JJ, nou 80, het 32 jaar gelede afgetree, nogtans is hy anders as so baie van sy vriende, finansieel geborge. “Ek skerts soms met my vriende dat ek baie bekommerd is oor ek niks het om oor bekommerd te wees nie,” lag JJ wat sy aftreejare deurgebring het deur wêreldwyd te reis.
“Dit is net gedurende die afgelope paar jaar dat ek vir my gesondheid moes ophou reis. Ek leef steeds slegs op ongeveer die helfte van die inkomste wat ek op my beleggings verdien,” sê JJ wat nou reeds langer afgetree is as wat hy ‘n inkomste verdien het.
“Sy beleggings in die vroeë 1970’s het tot so ‘n groot bedrag gegroei dat hy in sy laat 40’s kon aftree op die inkomste uit die bedrag waartoe sy kapitaal gegroei het. Hy is ‘n lewende bewys daarvan dat om in jouself te belê en kitsbevrediging uit te stel, ‘n sorgelose lewe in die toekoms verseker,” sê JJ se finansiële adviseur by Liberty, Philip Kassel.
Die geheim van JJ se sukses is hoegenaamd geen geheim nie – hy het net die drie basiese finansiële reëls gevolg – leef binne jou vermoë, vermy skuld en begin vroeg in jou lewe spaar.
“Ek het dit by my ouers wat in die Groot Depressie grootgeword het, geleer. My familie was arm en ek het vandat ek 12 jaar oud was oor naweke en tydens skoolvakansies begin werk. Teen die tyd dat ek my skoolloopbaan voltooi het, het ek reeds £100 gespaar, wat in daardie dae ‘n klomp geld was,” sê JJ.
Betaal jouself eerste
Vanaf sy eerste salaristjek het JJ ten minste 25% van die bedrag wat hy uitgekry het gespaar, meestal in aftree-annuïteite.
“Mense vergeet hoe straf belasting in die 1970’s was. Selfs op my salaris het ek as ‘n alleenloper 50% aan belasting betaal. Ek was toegelaat om belastingvry geld in aftree-annuïteite te plaas en ek het dit ten volle gebruik. Dit beteken dat 50% van die geld wat ek weggesit het, uit die regering se sak gekom het,” sê JJ.
Moenie jou geld vir die bank gee nie
JJ het altyd kontant betaal. Behalwe vir sy huis het hy nooit iets op skuld gekoop nie, en hy het seker gemaak dat hy sy huis so vinnig as moontlik afbetaal.
“Ek het altyd met kontant geleef. Ek glo ‘n mens moet rente verdien, nie betaal nie. Die meeste mense besit nie eens hulle besittings nie. Hulle huis en motor behoort aan die bank en hulle meubels aan die handelaars. Deur op skuld te koop, betaal jy dubbel vir alles,” sê JJ wat byvoeg dat hy onlangs sy eerste kredietkaart uitgeneem het om hospitaalrekeninge te dek. “Indien jy hospitaal toe gaan vir ‘n noodgeval wil hulle die geld vooruit hê. Jy het nie tyd om die geld oor te plaas nie, dus hou ek ‘n kredietkaart om daardie rede, maar ek betaal dit altyd ten volle, anders kos dit my 20% aan rente.”
Leef binne jou vermoë
JJ glo die sleutel tot geluk is gemoedsrus. “Mense glo dat die doel is om besittings bymekaar te maak, maar jy kan niks saamvat wanneer jy hierdie wêreld verlaat nie. Die enigste ding wat belangrik is, is goeie gesondheid en ‘n skoon gewete – daarsonder is die lewe hel,” sê JJ wie se gebruiksreël is dat jou vaste uitgawes nie meer as 50% van wat jy van jou salaris uitkry behoort te wees nie. “Indien dit meer is, is jy arm. Jy kan baie gelukkiger wees in ‘n beskeie woonbuurt in ‘n beskeie huis eerder as om bo jou vermoë te leef en die hele tyd oor geld bekommerd te wees. Jou doel behoort te wees om jou geld vir jou te laat werk, nie dat jy vir geld werk nie.”
Verhoed kitsbevrediging
Deur skuld te vermy en te spaar vir wat hy wou hê, het JJ ontdek dat dit wat hy gedink het hy wil hê dikwels nie regtig was wat hy wou hê nie. “Ek het meermale in my lewe ondervind dat wanneer ek iets sien wat ek wou hê en daarvoor begin spaar, ek dit teen die tyd dat ek die geld het nie meer wou hê nie,” sê hy.
Wanneer mense op skuld koop, vind hulle dat die rekeninge baie langer aanhou as die vreugde van die aankoop. Tyd het ‘n manier om vir ons te wys wat regtig vir ons belangrik is.
Geniet nogtans die lewe
Hoewel JJ gehou het by sy filosofie om geld weg te sit en krediet te vermy, het hy steeds voluit gelewe, wat reise vanaf ‘n jong ouderdom ingesluit het. Sy passie vir reis het gehelp om hom gemotiveerd vir sy finansiële doelwitte te hou, wat aan hom die finansiële vryheid gegee het om te reis.
“Ek het begin reis toe ek 24 jaar oud was. Ek het in in ‘n kano die Amasone afgevaar toe ek 25 jaar oud was. Die fout wat mense maak is om hulle drome uit te stel totdat hulle aftree – na hulle klaar gestudeer, getrou en kinders grootgemaak het. Maar teen daardie tyd het jy heel moontlik nie meer die energie nie en kos alles tien keer duurder. Jy moet lewe vir vandag.
|