Deur Tendani Mantshimuli, verbruikersekonoom, Liberty Life

Die vooruitsig vir die Suid-Afrikaanse ekonomie het verder vertroebel sedert ons laaste nuusbrief en die vrese vir 'n wêreldwye resessie het toegeneem.

Ekonomiese groei het in die tweede kwartaal van hierdie jaar van ‘n robuuste 4.8% in die eerste kwartaal, verswak na 1.3% in die twee kwartaal. Gegewens oor motorverkope, kleinhandel en vervaardiging dui op ‘n verdere verswakking in ekonomiese bedrywighede in die komende maande.

Die jongste vervaardigingsyfers wat deur Statistiek SA gepubliseer is, bevestig ‘n inkrimping in die PMI, wat geensins positief vir ekonomiese groei is nie. Mynopbrengste het ook in dieselfde tydperk ingekrimp. Die swakheid in vervaardigingsopbrengs is egter nie slegs ‘n Suid-Afrikaanse probleem nie; PMI-aanwysers in die meeste ekonomieë het verswak in lyn met die somber vooruitsigte vir ‘n wêreldwye ekonomiese herstel.

Vrese vir 'n wêreldwye resessie

Die meeste ontleders het ‘n toenemende moontlikheid dat die VSA en die Eurostreek in ‘n resessie kan gaan, ingereken. Of dit ‘n volwaardige resessie sal wees of net ‘n swak groeikol, sal nog moet blyk, maar nie een van die moontlikhede is goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en veral vir vervaardigde uitvoere nie.

Hoewel die jongste IMF-vooruitskouing en die voorspellings van die SA Reserwebank steeds op positiewe groei vir Suid-Afrika dui, is die groeikoers afgeskaal van vroeëre voorspellings. Die rede is dat die land se ekonomiese lot nou verweef is met dié van die wêreldwye ekonomie. Suid-Afrika sal nie die wind van voor vryspring wat die ekonomie wêreldwyd teister nie: uitvoere gaan sukkel en inflasie sal styg.

'n Daling in die rand 'n risiko vir inflasie

Ons het die rand in die afgelope week skerp sien daal namate geld onttrek is uit ontwikkelende markte wat as hoër risiko's beskou word. Indien hierdie swakheid vir 'n uitgerekte tydperk voortduur, sal dit 'n risiko vir inflasie inhou. Die risiko van ingevoerde inflasie soos hoër olie- en voedselpryse as gevolg van 'n swakker rand, sal na verwagting toeneem. Met oliepryse wat reeds ietwat aan die hoë kant is, kan dit tot hoër petrolpryse lei..

Versigtigheid oor hoër kleinhandelverkope

Op die ekonomiese front was daar positiewe nuus. Kleinhandelverkope het verrassend genoeg 'n mate van verbetering getoon, maar enige volgehoue toename in verbruikersbesteding is afhanklik van werkskepping. Met 'n kwynende vooruitsig op groei, is dit nie op die oomblik baie belowend nie. Die jongste inflasiesyfers was positief omdat inflasie nie tussen Julie en Augustus gestyg het nie. Lae-inkomste verdieners word steeds deur 'n veel hoër inflasiekoers as die algehele VPI-koers in die gesig gestaar, aangesien hul 'inkopie-mandjies' uit meer hoë-inflasie goedere soos voedsel en vervoerkoste bestaan. 'n Punt waarop die SA Reserwebank gereeld wys wanneer mense misverstaan dat inflasie-teikening nie ten gunste van die armes is nie, is juis dat hierdie segment van die samelewing hard geslaan word deur inflasie.

Koerse langer onveranderd

Die Monetêre Beleidskomitee (MBK) van die Reserwebank het vandeesweek vergader om die volgende polisbesluit te oorweeg. Soos die verwagting was, het die MBK koerse onveranderd gelaat, met die repo-koers op 5.5% en die primêre oortrekkingskoers op 9%. Gewoonlik wanneer inflasie ‘n opwaartse neiging toon, verwag ons dat rentekoerse sal styg, maar terwyl inflasie parallel aan ‘n verswakkende ekonomie aan die styg is, is dit nie nou vir die MBK ‘n opsie om rentekoerse te verhoog nie. Die MBK het eintlik die deur oopgelaat vir ‘n moontlike koersverlaging indien die verswakking in die wêreldwye vooruitsigte ‘n merkbare uitwerking op plaaslike ekonomiese groei het.

Soos vroeër genoem, is die verhouding van huishoudelike skuld tot besteebare inkomste steeds baie hoog. Die huidige lae rentekoers is steeds gunstig vir verbruikers om voort te gaan om hul skulde af te betaal, aangesien die dienskoste vir skuld op ongekende lae vlakke is.