Stap een: Maak ‘n afspraak om ‘n betroubare finansiële adviseur te spreek.
Die beste manier om ‘n betroubare finansiële adviseur te vind, is waarskynlik deur middel van persoonlike aanbeveling. Doen navraag en laat kollegas, vriende en familie jou lei. Onthou dat persoonlikheid ‘n belangrike faktor is: wat vir ander goed is, sal nie noodwendig vir jou werk nie, maar dit is ‘n goeie beginpunt. Spoor iemand op met wie hulle reeds ‘n tyd lank saamwerk, en veral, wat hulle vertrou.
Die internet kan ook ‘n waardevolle bron van inligting wees. Kontak organisasies soos die Finansiële Beplanningsinstituut by www.fpi.co.za om ‘n lys van al sy geaffilieerde finansiële adviseurs te besigtig.
Wanneer jy die finansiële adviseur ontmoet, moenie huiwer om vrae soos die volgende te vra nie:
- Hoe verdien hy sy fooie: Verdien hy slegs kommissie of vra hy ‘n fooi per konsultasie?
- Wat is sy/haar kwalifikasies en hoe lank is hy/sy reeds in die bedryf?
- Is hy/sy met slegs een finansiële diensteverskaffer geaffilieer (‘n ‘gebonde agent’) of is hy/sy onafhanklik? Wat is die implikasies van elke opsie? As hy/sy onafhanklik is: watter ondernemings steun hulle en waarom?
Moenie huiwer om te vra nie, aangesien FAIS1 (FAID – die wetlike reguleerder van die finansiële beplanningsbedryf) reeds van adviseurs vereis om al hierdie inligting skriftelik te verskaf.
Stap twee: Doen ‘n omvattende finansiële behoefte-ontleding
Sodra jy gemaklik met jou finansiële adviseur oor die weg kom, sal die eerste stap wees om ‘n deeglike finansiële behoefte-ontleding te doen. Dit sal die bespreking van jou finansiële behoeftes en doelwitte behels, veral ingeval van sterfte, fisieke ongeskiktheid en aftrede.
Jy sal aan die finansiële adviseur ‘n goeie aanduiding moet gee van waar jy staan met betrekking tot hierdie doelwitte, sodat enige gapings reggestel kan word. Maak seker dat jy inligting aangaande jou bestaande polisse, groepsvoordele wat deur jou werkgewer verskaf word, jou testament, sowel as inligting met betrekking tot jou inkomste, verskaf.
Stap drie: betaal eerstens jouself
Dit voel altyd of jou aftrede nog ver is, maar dit is snaaks hoe sulke dinge jou kan bekruip. Hoeveel betaaldae bly nog oor voor jou aftrede?
Vir ‘n veertigjarige wat beplan om op 60 af te tree en ‘n lewensverwagting van 75 het, bly daar nog 240 betaaldae oor om vir aftrede te spaar. Dit klink na ‘n lang tyd, totdat jy besef hierdie 240 betaaldae sal ‘n voldoende inkomste moet verskaf vir 180 aftreebetaaldae
Danksy mediese tegnologie, leef ons nou langer. Dit beteken dat ons realisties moet wees oor die moontlikheid dat ons aftrede langer kan duur as wat ons verwag. Het ons genoeg gespaar vir die tydperk? Het ons die uitwerking van die ineenstorting van aandelemarkte oorweeg, of inflasie wat hoër is as wat verwag was, of moontlike werkverliese?
Maak seker dat jou aftreeplan stewig genoeg is om die uitdagings waarvoor dit dalk te staan kan kom die hoof te bied.
Stap vier: om die wetlike implikasies van jou huwelik te verstaan
Het jy geweet dat jou huwelikstatus jou finansiële plan mag raak? Maak seker dat jy die basiese implikasies van jou huwelikstatus verstaan. Binne gemeenskap van goedere is die aanvaarde huwelikskontrak in Suid-Afrika. As jy ‘n huweliksvoorwaardekontrak het, sal dit egter die aanwas van bates gedurende jou huwelik in- of uitsluit.
As jy verkies het om nie te trou nie, maar saam met iemand woon as ‘n sogenaamde “gemenereg”-eggenoot, maak seker dat jy verstaan watter uitwerking dit op jou finansiële beplanning het. So ‘n verhouding wat as permanent beskou word, kan as ‘n huwelik beskou word en aan jou en jou lewensmaat sekere regte en verpligtinge verleen. Dit is egter nie altyd maklik om te bewys nie. Miskien sou jy jou verhouding deur middel van ‘n burgerlike verbintenis wou formaliseer.
Stap vyf: Tot die dood ons skei… die opstel of wysiging van ‘n testament
Niemand hou daarvan om aan die dood te dink nie, maar om vir sulke dinge te beplan, beteken gelukkig nie dat dit nou gaan gebeur nie . Neem dus beheer van die proses en maak seker dat jou testament op datum is. Jou testament is die enigste manier waarop jy enige inspraak sal hê in wat met jou besittings gebeur wanneer jy sterf. Dit kan ook koste bespaar en verseker dat daar geen vertraging in die afhandeling van jou boedel sal wees nie.
Stap ses: Die verlies van ‘n geliefde… wat sou van jou afhanklikes word as jy sou sterf?
Lewensdekking speel ‘n belangrike rol in enige finansiële plan. Dit is ‘n kostedoeltreffende manier om te verseker dat enige wense wat in jou testament uitgespreek word, beslis gefinansier kan word. Oorweeg om lewensdekking te gebruik om vir afhanklikes soos jou eggenoot en/of kinders voorsiening te maak, jou verband of ander skuld af te los en enige boedelbelasting of ander koste wat deur jou dood meegebring word, te dek. Dit stel jou in staat om ‘n nalatenskap te bewerkstellig vir dié wat jy liefhet.
Stap sewe: wat van my?
Om met ‘n lewensgevaarlike siekte gediagnoseer te word, kan ‘n lewensveranderende gebeurtenis wees met geweldig groot finansiële implikasies. Met omvattende gevreesde siektedekking sal jy die beste beskikbare sorg kan bekostig en hopelik kan herstel sonder om finansieel uitgeroei te word. Onthou dat gevreesde siektedekking ontwerp is om te help met die koste wat verband hou met die uitwerking wat die diagnose op jou lewenstyl het. Aanvanklik lyk die koste miskien nie erg nie, maar dit kan baie vinnig op ‘n aardige bedrag te staan kom.
In 2010 het Liberty ‘n totaal van R281.2 miljoen aan gevreesde siekte-dekkingseise uitbetaal. Van hierdie eise was 41% verwant aan ‘n kankerdiagnose. Dus is dit onwys om te dink dat dit nooit met jou sal gebeur nie.
Maak seker dat jou finansiële plan voldoende dekking vir gevreesde siekte insluit, om te voorkom dat jou lewenstyl deur so ‘n diagnose ontwrig word.
Stap agt: Ongeskiktheid
Om beroepsongeskik te raak, kan op soveel maniere verpletterend wees, maar dit hoef nie finansieel rampspoedig te wees nie. Jou vermoë om in die toekoms ‘n inkomste te kan verdien, kan as jou grootste bate beskou word, veral as jy nog jonk, goed gekwalifiseer en vaardig is.
Maak seker dat jy oorweeg wat finansieel sou gebeur indien jy permanent of tydelik ongeskik sou raak. Miskien sou jy aanvanklik ‘n enkelbedrag nodig hê om koste te dek waarvoor jou mediese fonds nie voorsiening maak nie, asook om ‘n omgewing te skep wat in jou ongeskiktheidsbehoeftes voorsien. Dit mag jou langtermyn behoefte wees om jou maandelikse inkomste te vervang. Om ‘n plan te hê wat in hierdie behoeftes voorsien, verseker dat jy jou nie oor die finansiële implikasies van enige ongeskiktheid hoef te bekommer nie.
Stap nege: Suinig met die sente… spaar vir ‘n toekomstige doelwit
Die definisie van spaar is eenvoudig: dit is geld wat nie bestee word nie. Maar ten einde ‘n gesonde opbrengs te verdien, moet jy meer doen as net spaar. Jy moet belê. Hou in gedagte dat jou belegging sterker as die inflasiekoers moet presteer sodat jy ‘n wesenlike opbrengs kan verdien. Die ‘Reël van 72’ lui dat indien inflasie gedurende jou beleggingstydperk gemiddeld 10% is, sal jou koopkrag elke sewe jaar halveer!
Maak seker dat jou belegging by jou risikoprofiel pas. As jy jonk is, sal jy dalk bereid wees om vir ‘n langer tydperk te belê, meer aggressief te wees en bereid om meer risiko’s te aanvaar. ‘n Ouer belegger sal dalk meer konserwatief wees, ten einde kapitaal in stand te hou.
Stap tien: Spaar vir ‘n reëndag…
‘n Omvattende finansiële plan moet vir daaglikse noodgevalle voorsiening maak. Jy wil nie al jou spaarkontant in langtermyn beleggings vasmaak, en dan nie ‘n klein krisis kan hanteer wanneer dit opduik nie.
‘n Deel van die proses om jou noodfonds te vestig, sal behels om ‘n maandelikse begroting op te stel. Verstaan wat jou maandelikse uitgawes is en indien daar aan die einde van die maand iets oorbly, hoeveel dit sal wees.
Die ideale doelwit is om drie maande se inkomste of uitgawes in ‘n geredelik beskikbare fonds te hou.
Stap elf: Konsolideer alle belangrike inligting
Maak al jou belangrike dokumente bymekaar en liasseer hulle op ‘n veilige plek. Dit kan ‘n goeie plan wees om ook aan iemand wat jy vertrou, gesertifiseerde afskrifte daarvan te gee. Sodoende sal hulle ingeval van nood geredelik beskikbaar wees. Maak seker dat jy die volgende insluit:
- Jou ID-dokument en/of paspoort
- Geboortesertifikate
- Testament
- Polisdokumente, aandelesertifikate en ander beleggingsinligting
- Huweliksvoorwaardekontrak en –sertifikaat, indien van toepassing
Stap twaalf: ‘n Aksieplan vir die toekoms
Noudat jy jou plan in plek het, is dit tyd om op te tree. Verbind jou tot ‘n jaarlikse hersiening saam met jou finansiële adviseur. Onthou ook om enige lewensveranderende gebeure, soos ‘n werksverandering, geboorte van ‘n kind, huwelik of egskeiding, met jou finansiële adviseur te bespreek. Hierdie gebeure het ‘n belangrike uitwerking op jou finansiële plan.
1 Financial Advisory and Intermediary Services Act
