suksessieregte te respekteer. Die regulasie sal nie bestaande polisse wat voor 1 April 2011 gekoop is, raak nie, aangesien beleggers sodanige beleggings op grond van die reëls van daardie betrokke tydstip gemaak het.
Indien jy nie enige wesenlike veranderinge aan jou bestaande aftreepolis maak nie, sal die nuwe voorwaardes nie op jou bestaande polis van toepassing wees nie.
Wat beteken 'n wesenlike verandering op Liberty se polisse?
Tipe verandering |
Wesenlike verandering? |
| Voortgesette premies wat per maandelikse debietorder betaal word | Nee |
| Enkelbedrag-bydraes (bv. wat teen die einde van ‘n jaar aanvullend gemaak word.) | Ja |
| Verandering aan die gereeldheid van jou betalings van jaarliks na maandeliks. | Ja |
| Outomatiese premieverhogings in terme van jou polisbepalings | Nee |
| Premieverhogings wat buite jou polisbepalings gemaak word | Ja |
| Die verandering van batebestuurders (portefeuljes) maar met behoud van dieselfde batetoewysing | Nee |
| Die verandering van batetoewysing in jou portefeuljes, bv. om van ‘n verbandportefeulje na aandele te verander | Ja |
Hierdie nuwe voorwaardes sal enige veranderinge in jou premies van 1 April 2011 raak. Indien jy ‘n aanvulling wil doen of jou debietorder wil verhoog sonder om jou bestaande aftree-annuïteitsportefeulje te raak, sal jy ‘n nuwe polis vir die nuwe premies moet uitneem.
Belegging in ander bates
Regulasie 28 verskaf ook nou die geleentheid om in ander bateklasse te belê, soos private aandele- en verskansingsfondse. Dit stel beleggers tegnies in staat om hul blootstelling aan aandele tot bokant die 75%-vlak te vermeerder. Aftreefondse kan verskansingsfondse gebruik om die portefeulje gedurende daalmarkte te beskerm of om opbrengste ten tyde van wisselvallige markte soos dié wat ons nou beleef, te verbeter. Hierdie strategieë sou egter van lae-risiko waarde wees, ten einde kontant te oortref eerder as om die risiko van die fonds te verhoog.
