'n Moontlike wêreldwye resessie
Daar word nie verwag dat ekonomiese prestasie in 2012 veel verbetering sal toon teenoor dit wat ons in 2011 ervaar het nie. Wêreldwye ekonomiese ontwikkelinge sal steeds 'n groot impak op die plaaslike ekonomie hê, aangesien dit nie wil voorkom asof die Europese ekonomie enige betekenisvolle versterking sal toon nie; die OESO1 voorspel selfs 'n ligte resessie.
Boonop is die VSA se soewereine skuldprobleme nog nie opgelos nie en resolusies mag nog moeiliker bereik word in die lig daarvan dat 2012 'n verkiesingsjaar is.
Al hierdie ontwikkelinge sou kon lei tot 'n uiters slegte wêreldwye ekonomiese vooruitsig wat tot gevolg sal hê dat Suid-Afrika se swak groei sal voortduur. Gevolglik kan ons nie hoop dat ons uitvoere goed sal vaar nie, wat 'n impak op vervaardigingsprestasie in die verloop van die jaar sal hê. Soos sake nou daar uitsien, is daar geen indikasie dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2012 in 'n resessie sal inbeweeg nie, maar dit hang af van gebeure buite ons land.
Die rand en stygende pryse
Die sterkte van die rand sal nog iets wees waarop 'n ogie gehou sal moet word. 'n Betekenisvolle daling van die rand sal 'n negatiewe invoed op inflasie-ontwikkelinge uitoefen.
Internasionale voedselpryse en hoër brandstofpryse is gedeeltelik daarvoor verantwoordelik dat inflasie hoër as die boonste perk van die teikenband is. Terwyl oliepryse hoog is het die pryse nie skerp gestyg nie, dus is meeste van die petrolprysstygings wat ons ervaar het aan die swak rand gekoppel. Die onlangse swakheid van die rand is aan risiko-vermyding gekoppel en aan beleggers wat ontluikende markbates verkoop as gevolg van eurogebied-probleme, nie as gevolg van Suid-Afrika se fundamentele ekonomiese faktore nie. Geadministreerde pryse2 sal steeds 'n opwaartse inflasie-risiko inhou. Om kragstasies te befonds sal Eskom nog 'n deel van die hoër tariewe wat hulle by die energiereguleerder aangevra het, byvoeg. Hierdie is hoofsaaklik kosteverhogende drukfaktore, m.a.w. deur die verskaffer eerder as deur verbruikersaanvraag veroorsaak, daarom sal 'n rentekoersverhoging nie baie effektief teen hierdie tipe inflasie wees nie.
'n Kommerwekkende situasie vir die SARB3 sal ontstaan mits hierdie prysstygings verwagtings van hoër salarisse skep wat op sy beurt loononderhandelings sal beïnvloed; en op dié manier sal die prysstyging-spiraal dwarsdeur die ekonomie veralgemeen word.
Wat van rentekoerse?
2012 gaan, tenminste vir die eerste helfte van die jaar, 'n jaar van inflasietoename en swak ekonomiese groei wees..Dit sal die SARB se taak bemoeilik. Lees 'n mens tussen die lyne is dit duidelik dat prysstabilitiet steeds die bank se hooffokus is. Die bank doen die regte ding om op inflasie te fokus aangesien hoër pryse almal negatief raak, veral lae-inkomsteverdieners; dus behoort die rande wat u aan die begin van die jaar het min of meer dieselfde aantal goedere aan die einde van die jaar te kan koop.
Huidiglik is die inflasiekoers vir laer-inkomsteverdieners 7.8%, goed bokant die nasionale gemiddeld. In die MBK4-verklaring is dit duidelik gestel dat die bank sy mandaat om prysstabiliteit te handhaaf sal verwesenlik onderwyl wêreldwye ekonomiese ontwikkeling en die potensiële impak daarvan op plaaslike markte, gemonitor word. Die MBK is terdeë bewus van die gevare wat die verslegtende eurogebiedkrisis inhou en die moontlike uitwerking daarvan op die wêreldwye en plaaslike ekonomie, asook inflasie. Indien nodig, sal die MBK optree, en moontlik selfs koerse sny.
