Volgens navorsing deur Chandra Louise, ‘n bestuursdeskundige, is die rede by 80% van werknemers wat bedank, probleme met hulle base. Dit is nie ongehoord dat heelparty aan die einde van élke week gereed voel om te bedank nie. Stacey het – sy het haar jaareindbonus ontvang en opnuut die geklassifiseerde advertensies begin dophou, haar resumé opgedateer en tydens gesprekke laat deurskemer hoe sy voel. Sy het binne ‘n maand ‘n aanbod ontvang en bedank.
Maar was daar werklik niks meer wat sy kon doen nie?
Net soos in ‘n huwelik, is die baas-werknemerverhouding een waaraan gewerk moet word om dit te laat hou. Die beste spanne is gewoonlik dié met langtermyndiens, soos enige bestuurder sal bevestig. En, soos ‘n huwelik, is dit ‘n verhouding wat die beste werk wanneer daar net soveel gegee as geneem word.
Hier is wat jy kan doen om jou en jou baas nader aan mekaar te bring.
1. Moenie doekies omdraai nie
Indien jy dink dat jy besig is, is jy waarskynlik nog nie gereed om jou baas se plek in te neem nie. Onthou dat hoe hoër jou aanstelling in die organisasie is, hoe minder doen jy met jou hande. Dit is jou verstand wat werk. Dus, hoewel dit mag lyk of sy hande ledig is, wees gerus in die wete dat sy brein baie besig is. Wanneer jy hom oor iets gaan spreek, moenie sy tyd met onbenullighede mors nie. Maak seker dat jy ‘n lys het van alles waaroor jy hom wil spreek, en merk die punte af tydens die gesprek. Hy sal dit waardeer dat jy sy tyd respekteer en hy sal die boodskap kry dat jy op die werk gefokus is.
2. Moenie op die verdediging wees nie
Die onvermydelike wrywing wat tussen ‘n baas en ‘n werker ontstaan, begin gewoonlik wanneer die baas die werker se prestasie kritiseer. Jou spontane reaksie is om jouself te verdedig, veral indien jy jou beste gelewer het. Maar om op die verdediging te wees beteken dat jy swig voor jou emosionele instinkte, wat tot trane kan lei indien jy nie versigtig is nie. Dit is belangrik dat jy ‘n helder, objektiewe ingesteldheid behou wanneer jou baas jou oor iets aanspreek. Luister weer na alles wat hy gesê het – is dit geregverdig? Oorweeg net die moontlikheid dat hy miskien – net miskien – reg kan wees.
3. Wees taktvol
Dikwels wil base iets gedoen kry sonder om geld te spandeer en verhoog jou werkslas sonder dat jou salaris toeneem. Dit is baie onregverdig, soos ons almal weet (jou baas waarskynlik ook), maar moet jy dit onmiddellik sê? Dit kan beteken dat jy jou baas van uitbuiting beskuldig, iets wat hy heel moontlik nie baie goed sal hanteer nie… veral indien hy nie die een is wat jou salaris goedkeur nie. Indien hy nie kan beïnvloed hoeveel jy betaal word nie, watter doel dien dit om die wêreld vir hom warm te maak? Verduidelik net beleefd dat jy alreeds te veel hooi op jou vurk het en dat jy nie dink dat jy die taak wat hy voorstel baie goed sal kan uitvoer nie. Onthou dat jou baas waarskynlik sy eie baas het om in ag te neem en dat hy die meeste van die tyd slegs instruksies deurgee.
4. Erken jou baas se sterk punte
Tensy jy in ‘n familie-bestuurde besigheid werk, het jou baas waarskynlik sy huidige aanstelling gekry omdat hy oor ‘n spesifieke vaardigheid of kwaliteit beskik. Miskien is dit sy buitengewone vermoë om ‘n bedrieglike transaksie raak te sien. Miskien is dit sy vermoë om elke vooruitsig in ‘n transaksie om te skakel. Miskien is hy uiters suksesvol in die bestuur van groot projekte. Wat dit ook al is, hy is daar vir ‘n doel. Hy is dalk nie perfek nie – geen baas is nie – maar probeer nogtans sy sterk punte raaksien en waardeer hulle. Gebruik hulle wanneer jy ook al kan – dit is waarvoor hy daar is. Deur dit te doen sal jy nie net sy of haar ego ‘n broodnodige hupstoot gee nie, maar ook van die meester self leer.
5. Moenie voorbarig wees nie
Een van die mees algemene klagtes wat werkers oor hul base het, is dat hulle nie dít ontvang wat hulle nodig het om hul werk beter te doen nie – meer bronne, groter begrotings, nuwer rekenaars. Nogtans moet jy verstaan (nogeens, veral indien jou baas sy eie baas het om in ag te neem) dat al hierdie dinge die maatskappy geld kos. Onthou dat jou baas oor kennis mag beskik waarvan jy nie bewus is nie – soos dat die maatskappy moontlik duur uitbreidings beplan en die fondse daarvoor benodig word. Dus, hoewel ‘n tydige herinnering van tyd tot tyd in orde is, is dit belangrik dat jy nie die grens na voorbarigheid oorsteek en as ‘n klakous gebrandmerk word nie.
6. Luister net soveel as wat jy praat
Ernstig, wanneer laas het jy geluister na wat jou baas te sê het? Die versoeking is groot om te dink dat base niks van ons werk weet nie, en dat die maatskappy ten gronde sal gaan indien ons nie daar is nie. Moenie dwaas wees nie. Jou baas sien dinge uit ‘n heel ander perspektief. Indien jy dink dat hulle niks beter het om te doen as om jou werksvermoë te kritiseer nie, dink weer. Dit is veel makliker om jou net te vervang. Begin luister en jy kan jouself van ‘n klomp probleme vrywaar.
7. Los konflik vinnig en stilweg op
Net soos argumente tussen eggenotes, laat verskille wat nie vroeg opgelos word nie wonde wat ontsteek en permanente letsels laat. Indien daar ‘n konfliksituasie was, en sommige van jou opmerkings nie ten volle geregverdig was nie, sluk jou trots vir twee sekondes en erken dat jy verkeerd was. Dit is grootmoedig om dit te doen, en jou baas sal jou volwassenheid daarin raaksien.
Maar dis nie al nie. Jy behoort ook te verseker dat jy stilweg met jou baas vrede maak. Niemand hou daarvan indien daar van hulle agter hul rûe gepraat word nie. Dit maak seer en is nydig. Hoe minder mense daarvan weet, hoe beter. Wat my by die volgende punt bring.
8. Moenie ‘n skinderbek wees nie
Die Kantoorskinderbek is nie ‘n aangename titel om te hê nie, en tussen alle tipe werknemers is dit die soort wat organisasies die minste nodig het. Navorsing deur die sielkundige, Brian DesRoches van Seattle in die VSA, het bevind dat kantoortydverdrywe soos skindery, rugstekery, klaery en om jou eie bas te beskerm tussen 20 en 50% van werkers se tyd verkwis. Dus, indien jy reeds by ander mense oor jou baas kla, hou op. Indien jy dit nie doen nie, moenie begin nie.
9. Moenie kleinlik wees nie
Een van die irriterendste soorte werkers wat ‘n baas kan hê is dié wat oor alles kla, van die louwarm koffie tot die verlepte varings in die portaal. En, asof dit nie erg genoeg is nie, bring dié persoon sowaar die dinge in vergaderings te berde. Dikwels is dié soort werkers as kinders bederf en is hulle gewoond daaraan om hulle sin in alles te kry. Maar, indien jy wil hê jou baas moet jou respekteer, weerhou jouself daarvan om hom te versoek om Waterman-balpuntpenne vir kantoorgebruik aan te skaf “omdat jy daarvan hou”. Dit is kleinlik en kinderagtig, en indien jy nie daarvan hou nie, is jy welkom om pad te gee. Jou baas sal slegs ‘n sug van verligting slaak.
10. Jou baas het ook behoeftes
Verrassing, verrassing, jy is nie die enigste een wat ‘n werk het om te doen en rekeninge om te betaal nie. En jy is dalk ook nie die enigste een wat vind dat jou loopbaan in ‘n doodloopstraat is nie. Net soos jy werksbevrediging nodig het, het jou baas dit ook nodig; selfs in ‘n nog groter mate indien hy ‘n baas van sy eie het, wat hom ‘n werker net soos jy maak. Moenie die lewe vir hom warm maak tensy hy dit regtig verdien nie – daar is baie min verskil tussen julle twee. Net soos jy, probeer hy binne sy vermoë die beste doen. Dus, waarom sal jy dit teen hom hou?
Is jy ‘n slegte baas?
Volgens navorsing deur Cyndi Maxey, skrywer van Training from the Heart, is jy ‘n slegte baas indien jy:
- Jou werkers in die openbaar in die verleentheid stel
- Nie werk maak van jou werkers se voorstelle nie
- Lof weerhou
- Behoeftes aan professionele groei ignoreer
- Onrealistiese ordereëls vereis
- Vaag en indirek is
- Wys dat jy nie omgee nie
- ‘n Alweter is
- Die verskille tussen individue ignoreer
- Nooit om verskoning vra of jou foute erken nie
|
|