Die IMF1 het onlangs die wêreldwye ekonomiese vooruitsig vir 2012 en 2013 afwaarts aangepas weens kommer oor ’n moontlike resessie in die Euro-gebied. Dit sal ’n negatiewe impak op Suid-Afrika se groei-vooruitsigte vir die komende jaar hê.
Stadiger groei maar geen resessie
Met verlede maand se aankondiging oor rentekoerse, het die SA Reserwebank aangedui dat die BBP-vooruitskouing marginaal laer aangepas is aangesien wêreldwye groei steeds onseker was.
Ondanks die sombere wêreldwye vooruitsig, word daar nie op hierdie stadium verwag dat Suid-Afrika ’n resessie sal binnegaan nie. Verwagtings is dat die groeikoers vir die vierde kwartaal van 2011 verbeter het vergeleke by Q3, wat die jaarlikse groeikoers vir 2011 op 3% te staan bring.
Daar is baie faktore buite die beheer van die Suid-Afrikaanse owerhede wat plaaslike groei sal beïnvloed. Die mees ooglopende een is die agteruitgang in die Europese ekonomie wat ons op die gebiede van handel en finansiële markte sal beïnvloed.
Soos met die laaste resessie, sal ons die storm maar moet deurmaak; die groot verskil is dat daar nou nie meer baie opsies oorbly vir beide die monetêre en fiskale beleid om ’n skerp daling in groei te akkommodeer nie.
Regeringbesteding
Die fiskale beleid was tot dusver baie akkommoderend aangesien die regering meer spandeer het as wat uit belastinginkomste ontvang is. Gevolglik het die begrotingstekort na sowat 5,5% van BBP uitgebrei. Beleggingsbesteding wat in die ekonomie plaasgevind het, was hoofsaaklik afkomstig uit die publieke sektor. Private maatskappye het hulle geld teruggehou as gevolg van onsekerhede oor die ekonomie en regeringsbeleid. Die komende begrotingstoespraak sal deurslaggewend wees in terme van die regering se beleid tydens ’n ekonomie van dalende inkomste-invloei.
Rentekoerse ondersteun groei
Groei word nog steeds deur monetêre beleid akkommodeer en ondersteun. Die Reserwebank het rentekoerse in Januarie onveranderd gelaat; dis belangrik om daarop te let dat daar geen rede is om ’n verandering in die komende termyn te verwag nie. Dit beteken dat die koste om skuld te diens gunstig is vir verbruikers met hoë skuldvlakke, en hulle kan voortgaan om hulle skuld te delg. Die ekonomie beweeg in siklusse; die lae koers-siklus sal eindig wanneer die bank begin om sy beleid te verskerp, so diegene met hoë skuldvlakke behoort die huidige siklus tot hulle eie voordeel te ontgin.
Verbruikersbesteding benodig
’n Hoë skuldvlak is een van die beperkings wat verbruikersbesteding kortwiek; dis daarom belangrik dat verbruikers aanhou bestee om sodoende plaaslike vervaardigers, kleinhandelaars en ander diensverskaffers te ondersteun. Ongeveer 60% van BBP op bestedingsyfers bereken, is huishoudelike gebruiksbesteding.
Impak op spaarders
Terwyl lae rentekoerse voordelig is in terme van skuldverlaging, is dit nie voordelig vir verbruikers wat op rente-inkomste staatmaak nie. Dis belangrik om Suid-Afrikaners aan te moedig om te spaar, maar daar is geen twyfel dat lae rentekoerse seermaak nie. Wanneer ’n mens egter terugkyk na tye toe rentekoerse baie hoog was, is daar geen bewyse dat die swak spaarkultuur aan lae rentekoerse te wyte is nie.
Inisiatiewe soos die Suid-Afrikaanse Spaar-instituut se nasionale spaarmaand, mag moontlik ’n gebruiksverandering teweegbring. Die feit dat ’n deposito benodig word om groot items soos motors en huise te koop sal verbruikers ook dwing om te spaar.
Dis belangrik om deskundige raad te bekom vir die beste maniere om jou geld te belê wanneer inflasie aan die styg is en rentekoerse laag is.
Inflasie-vrese
’n Addisionele groei-risiko is die risiko van inflasie. Inflasie is die ander groot beperking op verbruikers se bestedingsvermoë. Dit is hoogs onwaarskynlik dat nominale lone teen dieselfde koers as laasjaar sal toeneem, wat beteken dat verbruikers se diskresionêre inkomste negatief geraak sal word.
Daar word verwag dat voedsel-inflasie wat oor die afgelope maande skerp gestyg het, binnekort sal afplat in lyn met internasionale voedselpryse. Dit beteken dat die skuld weer aan ou bekendes soos geadministreerde pryse en elektrisiteit gegee kan word, wat albei binnekort sal styg. Hierdie sal die laaste van Evkom se prysverhogings - wat drie jaar gelede aangekondig is - wees. Aangesien konstruksie van kragstasies nog steeds aan die gang is, is dit nie ondenkbaar dat Evkom die energiereguleerder vir verdere verhogings sal nader nie. Soos sake nou staan, word daar verwag dat inflasie in 2012 deurgaans buite die teikenveld sal bly en eers in 2013 weer na die teikenreikwydte sal terugkeer.
Die vooruitskouing vir verbruikers vir 2012 het nie noemenswaardig verbeter vergeleke met laasjaar nie, en sal hoofsaaklik die stadige pas van plaaslike groei weerspieël.
[1] Internasionale Monetêre Fonds
