Daar was ‘n opflikkering in die hoë-frekwensie gegewens1 van die afgelope paar weke en sowel die kleinhandel- as die vervaardigingsektor het positiewe syfers getoon.
‘n Mens sal egter nog moet sien hoe volhoubaar hierdie syfers is en in hoe ‘n mate dit tot die BBP-groei vir die derde kwartaal (Q3) van hierdie jaar sal bydra.
Onwaarskynlik dat eerstekwartaal-groei herhaal sal word
Alle aanduidings dui daarop dat groei in die derde kwartaal steeds swak sal wees vergeleke met die robuuste groei wat ons in die eerste kwartaal van 2011 waargeneem het, ten spyte van hierdie toename. In sy mediumtermyn-begrotingstoespraak in Oktober het die minister van Finansies, mnr Pravin Gordhan, Suid- Afrika se groeivooruitsig afwaarts aangepas na 2.8% vir vanjaar vergeleke met 3.3% verlede jaar. Dit is waarskynlik dat die ekonomie eers in 2013 sterker groei sal toon wanneer die groeikoers na verwagting sal toeneem tot 4.4%.
Vervaardiging kry wind van voor
Die meeste vervaardigingsgroei was te danke aan basis-effekte, m.a.w. die groei het vanaf ‘n lae basis plaasgevind. In dieselfde tydperk verlede jaar het opbrengs gedaal weens uitgerekte stakings (veral in die motorbedryf), dus behoort hierdie jaar in vergelyking daarmee beter te lyk.
Daar is ‘n paar faktore wat niks goeds vir vervaardiging in die korttermyn inhou nie:
- Buitelandse aanvraag, wat van kardinale belang vir die uitvoer-gedeelte van hierdie sektor is, sal aanhou sukkel tot ons besliste optrede sien om die eurogebied-probleem op te los wat dreig om die reeds wankelrige wêreldwye groei te ontspoor.
- Plaaslike sake- en verbruikersvertroue wys nie op sterk aanvraag na vervaardigde goedere nie aangesien Suid-Afrikaners steeds versigtig is om geld te bestee.
‘n Oorsig van die mediumtermyn-begroting
In Oktober het die Minister van Finansies, Pravin Gordhan, die mediumtermyn- begrotingsbeleidverklaring voorgelê waarin hy ‘n oorsig gegee het van die toestand van die regeringsfinansies te midde van die huidige wêreldwye ekonomiese onsekerheid.
Soos verwag is, het die swak ekonomiese groei ‘n negatiewe uitwerking op regeringsfinansies gehad en belastinginkomste het met R13 miljard afgeneem teenoor die oorspronklike begroting. Dit is egter duidelik dat die regering steeds ‘n rol moet speel om die ekonomie te stimuleer deur te bestee aan noodsaaklike infrastruktuuruitgawes wat oorsit in ‘n belegging in toekomstige ekonomiese groei sowel as dienslewering.
Verhoogde skuldvlakke
Die gevolg van toenemende besteding wanneer inkomste laag is, is toenemende lenings en ‘n stygende begrotingstekort. In teenstelling met die meeste Europese lande het Suid-Afrika ‘n konserwatiewe benadering gehandhaaf wanneer dit by fiskale beleid kom, met ander woorde ons skuldvlakke is relatief laag. Dit beteken ons kan nog steeds teen redelike rentekoerse leen en ons skuld met relatiewe gemak diens. Die begrotingstekort het gestyg tot 5.5% maar daar is vooruitsigte dat dit in die 2014/15 fiskale jaar tot 3.3% sal afneem.
Werkskepping d.m.v. belegging
Dit is belangrik om daarop te let dat werkskepping steeds sentraal is in regeringsbeleid. ‘n Fonds van R25 miljard is vir die volgende paar jaar opsygesit om nywerheidsontwikkelingsgebiede te befonds, omgewingsvriendelike (groen) ekonomiese inisiatiewe te ondersteun en om werkverskaffing ‘n hupstoot te gee. Die minister het ook sy besorgdheid uitgespreek oor die ontluikende openbare dienste-loonwet. Hy is van mening dat die land by ‘n punt moet kom waar daar nie na die regering gekyk moet word om werk te skep nie, maar dat daar ‘n bemagtigende omgewing vir klein- en middelslag-ondernemings geskep moet word waarin hulle kan floreer en waarin hulle op hul beurt werk kan verskaf.
Indiensneming nodig om kleinhandelsyfers te ondersteun
Statistieke SA se kleinhandelsyfers het vir twee agtereenvolgende maande gegroei, wat dui op ‘n verbetering in verbruikersaanvraag. Hoe dit sy, aangesien ons nie ‘n ooreenstemmende verhoging in indiensneming en algehele ekonomiese herstel bespeur nie, kan dit nie volhoubaar wees nie.
Vir besteebare inkomste om te groei sodat dit besteding kan finansier, moet meer mense in diens geneem word. Die realiteit is dat daar nie genoeg nuwe werksgeleenthede geskep word vir diegene wat afgelê is, sowel as vir die nuwe toetreders tot die arbeidsmark nie.
Die Reserwebank se kredietuitbreidingsyfers wys daarop dat verbruikers versigtigheid aan die dag lê as dit kom by lenings, en verkies om bestaande skuldvlakke te delg terwyl die koste om skuld te diens nog laag is. Skuld het afgeneem van ‘n hoogtepunt van 82% van besteebare inkomste tot 75.9%.
Indien nie verhandelbare inkomste of krediet styg nie, sal dit moeilik wees vir verbruikerbesteding om in die toekoms oortuigend te groei.
Rentekoers-vooruitsig
In die tweede week van November vind die finale vergadering van die MBK2 vir die jaar plaas. Swak groeisyfers, tesame met hoër inflasiesyfers, sal vir die Reserwebank ‘n uitdaging wees.
VPI-inflasie het in September tot 5.7% gestyg, wat effens hoër as die konsensus-voorspelling is. Daar bestaan geen twyfel dat ons op pad is om in die laaste maand van die jaar deur die boonste band van die inflasieteiken te breek nie, en dit dui aan dat daar druk sal wees om rentekoerse te verhoog.
Dit kom egter in ‘n tyd van groot onsekerheid vir wêreldwye groeivooruitsigte wat SA nie sonder letsels sal laat nie. Indien Europese owerhede nie met ‘n beslissende plan vorendag kom om met Europa se soewereine skuld te handel op ‘n manier wat die mark oortuig nie, sal die onsekerheid aanhou om vertroue weg te vreet en die kanse op ekonomiese herstel te bemoeilik. Die bank sal in ag moet neem hoedat hoër inflasie en hierdie eksterne verwikkelinge binnelandse ekonomiese groei gaan raak.
Inflasie-vooruitsig
Die besonderhede van die inflasiesyfers skets ‘n ander prentjie. Wanneer ‘n mens items met onstabiele pryse soos voedsel en brandstof uitsluit, is inflasie inderdaad teen 4.3% goed binne die teikenband. In die mediumtermyn-begroting is die Nasionale Tesourie se vooruitskouing dat inflasie die boonste band kortliks sal verbreek, maar binne die eerste helfte van volgende jaar weer binne die teikengebied sal terugval. ‘n Gemiddelde inflasiekoers van 5.4% word vir hierdie jaar voorsien en 5.2% aanstaande jaar.
Ongelukkig staar ‘n mens in die werklike lewe wel hoër voedsel- en brandstofpryse in die gesig, twee items wat vir lae-inkomsteverdieners ‘n aansienlike deel van inflasie uitmaak. Die grootste hap uit hul inkomste is vir kos en vervoer. Boonop is geadministreerde prysinflasie (inflasie op dinge soos onderwys, munisipale eiendomsbelasting en -tariewe, water en elektrisiteit) steeds veel hoër as die algehele VPI-syfer. Dit is gedeeltelik die rede waarom inflasie vir baie mense baie hoër voel as wat die amptelike VPI-syfer in werklikheid is.
Groei teenoor inflasie
Die MBK staar ‘n dilemma in die gesig met die bepaling van ‘n monetêre beleid wat nie die indruk sal skep dat die teiken van ‘n inflasie-mikpunt nie meer die hoofmandaat is nie, en dat die bank nou eerder ten koste van die inflasie-risiko op groei fokus.
Ons voorkeur en vooruitskouing vir die komende vergadering is dat die Reserwebank rentekoerse onveranderd behoort te laat terwyl hulle ontwikkelinge in die internasionale ekonomie fyn dophou. Sodoende sal hulle ‘n boodskap uitstuur dat inflasie nog steeds kommerwekkend is, maar dat hulle hul mandaat op so ‘n manier sal navolg dat dit binnelandse ekonomiese groei ondersteun. Onveranderde rentekoerse sal groei ondersteun, aangesien dit leningskoste vir besighede laag sal hou en verbruikers sal ondersteun in hul pogings om skuld af te betaal.
Ons wag op Europa
In ‘n vooruitsig op 2012 sal enige ekonomiese verbetering ten nouste verbind wees met gebeure in Europa. Ons hou dop wat die nuutste eurogebiedberaad sal oplewer. Enige SARB-beleidsverandering sal na verwagting min of meer op dieselfde tydstip gebeur. Agteruitgang in groei sal die bank noodsaak om rentekoerse te verlaag om sodoende groei te stimuleer.
