Die opvatting dat die wêreldwye ekonomie se fut uit is, het in die afgelope weke momentum gekry. Wêreldwye aktiwiteit het verswak en oneweredig geword, vertrouensvlakke het skerp gedaal en die risiko van wanbetaling in Griekeland het skerp gestyg. Ekonomiese groei in die eurogebied het gestaak en China probeer om ‘n verlangsaming te implementeer om sodoene inflasie en die pas van eiendomsontwikkeling te beheer.
Groei-beramings daal
As gevolg van hierdie gebeure is die IMF-vooruitskouing vir ontwikkelde ekonomieë in 2011 gesny met 0.6% tot 1.6% in September 2011, met betrekking tot die Junie 2011-vooruitskouing. Daarbenewens is die 2012-vooruitskouing met 0.7% tot 1.9% verlaag.
Risiko’s in ontluikende en ontwikkelende ekonomieë kom ietwat minder ernstig voor as in ontwikkelde markte, hoofsaaklik weens hul relatief gesonde ekonomiese grondslae soos veral lae regeringskuldvlakke.
Die IMF se September 2011 groei-vooruitskouing vir ontwikkelende markte is vir 2011 met slegs 0.2% tot 6.4% verlaag, en vir 2012 met 0.3% tot 6.1%.
Insig in die eurogebiedprobleem en veral Griekeland
Die suidelike Europese lande, veral Griekeland, bevind hulself in die kern van die eurogebied-skuldkrisis. Die algehele vlak van Griekse regeringskuld was jare lank ongekontroleer en het uiteindelik buite beheer geraak. In 2010 het Griekeland se nasionale skuld tot ‘n verbysterende 143% van BBP gestyg en na verwagting sal dit in 2011 tot 165% van die BBP styg. Die internasionaal aanvaarbare riglyn bepaal dat regeringskuld nie veel meer as 60% van BBP moet beloop nie. Suid-Afrika se skuldvlakke is om en by 40%.
Die eerste hulppakket
In Mei 2010 het Griekeland ‘n €110 miljard finansiële-ondersteuningspakket van die Europese Unie en die IMF ontvang, wat oor 13 gedeeltes versprei is. Hoewel hierdie pakket Griekeland gehelp het om wanbetaling vry te spring, het dit ‘n paar knellende voorwaardes ingesluit, veral die noodsaaklikheid dat ‘n streng fiskale besuinigingsprogram ingestel moes word. Die regering moes met ander woorde besteding besnoei.
Ongelukkig was die Griekse owerhede, weens ‘n verskeidenheid redes, nie in staat om die nodige besteding- en belastingsaanpassings te maak nie, met die gevolg dat hulle die risiko loop om nie die nodige befondsing van die Europese Unie en die IMF te onvang om wanbetaling te vermy nie.
Hierdie volgehoue en stygende wanprestasie-risiko het ‘n groot destabiliserende uitwerking op die Europese finansiële stelsel sowel as op wêreldwye finansiële markte gehad. Aangesien ‘n beduidende deel van Griekeland se nasionale skuld aan banke binne die eurogebied geskuld word, staar hierdie instellings ‘n likwidasiekrisis in die gesig wat markonrus vererger.
Die onsekerheid het ook ‘n negatiewe uitwerking op sake- en verbruikersvertroue gehad met die gevolg dat die eurogebied op die rand van ‘n terugkeer na resessietoestande staan. Daar is ‘n stygende risiko dat die swak finansiële toestande en reële ekonomie (huishoudings en sakesektor) in ‘n wederkerig-versnellende afwaartse spiraal vasgevang word.
Die tweede hulppakket
Op 21 Julie 2011 het die Europese Unie tesame met die IMF en vername private sektor-banke ‘n uitgebreide finansiële ondersteuningspakket ontwerp om die finansieringsgaping in Griekeland volledig te vul. Die totale amptelike finansiering wat in hierdie nuwe pakket voorgestel is het ‘n beraamde €109 miljard beloop. Boonop het die private sektor hulself bereid verklaar om Griekeland op ‘n vrywillige basis te ondersteun. Die netto bydrae van die private sektor was na raming €37miljard.
Die amptelike en private sektor-ondersteuning het laer rentekoerse asook verlengde looptye (‘n langer termyn om die lenings terug te betaal) ingesluit, om sodoende die leningsvolhoubaarheid en herfinansieringsprofiel van Griekeland te verbeter. Die Europese Unie sou die Europese Finansiële Stabiliteitsfonds (EFSF) as finansieringsmiddel gebruik. Ongelukkig is hierdie ondersteuningspakket nog steeds nie deur die 17 lidlande van die eurogebied goedgekeur nie en die EFSF is nie noemenswaardig vergroot nie. Gevolglik is die Griekse fiskale posisie steeds twyfelagtig.
Die oplossing
Om vertroue in die eurogebied te herstel sal ‘n kombinasie van handelinge vereis, wat geloofwaardige langtermyn fiskale aanpassingsprogramme, verdere pro-groeimaatstawwe en ‘n voldoende krisisbeheerraamwerk vir die eurogebied, behels. Dit sal waarskynlik ‘n aansienlike uitbreiding van die EFSF insluit, asook die noemenswaardige afskryf van Griekse skuld en ‘n herkapitalisering van verswakte banke.
‘n Wanbetaling van Griekeland se nasionale skuld sal ernstige gevolge vir die Griekse finansiële stelsel inhou, asook vir die bankwese in die eurogebied.
‘n Oorlog van woorde
Huidiglik blyk dit asof die wêreld op twee tydskale funksioneer. Een is die werklike tydsomgewing waarin die finansiële stelsel funksioneer. Die aanpassingsproses is uitermate vinnig, met markte wat spoedig reageer op nuwe inligting.
Dan is daar ‘n tweede skaal, die pynlik stadige omgewing waarin wetgewende prosesse plaasvind. In sowel die eurogebied (17 verskillende regerings) as die VSA (verdeelde Kongres), veroorsaak die gebrek aan duidelikheid en oortuiging om die krisis op te los dat die vername ekonomieë stadig na die rand van ‘n afgrond beweeg terwyl wetgewers woorde wissel oor wie in die voorste gestoeltes moet sit.
Hierdie stadige en grootliks ondoeltreffende regeringsreaksie tot ekonomiese sleutelvraagstukke, veral in die eurogebied, duur voort en verskerp sodoende die wêreldwye finansiële krisis.
