By Rowan Burger: Liberty Beleggingstrategie

Sal jy genoeg geld hê om af te tree? Hoeveel behoort jy te spaar ten einde in jou goue jare gerieflik te kan leef?

 

Die aftree-enkelbedrag

Ten einde gerieflik te kan aftree, het ons na raming ‘n aftree-inkomste nodig wat gelykstaande is aan 75% van ons finale salaris. Om aan hierdie vereiste te voldoen, sal jy teen jou aftreedatum spaargeld ter waarde van sowat 16 keer jou jaarlikse salaris moet hê. Dus, as jou jaarlikse salaris in jou laaste diensjaar R500 000 was, sou jy beleggingsbates van R8 miljoen nodig hê om ‘n inkomste gelykstaande aan 75% van jou salaris te genereer.

Die drie sleuteldrywers in die bereiking van jou spaarteiken, is:

  1. hoeveel jy spaar;
  2. hoe lank jy spaar; en
  3. die opbrengs wat jy op jou belegging verdien.

Hoeveel om te spaar

Indien jy naby aan aftree-ouderdom is, is dit makliker om te bereken hoeveel jy sal moet spaar om jou doelwit te bereik, en hiermee kan jou Finansiële Adviseur jou help.

Jonger spaarders kan hierdie riglyne volg wat op aftrede teen ouderdom 60 gebaseer is:

Ouderdom waarop jy vir aftrede begin spaar

% van jou salaris wat jy behoort te spaar

25

15%

35

25%

45

47%

 

Hoe lank om te spaar

Die enigste manier om langer te spaar, is om aan te hou werk. As jy tot ouderdom 70 sou kon werk, sou jy jou aftreespaargeld aansienlik verbeter. Indien jy byvoorbeeld eers op ouderdom 40 begin spaar en op 60 wil aftree, sal jy ‘n yslike 43% van jou salaris elke jaar moet spaar. Indien jy aftrede uitstel tot ouderdom 70, hoef jy slegs 18% van jou salaris te spaar. Om langer aan te hou werk, dra ook by tot jou lewenskrag en langlewendheid.

As jy nie kan aanhou werk nie, beperk die onttrekkings uit jou aftreespaargeld. In die eerste vyf jaar van aftrede is dit kritiek om jou kapitaal onaangeraak te probeer laat. Terwyl die versoeking daar is om die maksimum bedrag te trek, moet jy eerder die gordel intrek tot jy die ouderdom van 70 bereik deur jou onttrekkings tot rondom 3% te beperk. Die meeste fondse lewer ‘n opbrengs van 3% na koste en inflasie. Deur jou onttrekking dus tot jou werklike opbrengs te beperk, sal jy verseker dat jou aftreefondse langer hou.

Die uitwerking van beleggingsopbrengste

Dit is belangrik om in ‘n fonds te belê wat na inflasie ‘n skaflike opbrengs verskaf. Dit beteken die fonds moet groei-bates soos aandele en eiendom insluit, hoewel regeringswetgewing die aantal aandele waarin jy kan belê, tot 75% beperk.

Volgens algemene persentasies word aanvaar dat jy in ‘n gebalanseerde fonds belê is, wat ‘n na-inflasie opbrengs van 4% lewer.

Indien jy in ‘n meer aggressiewe fonds belê met ‘n werklike opbrengs van 5%, sal jy 12% van jou salaris moet spaar. Jy sal egter verlief moet neem met die hoër onstabiliteit wat so ‘n fonds sou meebring.

As jy ‘n meer konserwatiewe fonds sou kies met ‘n werklike opbrengs van slegs 3%, sou jy van ouderdom 25 minstens 18% van jou salaris moet spaar.

Gegewe die feit dat ons ‘n tydperk ingaan wat na verwagting deur laer opbrengste gekenmerk sal word, is dit realisties om ‘n werklike opbrengs van 4% as mikpunt te stel. Enige hoër opbrengs moet as ‘n bonus beskou word.